Wat sal jy verwag as jy by die saal van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington instap en jy herken ’n paar bekende NG leiers, maar as jou oog verder draal, sien jy ’n Moeliemsjeg in tipiese lang wit gewaad en ’n Grieks-Ortodokse priester in tipiese lang swart gewaad? Voeg daarby ’n bekende Khoisan-aktivis – by gebrek aan ’n beter beskrywing – en ’n leier van die Oraniagemeenskap en jy dink beslis dat die vonke nou om hierdie tafel gaan spat.
Maar, nee, hierdie mense het een ding in gemeen en dit is hulle liefde vir Afrikaans. Dít is die taal waarin almal om die tafel bid en droom en ontsteld word.
LEES OOK: Só lyk program vir Simposium oor Afrikaans – moedertaal en geloofstaal (11-12 Aug)
Twee persone wat bydraes gelewer het, was al moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode – prof Nelus Niemandt en ds Nelis Janse van Rensburg. Twee was al moderator van die kerk se streeksinodes – dr Braam Hanekom en dr Barry Tolmay. Maar dan was daar ook swaargewigte uit ander geloofsgemeenskappe se geledere. Een van ons land se knapste filosowe, prof Johann Rossouw, het gepraat met twee hoede op. Hy is dosent in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat, maar ook geordende priester in die Grieks-Ortodokse Kerk. Een van die baanbrekers in Afrikaans van hierdie geloofsgroep, vader Zacharias van Wyk, neem ook deel.
Twee van ons voorste Nuwe-Testamentici, prof Bernard Combrink en prof Marius Nel (die een van die AGS en NWU), het perspektiewe gedeel. Combrink was ook projekleier van die jongste vertaling van die Bybel in Afrikaans (die 2020-vertaling). Dr Willa Boezak het op sy kenmerkende kleurvolle manier simposiumgangers herinner aan die oudste “geloofstaal” in ons land, dié van die Khoi- en Sanvolke. Bekendes van die VGK soos dr Hendrik Theys en ds Charles Flaendorp neem ook deel.
LEES OOK: Nelis Janse van Rensburg skryf: Afrikaans as geloofstaal
Dan is daar ’n klomp indrukwekkende taalghoeroes ook om die tafel, mense soos prof Wannie Carstens en dr Conrad Steenkamp. Die Afrikaanse Taalraad het juis saam met Hugenote Kollege hierdie simposium gereël “om die skakel tussen taal en geloof op ’n konstruktiewe wyse te belig en om opsies vir die beter bestuur van taal in geloofsverband te bespreek”.
Dr Carel Boshoff van Orania het die punt gemaak dat geloofsgemeenskappe nie regtig taalaktiviste kan wees nie. Dit is immers nie hulle bestaansdoel nie. Maar die taal waarin hulle bedien en aanbid bly tog deel van die grein van daardie gemeenskap.