Dit is ’n onderwerp wat kerke dikwels vermy. Maar by ’n onlangse, aweregse simposium in Nederland, kom die hel in die kollig. Cas Wepener was daar.
“die pad na die paradys begin in die hel” – Dante Alighieri
Knap voordat ek met ’n werksbesoek na Nederland vertrek, ontvang ek ’n WhatsApp-boodskap van ’n kollega in Leiden: “Ik meld je aan voor de hel.” Ek antwoord: “Sien jou daar.”
’n Week later leun Petra, vermoedelik Petrus se eweknie aan die oorkant, vooroor, leesbril op die brug van haar neus en die wysvinger gly oor rye en rye alfabeties gerangskikte naamkaartjies op die tafel voor haar. Uiteindelik spoor sy hom op en knip aan my lapel “Wepener – De hel” vas; stop ’n program vir die hel in my hand en begin dadelik om ’n volgende persoon te help. Dit gaan druk in hierdie ontvangslokaal.
LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem
Rondom my versamel ’n klein skare, almal geregistreer, geëttiketteer en bestem vir die hel en saam beweeg ons deur groot dubbeldeure soos deur ‘n poort. Daar is gewyde musiek, stemme wat fluister, mense hoes gedemp, bykans soos met die aanvang van ’n Dopper- of oudtydse NG erediens. Ek is goed bekend met voorstellings van die hemel – goue strate, pêrelpoorte en al daai – maar minder so met die hel wat dus vir my iets meer van ’n misterie inhou. Om nie eens te praat van die opwinding oor wie ek almal daar gaan aantref nie! Ik ben benieuwd.
Anderkant die hel se poorte herken ek heelwat gesigte. Ek is nie verbaas om te sien dat die plek stampvol teoloë is nie; ook ’n romanskrywer (voor by ’n tafel eien ek Arnon Grünberg); nog kunstenaars en, wil jy nou meer, Liesbeth van Es, ’n harpspeler. Ek kyk na Liesbeth, dan terug oor ’n see domineekoppe wat soos kobbelstene die besondere poort tussen my en Petra plavei – Petra moes tog sekerlik hier ’n fout begaan het. Teoloë en fiksieskrywers in die hel, ja seker, maar ’n harpspeler? Dan val dit my by, natuurlik, God het ’n besondere sin vir humor, ook vir ironie; en die Bybel is deurtrek daarvan – laastes is eerste, onsin is wysheid, rykes is arm en armes ryk.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Johan Robyn: ‘Ek sou sê, gooi die deure oop, nooi almal in …’
Dit is in die Bybelboek Job waar Job vir sy drie vriende – Elifas, Bildad en Sofar – wat knaend is dat Job iets verkeerd gedoen en dit die rede vir sy ellende is en waarmee Job nie saamstem nie, uiteindelik sê (en ek sien ’n skalkse glimlag in een mondhoek terwyl Job praat): “werklik, julle is die enigste mense wat iets weet, met julle sterf die wysheid uit.” Dan is daar die dramatiese ironie van Josef wie se broers hom verkoop, voorgee dat hy dood is, maar die einste Josef red hulle lewe. Haman bou ’n galg vir Mordegai, maar dit is Haman wat daardie einste skavot moet bestyg. En, natuurlik, die profeet Natan wat vir koning Dawid vertel van die ryk man met baie vee wat niks uit sy eie groot kudde wil slag nie, maar die arm man wat net een ou ooilammetjie het se lam vat en vir homself slag. Wanneer Dawid woedend reageer op die ryk man se wrede optrede en sê dat daardie ryk man die dood verdien, hou Natan net ’n spieël op vir Dawid – só lyk hy.
Die bladsye van die Bybel wemel van die ironie en ironie behoort tot die wese van religie. Iets so kru soos sarkasme weer nie, sarkasme hoort, wel, in die hel, maar ironie wat knap aangewend word kan iets van die hemel op aarde laat deurskemer. Daar kom tye wanneer ironie en religie soos ’n “horse and carriage” en “love and marriage” pas – “this I tell you brother, you can’t have one without the other”.
