Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die aangrypende Millennium-trilogie, geskryf deur die Sweedse joernalis Stieg Larsson, vertel die verhaal van Lisbeth Salander – The girl with the dragon tattoo (2005), The girl who played with fire (2006), The girl who kicked the hornets’ nest (2007) – wat ’n slagoffer is van ’n reeks vergrype, insluitend verkragting, aanranding en poging tot moord. Sy word groot in ’n huis waarin haar pa haar ma gereeld aanrand, en word as ’n klein dogtertjie toegesluit in ’n psigiatriese hospitaal nadat sy verkeerdelik gediagnoseer word met psigopatie en skisofrenie.

Salander is egter baie meer as net ’n slagoffer van gendergebaseerde geweld. Sy neem die reg in eie hande en neem wraak op haar (en ander vroue wat verkrag en vermoor word) se oortreders. Haar sosiale vaardighede is swak, maar sy is terselfdertyd slim, selfstandig, en ontferm haar deurgaans oor diegene wat vertrap, verneder en geboelie word.

LEES OOK: Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober

Dit is opvallend dat Larsson, wat in 2004 aan ’n hartaanval oorlede is (kort voordat sy boeke in Swede gepubliseer is), daarop aangedring het dat die eerste boek – in Engels bekend as The girl with the dragon tattoo – se Sweedse titel Män som hatar kvinnor behou moes word. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy geweier het dat hierdie boek gepubliseer word onder enige ander titel. Die titel waarop hy sou aandring is “mans wat vroue haat”.

Duidelik het Stieg Larsson en sy lewensmaat Eva Gabrielsson iets onheilspellend raakgesien in ’n samelewing wat op die oog af baie verdraagsaam, vriendelik en veilig vir vroue lyk. Vir ’n land wat gekenmerk word deur van die mees gelyke (en vrou-vriendelike) wetgewing ter wêreld, is die statistieke van gendergebaseerde geweld – wat Larrson in sy boeke aanhaal – angswekkend.

LEES OOK: Brief: Moenie mediasie met arbitrasie verwar

Dit is juis die punt, in hierdie boekereeks: op die oppervlak lyk dit asof vroue gelyke kanse ontvang, en hulleself in professionele beroepe as joernaliste en besigheidsmense en polisiebeamptes onderskei, maar inderwaarheid is daar in elkeen van die vrouekarakters se lewe mans wat hulle haat – en wat enigiets sal doen om hulle te verneder en te ondermyn.

Dit is opvallend – in ons gesprekke oor reproduktiewe gesondheid, en aborsie spesifiek – hoe vinnig en maklik dit wat ons werklik van vroue dink en vermoed na die oppervlak borrel. Eintlik is dit baie meer as opvallend: dit is vreesaanjaend om te hoor hoe een enkele woord, naamlik “aborsie”, in ’n kerklike gesprek die opening bied vir elke haatlike gedagte en vermoede oor vroue – uiteraard as morele en godsdienstige vroomheid vermom – om verwoord te word. Meteens kan enigiets oor vroue gesê en geïmpliseer word: ongeag hoe verregaande en belaglik, hoe onrealisties en onmoontlik, hoe liefdeloos en genadeloos, en hoe ongenaakbaar hard ook al.

Wanneer ons vanuit die staanspoor byvoorbeeld antisipeer dat vroue roekeloos (wil) seks hê, dat vroue nie getraak kan word deur die nuus dat hulle swanger is nie, dat swanger vroue aborsie as ’n maklike en eenvoudige oplossing vir ’n moeilike of ongewensde swangerskap sien, dat vroue bereid is om enigiets te doen om van ’n fetus ontslae te raak, dat vroue inderwaarheid die potensiaal het om fetusmarteling en babamoord te pleeg, sê dit meer van ons en ons vrouehaat as wat dit enigiets waar of reg of hoegenaamd realisties van vroue se komplekse en diep menslike ervarings en dilemmas en keuses en worstelinge reflekteer.

LEES OOK: Nadia Marais oor Afrikaans as geloofstaal: Praat ek mense-, eng’letale

Wanneer ons daarmee saam met min na geen kennis ván vroue se liggaam (erger nog: dalk selfs ’n totale gebrek aan belangstelling of afgryse ín vroue se liggaam) ’n gesprek probeer voer óór vrouens se liggaam en óór die dikwels onmoontlike situasies en keuses waarmee vroue gekonfronteer word, behoort ons ernstig onsself af te vra waarmee ons werklik besig is.

