Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Cas Wepener: Kersfees en ’n Ma se Mahala


Daar is wysheid ingebed in die gee en ontvang van geskenke, skryf Cas Wepener. En eerder as wegdoen met geskenke, kan die klein Kersritueel dalk herverbeel word.

 

Wanneer ek vinnig my kantoor of huis verlaat en besef ek het nie my beursie by my nie, voel ek dikwels ontwapen. Daar is dan dinge wat ek nie kan doen nie, soos om koffie of middagete te koop. Ek verloor so ’n klein bietjie van die beheer wat ek gewoonlik het en word dus meer afhanklik. 

’n Mens sien iets hiervan in Anglikaanse eredienste, deesdae ook meer in NG eredienste, waar lidmate ’n ry voor die altaar vorm om die brood en wyn te ontvang. Wanneer jy by die priester kom, kruis jy jou hande en hou dit oop voor jou. Jy kan nie daardie brood vat nie, jy kan dit net ontvang, wat nog te sê koop. Dan kyk die priester jou reg in die oë en sê: “die liggaam van Christus vir jóú”, waarna sy die brood op jou handpalm plaas. Indien die priester jou ken, voeg sy jou naam by. En, belangrik, dit maak nie saak hóé kredietwaardig jou bank jou ag nie, al die geld in die wêreld kan nie daardie stukkie brood koop nie.

LEES OOK | Cas Wepener: Om ironie en religie dig by mekaar te kan hou

Geborg

Soos iemand sonder ’n beursie en mense in ’n ry voor die Nagmaaltafel, so was die Israeliete in die Sinaïwoestyn. Geen inkopiesentrum teen die hang van Horeb nie. Geen Engen 1 Stop-winkel op die grondpad anderkant die Rietsee nie. Geen Quick Spar in ’n tentedorp nie. Ook geen SnapScan of kredietkaarte of kontant nie. Maar, belangrik, dit is juis ook met sulke tye wanneer mense besef hulle is vreemdelinge, kinders van Jakob, swerwende Arameërs. My beursie mag my laat voel dat ek in beheer is, maar ek misgis my. En dit is dan wanneer hande kruis en bakhand gehou word. En dit is ook wanneer mense dikwels begin kla. Brood word benodig, maar dit sal uit die hemel moet kom, want dit moet mahala wees.

In The God who provides skryf Juliana Claassens oor die God van Eksodus wat vergelyk kan word met ’n versorgende Moeder. ’n Ma wat daagliks vir haar kind borsmelk gee. Só kom die manna, daardie “wat is dit?”, op ’n gereelde basis vir hierdie klomp swerwers sonder beursies. Jy kan dit nie koop nie. Jy kan dit nie opgaar nie. Jy kan dit net kry. Jy bly dus bakhand. Jy ontvang dit ritmies op die tye wat jy dit benodig. Soos ’n ma met vaste voedingstye borsmelk vir haar baba gee, so word dit voorsien. Claassens wys op die interpretasiegeskiedenis van die manna, hoe Nehemia en die Psalms na die manna as brood uit die hemel en brood van die engele verwys.

LEES OOK | Cas Wepener: Geloofsvorming en ‘om te word wie ons is’

Manna is vreemd. En die vreemdste daarvan in ons eie dag, is dat dit verniet is. Ek kan dit nie koop nie en ook nie opgaar nie. As dit nie mahala is nie, is dit nie manna, ook nie brood uit die Groot Boland of panis angelicus nie.

In ’n verbruikerskultuur het die gee en ontvang van geskenke met Kersfees soms al die teenoorgestelde implikasies gehad as wat die bedoeling is en eintlik net verbruikerisme aangeblaas. Gevolglik is dit verstaanbaar dat baie mense baie krities raak oor die gee en ontvang van geskenke.

En tog, tog is daar wysheid ingebed in die gee en ontvang van geskenke. En eerder as wegdoen met geskenke, kan die klein Kersritueel dalk herverbeel word. Kan die saam-wees om die Kersboom in die gees van die brood uit die hemel in die Sinaïwoestyn en die bakhande by die Nagmaalstafel bedink word. Kan ons mekaar opnuut in die oë kyk wanneer ons gee en ontvang. Wanneer die ontvanger vra “wat is dit?” is die antwoord “dit is vir jóú” en, belangrik, “dit is verniet, jy kan dit kry, maar jy kan dit nie by my koop nie”.

LEES OOK | Cas Wepener: Oor ruimtes en rolle

Geborg

Dalk ontdek ons opnuut in hierdie klein Kersritueel van gee-en-ontvang “The God who provides”, daardie Moedergod wat deur die millennia daagliks haar kinders borsvoed. En wat met die eerste Kersfees vir die wêreld ’n Geskenk gegee het. ’n Baba. Een wat ook op vaste tye geborsvoed is. Dalk ontdek ons so dat die waarde van geskenke in ’n verbruikerskultuur is dat ons iets verniet weggee, maar belangriker nog, dat ek die geskenke wat ek ontvang, nie koop nie, en juis ook nie moet probeer koop nie.

Wanneer ons met Kerstyd ons beursies wegbêre en geskenke van ander met ’n oop handpalm ontvang, sien ons dalk opnuut in daardie klein gebaar wat dit vir die grootste gros van die Suid-Afrikaanse bevolking wat in armoede leef beteken om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”; sien ek duideliker myself met my beursie en hoe ek die rol van verbruiker beliggaam; en sien ek in hierdie Kersritueel miskien ook iets van ’n Ma se Mahala: “vir mý, vir jóú, vir óns”.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.