Godsdiens is geen grap nie, maar dis nie hier die punt nie. Mooi humorryke en ironiegevulde godsdiens dien nie net die hiernamaals nie, maar juis ook die hiermaals, soos die digter Lina Spies na die lewe op aarde verwys. ’n Klein dosis ironie in kombinasie met religie is medisyne wat help met ’n gebalanseerde lewe, want ’n goeie skeut ironie help ’n mens saamleef met die paradokse van ons bestaan, of met ons bestaan as ’n paradoks – en om só binne spanninge as kreatiewe kragte die lewe te probeer navigeer.
LEES OOK: Hoe om oor verskille te dink
’n Goed ontwikkelde ironiese lewensgerigtheid dien gesonde godsdiens. Net so dien gesonde godsdiens ’n ironiese lewensingesteldheid. Dit help met daardie broodnodige weer-kyk, met interpretasie, met onder die oppervlak soek. Soos Marthinus Nijhoff tereg geskryf het: “Lees maar, er staat niet wat er staat.” Ironie en religie help die mens floreer ten spyte van sy drumpelbestaan en die feit dat floreer en voorspoed nie sinonieme is nie omhels. Godsdiens, byvoorbeeld die Christelike godsdiens, maak van die mens ’n drumpelmens, ’n reisiger, ’n swerwende Arameër en kind van Jakob wat in hierdie lewe nooit gaan arriveer nie, selfs al speld Petra vir jou ’n naamkaartjie met ’n bestemming daarop aan. ’n Drumpelmens is ’n balanseerder, iemand wat ook in die tussen-in tye en tussen-in plekke van die lewe kan wéés, mens kan wees. En ’n ironiese gelowige is een wat kan insien dat daar dikwels in ons drumpelbestaan tye kom wanneer blindes die waarheid beter kan sien as diegene met 20-20 visie en wat in die woorde van Sheila Cussons weet dat modder gemeng met spoeg “heilige modder” kan word.
Diegene wat ironie en religie dig by mekaar kan hou, kyk nie net anders na die lewe en die werklikheid rondom hulle nie, maar ook anders na die inhoud van godsdiens. Hulle is oop en onbevange, nie alte maklik bedreig deur dit wat dalk die rede uitdaag nie en weet saam met Blaise Pascal dat die hart redes het wat die rede geen snars van weet nie. Dit is omrede soveel teoloë weet dat religie en ironie lepel lê, dat daar so geredelik vir hulle ’n “De hel” kaartjie in die hiermaals aangespeld word deur fundamentaliste wat geen sin vir goddelike humor, wat nog te sê ironie, het nie.
Religie en ironie, wanneer dié twee saam die lense van die bril word waarmee ek die lewe lees en godsdienstige tekste leef, ontstaan die moontlikheid dat modder heilig word en, al word ek in die hiermaals aangemeld vir die hel, ek dalk ook ’n hemelse harpspeler daar mag aantref.
In sy “Groot Ode” bied Van Wyk Louw raad wat in ons dag nodiger as ooit is: “niemand tref dit móói met die heelal nie/ eintlik moet ons leer ironies lewe/ en: binne ironie nog liefde hou.”
Symposium – De hel is op ’n laatsomermiddag in ’n kerk in Utrecht met ’n borrel afgesluit, soos die Nederlanders na skemerkelkies verwys. Diegene wat nie van wyn, fiksie, kuns en harpspelers hou nie, o ja, en van dominees, sou nie tuisgevoel het in die hel nie.
Die boeiende referate wat in die hel gelewer is kan hier gratis afgelaai word: https://www.pthu.nl/actueel/nieuws/2023/09/de-hel-herontdekt-lezingen-bij-symposium/?utm_source=nieuwsbrief&utm_medium=email&utm_campaign=Event
- Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is ’n romanskrywer.