Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lede van die taakspan wat besig is om ’n “Bundel vir gesprekvoering oor Aborsie” te ontwikkel, het op Dinsdag 15 Augustus tydens ’n sitting van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) terugvoer gegee oor hoe hierdie en ’n rits ander verslae oor etiese kwessies vorder. In die foto hierbo verdaag afgevaardigdes ná een van die sessies op die eerste dag van die saamkoms wat tot 16 Augustus duur. Foto's: Le Roux Schoeman

Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober

Die stemme van vroue, die kuns van luister, Suid-Afrika se unieke konteks en die sensitiwiteit van die saak self.

Dit is vier “kontoere” vir gesprek oor aborsie wat in Oktober in Johannesburg by die sitting van die Algemene Sinode voorgelê sal word wanneer afgevaardigdes van die NG Kerk se tien samestellende streeksinodes vir die eerste keer sedert 2019 byeenkom.

Die mees onlangse navorsing wat in verslagvorm by die AS oor aborsie gedien het, was in 1982.

Lede van die taakspan wat besig is om ’n “Bundel vir gesprekvoering oor Aborsie” te ontwikkel, het op Dinsdag 15 Augustus tydens ’n sitting van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) terugvoer gegee oor hoe hierdie en ’n rits ander verslae oor etiese kwessies vorder.

’n Mens kry uit die breër verslag ’n prent van kerkleiers wat soek na “helderheid en wysheid” oor onder meer:

  • Intergodsdienstige verhoudings: Die vinnigste groei binne die Christendom is nie meer hoofstroomkerke nie, maar pinkster- en charismatiese kerke. En die tweede grootste “godsdiensgroep” in die land, volgens sensusdata in die verslag, is mense wat hulleself (om verskillende redes) nie met enige godsdiensgroep assosieer nie.
  • Die rol van belydenisskrifte binne die NG Kerk: 80% van NG predikante meen die Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls) is belangrik vir die opleiding van predikante, wys peilingdata deur die Taakspan Navorsing. Hiermee saam word twee pole onder die kerk se sowat 1 100 dominees sigbaar in die vorm van 10% wat meen dié formuliere is “nie meer relevant nie”, teenoor 10% wat meen dit kan “as finale denksisteme beskou word”.
  • Seksualiteit: Die einste taakspan sal na die afgelope vier jaar van hoogspanning met betrekking tot uiteenlopende beskouings oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk kan getuig. “Terwyl ons behoorlik kennis neem van en in gesprek tree met navorsing wat in ander velde, soos die biologie, neurowetenskappe, psigologie, antropologie, kultuurstudies en regsgeleerdheid gedoen word, wil ons onthou dat ons in die eerste plek teologiese en kerklike gespreksgenote is,” luidens die taakspanverslag. Met betrekking tot die 2019-opdrag aan die taakspan om ’n formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse te ontwikkel vir persone van dieselfde geslag, sal die taakspan in Oktober verdere terugvoer gee oor hoekom daar volstaan word met ’n aanbod van “liturgiese grondlyne” vir so ’n formulier.
Willem Burger, afgevaardigde van Namibië.
Dr Chris van Wyk.

Versigtige gesprek oor aborsie

Die mees onlangse navorsing wat in verslagvorm by die AS oor aborsie gedien het, was in 1982. “Die saak van aborsie is geweldig kompleks, omstrede en sensitief,” lui die vorderingsverslag van die Algemene Taakspan vir Leer- en Akuele Sake (ATLAS), wat onder leiding van ds Heerden van Niekerk opdragte van die Algemene Sinode uitvoer in die vier-jaar-tydperk tussen Algemene Sinodesittings.

“Teologiese nadenke en gesprekke hieroor vind plaas binne die geleefde werklikhede van vroue, huweliksmaats, families en vriende, wat op verskillende maniere hierdeur geraak word. Terugvoer vanuit verskeie kerklike kringe beklemtoon voortdurend die behoefte aan pastorale hulpmiddels vir ondersteuning en begeleiding in hierdie verband, soos ook met ander reproduktiewe gesondheidskwessies …”

Ds Heerden van Niekerk.

Gesprek en onderskeiding

In pas met die NG Kerk se toenemend “gespreksmatige” benadering tot etiese kwessies, sal ook hierdie gesprek klaarblyklik weggestuur word van wat deur teoloë binne die taakspan as die “besluitnemingsdrukgang” bestempel word. Daar is sprake van “pastorale gerigtheid”.

“Predikante kies vir ‘deelnemende onderskeidingsprosesse’ en versoek ’n benadering in die kerk wat ‘wegstuur van polarisasie en ’n verwytende styl’,” voer ds Van Niekerk en medewerkers aan op grond van die NG Kerk se interne navorsingsdata.

Hoewel die beplande bundel die eerste “vars” navorsing van dié soort in byna vier dekades sal wees, sal dit nie in ’n japtrap by gemeentes wees nie. Die sowat 360 afgevaardigdes wat 15-20 Oktober as Algemene Sinode vergader, sal versoek word om te stem dat die samestellingsproses van die bundel kan voortgaan tot dit by die Algemene Sinode van 2027 vir sinodes in die hand gegee kan word.

Ds Nelis Janse van Rensburg.

Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM, het tydens die eerste dag van die vergadering, ná ATLAS se voorlegging, gesê die kerk is nie ’n plek “waar mense getimmer word tot eenduidigheid nie”. Hy het gesê die proses van luister na mekaar is dinamies en uiters gesond. “Ons aanvoeling is dat daar indringende gesprek (by die Algemene Sinode) moet wees oor (aktuele sake).”

“Ons gaan saam (oor aborsie) dink … Ons is in ’n proses van onderskeiding. En daardie onderskeidingsproses skryf ons nie ’n datum op nie en sê ons wil dán klaar wees nie … die standpunt moet groei binne die kerk.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Aborsie en etiese vrae: Klem sal weer op gesprek eerder as besluite val by Algemene Sinode in Oktober”

  1. Dit sou nogals insiggewend wees om te weet wat die ouderdomsprofiel van die 10% predikante is wat meen dat die Belydenisskrifte “nie meer relevant nie” is, asook die ouderdomsprofiel van die 10% wat meen dat dit as “finale denksisteme beskou moet word.”

    1. Hi Muller, die Algemene Sinode vergader 15-20 Oktober by Birchwood Konferensiesentrum in Johannesburg. Die dagindelings en ander logistiek is op 16 Aug deur die “ontwerpspan” by die ASM voorgelê en bespreek.

Comments are closed.

Scroll to Top