Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

By Yad Vashem in Israel staan ’n beeldhouwerk wat hierdie gebeure uitbeeld, vertel Cas Wepener in die rubriek hieronder. "Die kindertjies se skouers hang slap, hulle weet wat kom. Korczak se arms is om hulle. Dit is ondenkbaar slegte omstandighede. Uitsigloos en finaal. Korczak kyk reguit voor hom. Hy weet waarheen hy op pad is." Foto: Wikimedia Commons / B. Železník

Uit Cas Wepener se pen: Dr Korczak en die kinders


Wanneer ’n vriendelike gesig “Onthou jy?” vra kan dit goeie herinneringe aanwakker en jou lekker laat voel. Wanneer jou gemoed swaar is en ’n besorgde gesig sê “Ja, maar onthou” kan dit berusting bring en jou lyf laat ontspan. En wanneer jy deur geskreefde oë aangegluur word en hoor “Ek onthou vrek goed” kan dit jou hartklop laat versnel en jy voel naar.

Om te onthou is potensieel goed vir ’n mens. Om te onthou is potensieel sleg vir ’n mens. Herinneringe is waardevol en gevaarlik. Herinneringe maak dinge van die verlede deur middel van onthou teenwoordig in die oomblik. Selfs gebeure waarby jy nie self betrokke was nie, goeies en slegtes, kan so uit die verlede na die hede gebring word.

LEES OOK | Cas Wepener: Skeppende soeke na taal oor God ‘sodat ons oë nuut kan kyk’

Om te onthou behoort tot die kern van teologie. Maar nie sommer net enige onthou nie, wel om op sinvolle wyses te onthou. Die teologie en die kerk weet wel deeglik hoe goed én gevaarlik onthou is. Dit is wat ons byvoorbeeld in ’n erediens doen. Ons onthou. En ons onthou daar op ’n spesifieke manier. Die Griekse woord “anamnese” (“zakar” in Hebreeus) beskryf goed watter tipe onthou belangrik is in die kerk en erediens. Anamnese beteken nie om jouself te verplaas na die verlede nie. Dit is eerder om die verlede te bring na die hede. Die liturgis Paul Post skryf oor anamnese – “in die hede word die verlede teenwoordig gestel met die oog op die toekoms”. Wanneer ek só onthou, word dit wat ek uit die verlede onthou, teenwoordig gestel in die hede. Die verlede word opgeroep en na die hede gebring. En dit het ’n invloed op hoe ek na die toekoms kyk en leef. Dit is goed, maar daar is heelwat dinge wat maar in die verlede kan bly en wat my nie in moeilike tye gaan help nie, inteendeel.

Teenoor slegte onthou, is die kerk en erediens se onthou goeie onthou. Dit is wanneer God se verlede, God se hede en God se toekoms met ons verlede, hede en toekoms saamvloei om ons bestaan nuut te raam. Wanneer ons byvoorbeeld ’n erediens bywoon, betree ons die domein van hierdie soort onthou of anamnese. Dan word ons lewe opnuut deel van God se verlede, hede en toekoms en word ons herinner dat dit ook die geval is in moeilike tye. Dit was al so in die Joodse liturgie van die Ou-Testamentiese tye. In sy boek oor die Joodse wortels van die Christelike erediens skryf Rudolph Boon dat zakar en anamnese ’n kruispunt van die tye (verlede, hede, toekoms) bewerk. In die Bybel is dit telkens ook in moeilike tye wat hierdie soort onthou belangrik was. So het die sinagogediens in die tyd van die Babiloniese ballingskap ontstaan. En ’n kerndeel van die diens was om die Skrif te lees as ’n vorm van zakar. James White skryf dat die sinagogediens die Jode se antwoord was op die vraag: “Hoe kan ons die lied van die Here in ’n vreemde land sing?” En die waarde van daardie diens beskryf hy soos volg: “As past events were recited, they became present reality through which God’s power to save could be experienced again and again.” Dit is ’n voorbeeld van die krag van onthou in moeilike tye, maar nie sommer enige onthou nie, wel om God te onthou. Natuurlik kan die soort onthou ook gevaarlik wees, want dit kan ook vir my wys dat ek my moet regruk.

LEES OOK | Dana Snyman: My soeke na spore van die Jerusalemgangers

In die gereformeerde tradisie word ons in die Skriflesing en prediking deur anamnese telkens opnuut deelgemaak van God se voortgaande verhaal met ons in verlede, hede en toekoms. En oor die tafel waar Jesus self die bedienaar van die sakrament is skryf die digter Schulte Nordholdt: “… dan is hij vlak bj mij, dan weet ik zeker/ dat hij mij aankijkt uit de donkere beker, dan eet ik zijn genadebrood,/ dan leef ik van zijn dwaze dood.” Dit is hierdie belewenis in die liturgie wat ons help om elke week opnuut in die liturgie van die lewe in te loop, juis ook wanneer die lewe moeilik is. Die ware verhaal van dr Janusz Korczak beskryf iets van die belang van hierdie soort onthou vir die lewe.

Die skrywersnaam van die Pools-Joodse dr Henryk Goldszmit was Janusz Korczak. Korczak was gewild as kinderboekskrywer en bekend as pediater. In die jare voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en tot en met 1942, het hy ’n weeshuis in die ghetto van Warschau gelei. Toe die Duitsers begin om Jode na kampe soos Treblinka te deporteer en te vermoor, het landgenote aangebied om Korczak te help ontsnap. Korczak het die aanbod van die hand gewys en gesê dat hy sy kinders nooit sal verlaat nie. Op die oggend van 5 Augustus 1942 het Duitse magte by die weeshuis opgedaag en Korczak, sy personeel en ongeveer tweehonderd kinders beveel om die gebou te ontruim. Daarna is hulle deur die strate van Warschau gemarsjeer na die trein wat hulle na die kamp vervoer het, ongetwyfeld na hulle dood. Die Holocaust Encyclopedia rapporteer oor die gebeurtenis: “Witness accounts describe the group’s march through the ghetto as orderly and dignified”. Korczak, sy kollegas en al die kinders is heel waarskynlik na die treinrit van ongeveer sestig myl, nog dieselfde dag vermoor.

LEES OOK: Nuusvermyding het ook ’n verlammende effek in kerknuusomgewing

In die toneelstuk oor die gebeure getiteld “Korczak en die kinders” sê ’n rabbi vir Korczak terwyl hy saam met die kinders stap dat die kinders die Joodse volk is wat uit Egipte gelei word en dat Korczak self Moses is. Korczak se reaksie op hierdie woorde van die rabbi was: “Ek sal vir my voor oë hou hoe die water van die Rooi See weggegaan het voor die kinders van Israel. En die Rooi See het die weg geword tot ons behoud. Daaraan sal ek dink – en ek sal my kinders nie verlaat nie, net soos Moses sy volk nie verlaat het nie”.

By Yad Vashem in Israel staan ’n beeldhouwerk wat hierdie gebeure uitbeeld. Die teoloog Gerard Lukken beskryf die kunswerk as anamnese in steen. Die kindertjies se skouers hang slap, hulle weet wat kom. Korczak se arms is om hulle. Dit is ondenkbaar slegte omstandighede. Uitsigloos en finaal. Korczak kyk reguit voor hom. Hy weet waarheen hy op pad is. Hy weet wie hy is. Hy weet Wie s’n hulle almal is. Hulle stap in die verlede deur Sinaï en die Rooi See, waar God was. Hulle stap in die hede deur Warschau se strate, waar God is. Hulle stap die toekoms tegemoet, waar God reeds is.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top