Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ek is hier in die Marico-Bosveld om te kom soek na spore van die Jerusalemgangers, ’n groep fanatieke Voortrekkers wat in die 1800’s hier rond gewoon het: die Riekerts, die Enslins, die Steyns, De Beers en nog ander. Hulle leier Johannes Adam Enslin het op die plaas Meseg gewoon, vertel Dana Snyman. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman: My soeke na spore van die Jerusalemgangers


Naby Groot-Marico, so 40 km van Zeerust af, beduie ’n bord: Riekertsdam. Die familie Riekert was destyds ook Jerusalemgangers.

Die pad is vol gate en slote, die veld vol sekelbos en raasblaar en kameeldoring.

Ek is hier in die Marico-Bosveld om te kom soek na spore van die Jerusalemgangers, ’n groep fanatieke Voortrekkers wat in die 1800’s hier rond gewoon het: die Riekerts, die Enslins, die Steyns, De Beers en nog ander. Hulle leier Johannes Adam Enslin het op die plaas Meseg gewoon.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Ronell Bezuidenhout | ‘Ek preek deesdae vir mense om openlike waardeerders te word, waar dinge reg werk’

Hy en sy volgelinge was van plan om van hier af tot in Palestina te trek, tot in Jerusalem waar hulle geglo het vir hulle ewigdurende Bybelse saligheid sal wees.

Op die ou end hét party die trekpad Jerusalem toe gevat, dieper die Bosveld in, met slegs die kaart agterin ’n Hollandse Statenbijbel as riglyn.

Die kerkgeskiedkundige, JP Claasen, het in die jare sewentig ’n MA-verhandeling oor die Jerusalemgangers aangepak, wat later as ’n boek gepubliseer is.

Enslin het in die Oos-Kaap geboer, maar in die 1830’s het hy – nes baie ander boere destyds – noord getrek, weg van die Britse owerheid af. Die Britte, het baie van hulle geglo, is die Antichris.

LEES OOK | Nadia Marais skryf: Die geskenk van die donker

Die pad mik tussen die klipkoppe in, dan sê ’n bordjie: Meseg.

Enslin het dié naam vir sy plaas uit die Bybel gaan haal: Psalm 120 vers 5 en 6: “Wee my dat ek as vreemdeling vertoef in Meseg … Te lank al woon my siel by die wat vrede haat.” Daarmee wou Enslin volgens Claasen glo sê “onheilige Britte en goddelose swartes” is nie werklik welkom hier rond nie.

Meseg se opstal is naby die pad.

Hoe sou dit hier gelyk het toe Enslin hier gewoon het? Mietje Gous sou ook hier gekom het. Gous is as ’n profetes beskou.

Johannes Enslin se plan om Jerusalem toe te trek het baie op Mietje Gous se profesieë gesteun. Enslin het ook inspirasie gekry uit die Statenbijbel en Wilhelmus à Brakel se Redelijke Godsdiens, ’n lywige dogmatiekhandleiding wat destyds gewilde leesstof was.

’n Oubaas kom om die hoek van Meseg se opstal geskuifel, gestut tussen twee krukke.

“Ek’s Sunny Greeff,” stel hy homself ouwêrelds voor. “Waaraan het ek die eer van u besoek te danke?”

Ek is hier oor die Jerusalemgangers, verduidelik ek.

Geborg

“Jy gee my hoendervleis.” Hy kyk verbaas na my. “Wat wil jy weet?”

LEES OOK | Dana Snyman skryf: Halleluja’s, ’n bus en ’n blokkie pienk-en-wit klapperys

Hy vertel van Enslin en sy Jerusalem-planne. Enslin se graf is hier naby.

Enslin en van sy mense is dood voor hulle die trek Jerusalem toe kon aanpak. In 1852 het ’n geelkoorsepidemie in die Marico uitgebreek, wat Enslin weggevat het. Maar Mietje Gous en van die ander het nog geleef en Palestina het hulle steeds geroep.

