Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
“Die Afrikaanse taal die klink vir ons so soet;
Hy is ons moedertaal, sit in ons murg en bloed”
(CP Hoogenhout, Ons Toekomstige Volkslied)
Vir heelwat mense is die NG Kerk en Afrikaans sinoniem. Hernude energie word die laaste tyd gewy aan die ontwikkeling en viering van Afrikaans as geloofstaal, by byvoorbeeld konferensies en Bybelvertalingvieringe. Dikwels word die NG Kerk dan ook steeds gegroepeer saam met organisasies, verenigings en rade soos die ATKV, Afriforum, Akademia en die Afrikaanse Taalraad.
Maar is dít die diepste identiteit van die NG Kerk? Is die NG Kerk die gemeenskap van Afrikaanssprekendes?
Sulke assosiasies is nie toevallig of onskuldig nie, en ons behoort mooi na te dink oor waarom hierdie verbande gelê word, en watter belange dit dien. Dikwels het dit minder te make met hoe geloofstaal binne die tradisie funksioneer – as ’n taal wat altyd meer is as ’n enkele spreektaal, ’n taal wat strek oor kultuurgrense heen, ’n taal van tale – en meer met ons besorgdheid met die behoud van Afrikaans as moedertaal, wat ‘sit in ons murg en bloed’.
Lees ook: Groot geeste dink saam oor Afrikaans as geloofstaal en moedertaal
In sy professorale intreerede – met die titel “In diens van die tale Kanaäns?” (2002) – tref Dirkie Smit ’n onderskeid tussen ‘die tale Kanaäns’ – oftewel geloofstaal, die taal waarin en waarmee die kerk oor die eeue heen geloof verwoord – en die teologie, wat in diens staan van geloofstaal. Geloofstaal is die taal van ’n tradisie, die taal van ’n geloofsgemeenskap, waarin ons geloof wat op soek is na verstaan (fides quarens intellectum) sou verwoord en herverwoord, maar altyd voorlopig, altyd ‘tot verdere kennisname’.
Ons geloofstaal is dus veel meer kompleks en omvattend as ’n enkele spreektaal. Om die taal wat die kerk, tradisie en teologie oor die eeue heen praat bloot te reduseer na ‘Afrikaans’, is om die rol wat geloof as taal binne die kerk sou speel geheel en al mis te verstaan. Taal sou inderdaad van meet af verweef wees met die tradisie, maar moontlik op heel ander – en dalk meer verrassende en verrykende – maniere as wat ons sou dink (of sou verkies!). Ons bely immers dat die Woord vlees sou word en onder ons kom woon; maar so ook dat daar geen Jood of Griek (of Afrikaanse) meer is nie, aangesien wie ons is veranker word in Jesus Christus.
Lees ook: Nelis Janse van Rensburg skryf: Afrikaans as geloofstaal
Dink maar aan die woorde baptizatus sum – wat op Martin Luther se werkstafel uitgeskryf sou staan as ’n konstante herinnering aan wat hy as sy grootste troos sou beskou. Hierdie woorde sou hom vergesel deur die skryf van preke, traktate en standpunte, Bybelkommentare, en ook die vertaling van die Bybel in Duits heen. Nie ‘ek praat Duits’ nie, maar ‘ek is gedoop’. Luther sou weldra later deur Nazi-teoloë as ’n kampioen vir die Duitse taal geëien word (weens sy rol in die eerste Duitse vertaling van die Bybel), maar dit is te betwyfel of dit sy toewyding aan die een of ander taalstryd sou wees wat hom sou beweeg om met sy Bybelvertaling te begin.
Vir Luther, soos vir Calvyn en ander Hervormers, sou dit nie die ontwikkeling van ’n spesifieke taal wees wat hom sou dring om die Bybel te vertaal nie, maar eerder sy eie diepste teologiese oortuigings aangaande wie die kerk is. Anders gestel: veel eerder as Luther (Duits) of Calvyn (Frans) se eng toewyding aan ’n enkele taal, sou hulle Bybelvertalings moontlik wees weens ’n klassieke, meertalige opvoeding – met kennis van (onder andere) Grieks, Hebreeus en Latyn.
Lees ook: Dana Snyman: ‘Alles wat ek geestelik is, is verbind met Afrikaans – Afrikaans en die Bybel’
Meertaligheid sou egter nie net ’n kernkenmerk wees van Bybelvertalings nie. Ook ons geloofsbelydenisse getuig van die meertalige wortels van die tradisie. Dink maar aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk, wat sélf getuig van ’n ryke meertaligheid. Belydenisskrifte is oorspronklik in verskillende tale verwoord – dink maar aan die Geloofsbelydenis van Nicea (Grieks), die Apostoliese Geloofsbelydenis (Latyn), die Dordtse Leerreëls (Latyn), die Heidelbergse Kategismus (Duits en Latyn), die Nederlandse Geloofsbelydenis (Latyn, Frans en Nederlands) – en dikwels onmiddelik vertaal.
(Tog interessant dat ons wat so sterk voel oor Afrikaans as geloofstaal minder entoesiasties is om die enigste belydenisskrif wat op eie bodem in Afrikaans geskryf is, naamlik die Belharbelydenis, te aanvaar as deel van ons belydenisgrondslag. Ons is lief vir Afrikaans, maar minder so vir ’n Afrikaans waarin ’n God bely word wat aan die kant van die armes, verdruktes en veronregtes staan.)
Taal ís ’n geskenk, maar die evangelie – nie taal nie – is die wáre skat van die kerk, aldus Luther.
Lees ook: Nadia Marais: Die geskenk van neurodiversiteit
Daarom is dit tog sekerlik nié die rol van die kerk om spesifieke taal- of kultuurbelange te bevorder nie (daarvoor is daar immers organisasies wat hierdie rol alrééds verrig), maar eerder om die evangelie te verkondig. Dalk moet ons pasop dat ons nie so behep raak met ons liefwees vir Afrikaans (en ons Afrikaanse selwe), dat ons vergeet om God en ons medemens lief te hê nie.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is leraar van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.