Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Miskien het ek te veel romantiese idees oor die 1933-vertaling, die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans. ’n Ruk gelede was ek in prof JD du Toit, ofte wel Totius, se huis op Potchefstroom. Deesdae is dit ’n museum. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman: ‘Alles wat ek geestelik is, is verbind met Afrikaans – Afrikaans en die Bybel’


Dit voel of ek besig is om ’n aftreeoord vir ou Bybels tot stand te bring. Ek praat veral van die 1933-vertaling. Die ou vertaling, soos ons sê.

In tweedehandse boekwinkels en by die Hospice, DBV en ander plekke waar goed vir liefdadigheid verkoop word, sien jy alte dikwels van hulle op ’n onderste rak staan, soms naby ’n Uit die Beek uit die 1980’s of Broer Andrew se God se Smokkelaar. Vergete.

Ek stap moeilik by so ’n Bybel verby sonder om dit van die rak te haal, die stof af te blaas en daardeur te blaai. En elke keer koop ek maar nog een.

LEES OOK | Dana Snyman: In my 60ste jaar op aarde groet ek vir die eerste keer ’n evangelis met die hand

Psalm 139 vers 2 en 3: “U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.” Poësie.

Vergelyk dit met ’n nuwer vertaling: “U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend.” Minder poëtiës. Vir my, altans.

Maar ek kan en wil nie skryf oor die meriete van die verskillende Bybelvertalings nie. Die kundigheid daarvoor het ek in elk geval nie. Ek praat meer met my gevoelentheid as met my verstand. Ek het steeds die Bybel wat oorlede Pa hoeveel jaar gelede vir my gegee het, asook die spierwit Nuwe Testamentjie wat ek gekry het toe ek op 6 Januarie 1963 in die NG gemeente Newcastle gedoop is. Beide is 1933-vertalings. En dit is omtrent al vertaling van die Bybel wat ek steeds lees. Durf ek dit in die openbaar erken? Party mense, veral sommige pas bekeerdes, glo dit is byna verpligtend om ook ’n Engelse vertaling van die Bybel te lees – nie noodwendig die St James-weergawe nie, ’n vertaling wat al meer as 400 jaar bestaan.

LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van neurodiversiteit

Terloops, kry ’n mens nog wit Bybels? Ek wonder.

Die Bybel wat van Pa af kom, is een van daardie met ’n ritssluiter, wat eens nogal gesog was. Maar ek bêre soveel foto’s, selfs ’n traktaatjie wat my oorlede oupa Danie geskryf het, in die Bybel, sodat ek nie meer die ritssluiter toegetrek kry nie.

Hoekom sou ’n mens in elk geval jou Bybel wil toerits? Om die stof en ongemaklike vrae en gedagtes uit te hou?

Ek besef die 1933-vertaling is vol woorde en stelwyses wat nie juis meer gedink en gesê word nie: Deurvors. ’n Suigeling. Om in die buitenste duisternis uitgewerp te word.

Miskien het ek te veel romantiese idees oor die 1933-vertaling, die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans. ’n Ruk gelede was ek in prof JD du Toit, ofte wel Totius, se huis op Potchefstroom. Deesdae is dit ’n museum.

Totius, ’n predikant en later hoogleraar aan die Potchefstroomse teologiese skool, het daar gewoon terwyl hy besig was om die Bybel in Afrikaans te vertaal, ’n taak waarmee hy in 1924 begin het. Hy het ook ’n plaas, Krugerskraal, buite Potchefstroom gehad waar hy hom afgesonder het om aan die vertaling te werk.

Dit is in die opstal op Krugerskraal waarin die weerlig in die oujaarsnag van 1920 sy dogtertjie, Wilhelmina, doodgeslaan het, wat hom laat skryf het: “O, die pyn-gedagte: My kind is dood!”

LEES OOK: ’n Suid-Afrikaanse blik op Israel en Palestina: ’n Pleidooi vir geregtigheid 

Die gedagte het al by my opgekom: Die huis waarin Totius ’n groot deel van die Bybel in vertaal het, is ’n plek waar God hard met hom gepraat het. Of was daardie weerligstraal toevallig? Totius se seun, Francois, is ook jonk aan meningitis dood.

Dit is asof jy wil begin sagtrap en fluister wanneer jy by die Totius-huis op die dorp instap, asof die professor steeds in die studeerkamer met sy woorde- en aantekeningboeke sit en woorde weeg.