Nou, meer as ’n eeu later, kan dit belaglik klink, maar vir Gous-hulle was dit ’n saak van Bybelse erns. Hulle was oortuig die gevaarlike reis sou hulle bring in die Here se beloofde land van melk en heuning.

Die Jerusalemgangers se soeke na daardie welgeluksalige, aardse Nuwe Jerusalem prut vandag voort in sommige mense in die land.

Op Facebook is manne met derduisende aanhangers wat hulle eie utopiese droom verkondig. ’n Plek waar slegs wit Afrikaners welkom sal wees. Een groep is as die Israeliete of die Israelvisie bekend. Hulle glo Jesus kom terug aarde toe om deur die wit volkere oor sy koninkryk te regeer, die Jerusalemgangers se Nuwe Jerusalem.

Dit is moeilik om die presiese roete te volg wat Mietje Gous en die oorblywende Jerusalemgangers getrek het. In die 1850’s was hier nog nie paaie soos nou nie.

Op Rustenburg het hulle by KJ de Kok, ’n Nederlandse landmeter, gaan raad vra. Hy het ’n kaart van Afrika met ’n potlood teen ’n muur vir hulle geteken en verduidelik dat Jerusalem maklik agt keer verder as die Kaap hiervandaan is. Hulle het klaarblyklik geglo dis ’n berekeningsfout en het voortgetrek.

LEES OOK | Dana Snyman: Hierdie kerk is vele kerke

Ek ry deur Bela-Bela, die ou Warmbad. Naby Modimolle gaan die pad oor ’n bruggie, met ’n bordjie daarby: Nyl-zijn-oog. Soos ’n monument vir die Jerusalemgangers staan dit hier. Die Magalakwenarivier, wat hierlangs loop, is deur sommige Jerusalemgangers vir die Nyl aangesien.

’n Ent verder sien jy Kranskop, ’n alleenstaande berg. Vir sommige Jerusalemgangers het dit glo na ’n Egiptiese piramide gelyk. Dit het hulle verder oortuig hulle is in Egipte. Dit is hoe Nylstroom sy naam gekry het.

Ek is op soek na die plaas Middelfontein, wat destyds aan kommandant Piet Potgieter behoort het, ’n oase vir reisigers. Party Jerusalemgangers het daar klaarblyklik ’n tydelike hawe gevind. Party is daar dood en begrawe.

Middelfontein is minder as 10 km van Kranskop af. Ek maak die hek oop en skommel op ’n tweespoorpaadjie die bos in. Eers die Berlynse Sendinggenootskap en later die Lutherse Kerk het ná Piet Potgieter se dood die plaas oorgeneem en ’n sendingstasie hier begin.

Net die murasies van die sendingstasie is oor.

Ek hou onder ’n maroelaboom daar naby stil.

Deur die Afrikaners se geskiedenis loop vele trekpaaie. Die Groot Trek. Die Dorslandtrek. Mense wat weens verskeie redes op soek was na ’n Land der Ruste, soos WA de Klerk, wat oor die Dorslandtrekkers geskryf het, dit stel. ’n Soeke na ’n Afrikaner-utopie.

Was apartheid nie dalk ’n manier om so ’n Land der Ruste te probeer skep nie?

Dit lyk nie of hier op die plaas geboer word nie. ’n Paar Pedi-families het ’n grondeis op Middelfontein ingestel en die grond is aan hulle toegestaan. Die begraafplaas is beleër deur die sekelbos en die haak-en-steek. Ek sukkel tussen die grafte in.

Na die suide toe lê die skaduwees oor Kranskop en noord, duisende kilometer hiervandaan, is Israel en Jerusalem waar die Jode en die Palestyne nou al vir hoeveel jaar in vyandskap leef.

Op die meeste van die grafte is nie ’n steen nie. Op ander kan jy nie meer sien wat op die grafsteen staan nie. Oor ’n jaar of wat sal jy hier verbystap en nie kan sien hier is mense begrawe wat op pad was Jerusalem toe nie.

Hier lê hulle in die grond van die nasate van die mense waarvan hulle wou wegtrek.

Utopia beteken nie verniet nêrens nie.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.