Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Taal beskryf nie net die werklikheid nie. Dit skep ook werklikheid. Die tale waarin ons dink en kommunikeer, het immers elk ’n eie aard en dinamika wat sprekers daarvan bemagtig, meeneem, toelaat om te dink, verstaan en praat, skryf Nelis Janse van Rensburg.
In die buiging van die woorde, in die dans van die sinne, in die spel van klanke en begrippe, word beslag gegee aan verwagtinge en drome, kennis en perspektiewe, emosies en ervarings, idees en planne, oortuigings en geloof.
Taal is nie neutraal nie. Taal het ’n omgewing waarbinne dit funksioneer. Die omgewing het ’n impak op die taal en die taal op die omgewing. Dit is so erg so dat ’n taal soos Afrikaans in Namakwaland en in Pretoria heeltemal verskillend praat, klink en betekenis het. Die prente wat woorde teken, maak binne ’n omgewing sin.
LEES OOK: Dana Snyman oor Totius
Woorde het die interessantste ontstaansgeskiedenisse. Dit het ook ’n gebruiks- en verstaansgeskiedenis. Elke woord het ’n storie en dikwels is die vele betekenisse van woorde die gevolg van die verskillende stories waarin die woorde lewe gekry het. Woorde en begrippe het oorspronklike outeurs, maar ondergaan ook voortdurend verbuigings en vernuwings in betekenis deur diegene wat dit vir hulle toeëien. ’n Taal is mooi wanneer dit ryk is aan woordstories en betekenisse. Dit is ook mooi wanneer dit ruimtes en opsies bied om meer mense met meer stories en meer drome en verbeelding te kan huisves. Ja, taal is soos gasvrye huise waarin mense tuiskom.
Geloofshuise word ook in taal gebou. Geloof gebeur immers in taal. Soms is dit woordtaal, ander kere net klanktaal. En hoe wonderlik is dit nie as Johannes sê: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God … In Hom was daar lewe …” Ja, die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons geloofshuis begin met ’n Woord van God, vir mense.
LEES OOK: Al die jongste vakatures
Taal is ook soos ’n rivier waarin jy swem. Neem nou maar Afrikaans. Dit is gebore in Afrika. Dit is gevoed uit taalstroompies wat ineengevloei het uit baie wêrelde. Dit het ’n kragtige malende stroom geword. Mense is daardeur meegesleur. Dit het oor die jare ruimte gebied vir drif en stryd. Dit het aan mense identiteit gegee. Dit het vir sommiges ’n medium van mag en dwang geword. Vir baie het dit selfbehoud en gesag gespel. Vir ander was dit ’n simbool van verdrukking. Baie het die taal verwerp soos hulle apartheid verwerp het. Die taal was en is beslis nie polities neutraal nie. Maar die simboliese betekenis van taal verander dikwels vinnig. Taalhuise is dinamies in betekenis. Nuwe idees en oortuigings neem hulle intrek en gou-gou praat die taal nuut en potent in die nuwe omgewings waarin dit gebruik word. Die assosiasie met taal verander soms sonder dat ons dit dadelik waarneem.
In die ekumeniese wêreld het ons nou al daaraan gewoond geraak dat ons kollegas uit ander kerke uit hulle pad gaan om met ons Afrikaans te praat. Toe ons in 2016 weer lid word van die Wêreldraad van Kerke (WRK) het die SA Raad van Kerke (SARK) ons in ’n spesiale diens in Khotsohuis gelukgewens. ’n Koor uit Soweto het vir ons Psalm 84 in Afrikaans gesing: “Die Heer is groot waar Sions top …” Aartsbiskop Thabo Makgoba het onlangs die Sinode van Wes-Kaapland toegespreek. ’n Groot deel van sy toespraak was, nie sonder moeite nie, in Afrikaans.
LEES OOK: Al die jongste lesersbydraes
Dit het tyd geword om weer te dink oor Afrikaans as geloofstaal. Watter simboliese betekenis het die taal nou vir ons tyd? Is dit ’n taalhuis van vergifnis in en deur Christus? Kan uitgestotenes en randfigure woonplek vind en glo binne Afrikaanse taalhuise? Kan ryk en arm in hierdie huise die Here dien? Is dit huise van versoening en vrede? Is dit huise waarin mense geïnspireer word tot diensbaarheid en versorging van ander? Maak die taalhuis genoeg ruimte vir lof en aanbidding? Hoe sleur Afrikaans as geloofstaal ons mee? Waarheen vloei dit? Hoe benut ons die eie aard en rykdom van hierdie ruim taal, met sy allermooiste woordstories en -prente? Hoe praat ons die taal in ons omgewings? Watter prente teken die kerk met die taal? Hoe vorm ons geloofstaal in ons kategese? Vir wie teken en bou ons in Afrikaans?
Die agenda van die kerk is nie om ’n taal te bevorder nie. Ons agenda is om diensbaar te wees in die koninkryk van God. Maar daar is geen diensbaarheid sonder ’n taal nie. Die NG Kerk het nou die geleentheid om in Afrikaans prente te teken van hoop en vasbeslotenheid. Afrikaans kan ’n huis word van integriteit in ons land. Mense in Afrikaanse taalhuise het in die verlede in die mees onderdukkende omstandighede bly sing. In ons Afrikaanse taalhuise kan Christelike vreugde in ’n land sonder vreugde ’n besondere kenmerk word. In ons taalhuise kan ons ook treur saam met dié wat treur. Ons kan ook in ons taal nuut praat oor gehoorsaamheid aan God en dissipelskap, só dat dit mense meesleur. Afrikaans het reeds die taal van versoening begin word in ons land. Natuurlik praat die NG Kerk nie eksklusief Afrikaans nie. Inteendeel, ons praat soveel as moontlik tale van ons land om die evangelie so wyd as moontlik te laat weerklink.
BLAAI OOK: Die e-weergawe van die jongste gedrukte Kerkbode
Maar terwyl ons kerk saam met Afrikaans gegroei en ontwikkel het, laat ons nie deel wees van dié wat oor Afrikaans ’n taal- en kultuurpessimisme koester nie. Laat ons nie saam met hulle die wonder van hierdie mooi taal en die inspirerende huise wat dit bou, prysgee nie. Laat ons eerder nou die krag van hierdie taal benut om wonings op te rig waarin die rykdom van mense van ons lande kan tuiskom. Ek is oortuig Afrikaans as geloofstaal kan en moet ’n deurslaggewende en leidende rol speel om te genees en versorg, te herstel en op te rig, vorentoe te gaan, God se toekoms tegemoet.
Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en moderator van die NG Kerk.
- Lees hieronder die jongste e-weergawe van die gedrukte Kerkbode wat maandeliks verskyn.
- Nie ’n intekenaar nie? Ondersteun ons joernalistiek deur ’n Vriend van Kerkbode te word.