Sy vrou, Marie, het glo meer as een keer gesê ’n Afrikaanse Bybel is ’n wonderlike gebeurtenis vir die Afrikanervolk, maar dit het ’n einde aan hulle gesinslewe gemaak. Totius het die Bybel 112 keer in sy leeftyd deurgewerk. Wanneer hy smiddae ’n ent gaan stap het, het hy die aantekeningboeke met die vertaalde gedeelte in ’n tas iewers in die huis toegesluit.

By die voordeur staan ’n hoederak, af in die gang, op regs, is ’n slaapkamer met twee enkelbeddens. “De oogen des Heeren zijn in alle plaatsen,” waarsku ’n geraamde spreuk bokant een van die beddens. As jong seun wat vir die eerste keer bewus geraak het van meisies sou sulke woorde bokant my bed my nogal bang gemaak het.

LEES OOK: Uit Cas Wepener se pen: Dr Korczak en die kinders

Dan is jy in die studeerkamer: ’n gemakstoel, kaggel, boekrakke, ’n lessenaar met ’n stoel wat baie lyk soos die lessenaarstoel wat oorlede Pa by ’n antieke winkel gekoop het. Op die lessenaar is ’n asbakkie waarin die geleerde man se pyp rus. Eenkant is sy bekende ronde brilletjie. ’n Skets van Johannes Calvijn teen die muur.

Hoe sou dit vir Totius gevoel het terwyl hy hier sit en vertaal het?

Net soos met die Gutenberg-Bybel in die 1450’s en later die St James-weergawe het die eerste Afrikaanse Bybel dalk op ’n kleiner skaal ’n groep gelowiges geestelik bevry om hulleself op ’n ander meer intieme manier te ontdek.

Alles wat ek geestelik is, is verbind met Afrikaans – Afrikaans en die Bybel. Ek het bepaalde vrae oor party dinge in die Bybel, maar selfs my twyfel verwoord ek dikwels in Bybelse terme. Ek is ’n ongelowige Thomas, ’n nagdissipel.

LEES OOK | In gesprek met Elna Mouton: Maak die Bybel nog enigsins saak?

“’n Mens moet minstens een keer die Bybel deurlees en die stukke merk wat vir jou móói is,” skryf Antjie Krog iewers. “Die ou vertaling sal jou Afrikaans op ’n skaal sit wat geen grammatikaboek of ander letterkunde ooit kan nadoen nie.”

En vanjaar, presies 90 jaar gelede, het dit alles begin.

Die eerste Afrikaanse Bybels is in Brittanje gedruk en het per skip in Suid-Afrika aangekom. Dit is seker ’n simpel gedagte, maar ek het al gewonder wat het Totius gedoen toe hy die eerste gedrukte Afrikaanse Bybel in sy hande gehou het.

Het hy dit dalk oopgemaak en daaraan geruik?

Dit is wat ek met die ou Bybels in tweedehandse plekke doen, dan sê ek vir myself: Is dit dalk hoe genade ruik?


KYK OOK: Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling se ontstaanstorie (die video hieronder is in Oktober 2019 gepubliseer. – Red.)

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Dana Snyman: ‘Alles wat ek geestelik is, is verbind met Afrikaans – Afrikaans en die Bybel’”

  1. Naude Theron

    Dana vra of daar nog wit Bybels bestaan. Die Gideons Internasionaal versprei klein wit testamente onder verpleeg personeel in hospitale en klinieke.

    Groete
    Naude Theron
    Windhoek

  2. Besonderse artikel Dana. Jy mag maar ruik aan die Bybels ek doen dit ook. Vir my is dit kosbaar om iemand se Bybel in my hande vas te hou. Ek gebruik ook die Engelse Bybel want dit gee my dikwels ander verstaan. Ek besit ook nog my wit Bybel en na my afsterwe kan iemand besluit na wie dit nou moet gaan. Vriendelike groete.

  3. Net om te lees van hoe jy skryf oor die Bybel in Afrikaans, is al klaar genade en ‘n groot voorreg. Dankie Dana.

  4. Hallo Dana,
    Hier by ons in Kanada is dit nou ook uiteindelik slaaptyd. Ek lê op my rug en ruik die genade van 1933. Daardie vertaling is nog altyd in my kop en in my hart. Poësie, soos jy sê. Ek dink die Hebreeus en die Grieks moet ook só klink.
    Terloops, jou pa het my ook gekatkiseer, aangeneem en voorgestel. Die eerste groep katkisante in die nuwe kerkgebou in Grootfontein, Namibië. 1968. Bly geseënd!

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.