’n Besonder slegte begin aan so ’n gesprek sou wees waar vroue bloot nie voldoende teenwoordig is om selfs net die mees basiese waarhede oor hulle eie liggaam te kan verwoord nie – soos wanneer slegs 32% van afgevaardigde kerkraadslede na ’n Algemene Sinode waar aborsie bespreek gaan word vroue is, waar slegs 17% van afgevaardigde leraars vrouepredikante is, en waar daar minstens twee streeksinodes is wat nie een enkele vrouepredikant as leraar afgevaardig het nie.

Hoe anders verloop die verhaal van die vrou, wat ons slegs ken as “die owerspelige vrou”, van Johannes 8:1-11 daarteenoor egter nie. Hierdie naamlose en stemlose vrou word verneder en verketter deur die vroom en regsinnige Skrifgeleerdes wanneer hulle haar – maar nie haar manlike medepligtigte(s) nie – aankla van owerspel. In hierdie regsproses word sy geen kans gegun word om enigiets te sê nie: selfs nie eens om skuldig of onskuldig te pleit nie. Wanneer Jesus haar ’n stem gee, deur haar vrae te vra waarop sy kan reageer, gebruik sy haar stem om Jesus aan te spreek – dalk sou ons selfs kon sê bely? – as Here (kurios, in Grieks).

Wat ’n enorme verskil maak ’n stem nie, né.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as leraar gekoppel aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem”

  1. Bertus van Schalkwyk

    Wat van die weerlose, ongebore baba wat nie ‘n “stem” het nie?
    —-
    Terwyl dit waar is dat vroue se stemme in die verlede onderdruk was en dat ons moet besef dat ons moeite moet doen om vroue se stemme te hoor, is dit net so belangrik dat vroue sal besef hul uniek geskep is, nie net met die “wonder” voorreg nie maar ook met die verantwoordelikheid teenoor die Skepper God, om ‘n kind (of kinders) in haar liggaam te dra vanaf bevrugting tot geboorte.

    Elke mens, ongeag van die stadium van ontwikkeling, het die reg om te lewe. Die wat pro-aborsie is, het besluit dat lewe eers begin wanneer die baba gereed is vir geboorte. Volgens hulle is die ongebore baba nog nie geregtig op lewe nie, kan kies nie (LW … het nie ‘n stem nie) en omdat die ma die baba dra, het die ma die reg om te kies of die baba mag leef of sterf.

  2. Kinders kan verwek word binne ‘n liefdevolle Bybelse huwelik. Soms word gebeur dit buite die huwelik (beplan of onbeplan); dit kan ook gebeur deur verkragting of wat Dr Marais noem, “roekelose seks”. Volgens Jer. 1:5 ken God ons voordat Hy ons in die moederskoot vorm. Ps. 139:13–16 vertel hoe kunstig God ons ongevormde klomp weef in die baarmoeder. In Lukas 1:41 lees ons dat die ongebore Johannes die Doper in Elisabet se moederskoot beweeg, die oomblik toe die swanger Maria haar groet.

    Op watter manier ‘n kind ook al verwek word, alle lewe is heilig en moet gekoester word. Aborsie het al bestaan in die tyd van Hippokrates, wat in die 5de eeu na Christus geleef het . Hy het aborsie in sy eed verbied. Aborsie word nie die Bybel genoem nie maar wat wel genoem word, is dat ‘n mens nie mag doodmaak nie (Eks 20:13). Ook lank voor die Tien Gebooie sien ons dit in God se veroordeling van Kain vir die moord op sy broer Abel. Self landswette verbied doodmaak met voorbedagte rade. In Matteus 7:12(a) vind ons die woorde van Jesus: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen”. Dit geld tog seker ook ‘n ongebore kindjie?

    Gereformeerde gelowiges behoort ten minste die heel eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus te ken: Vraag 1: Wat is jou enigste troos (hoop) in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Elke ongebore kindjie behoort nie aan aardse ouers nie, maar aan hulle Skepper.

    Dr Marais se aanvalle op mans en wat hulle doen is kwalik verbloem. Haar fokus is hoofsaaklik op die “stemlose vrou (wat) verneder en verketter (word)” en as voorbeeld noem sy “die owerspelige vrou” van Johannes 8:1-11. Waar is die pleidooi vir ’n stem vir die WARE stemlose, die mees weerlose van weerloses, ’n ongebore kindjie geskape na die beeld van die lewende God?

  3. Baie dankie aan Nadia! Jou stem het my spontaan laat trane stort!

    ‘Gelukkige paartjies’ maak my gelukkig want hulle lei ‘gelukkige gesinne’ waaruit ‘gelukkige gemeenskappe’ spruit.

    Sal wonderlik wees wanneer man en vrou besef hulle speel dubbels; aan dieselfde kant van die ‘tennisbaan’…

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.