Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Ou kerk soos dié een van sandsteen op Rosendal is meer as ’n plek van aanbidding. ‘Dit is die draer van ’n gemeenskap se stories,’ skryf Dana Snyman vanuit die Vrystaat. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman: Hierdie kerk is vele kerke

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Op Rosendal is dit dieselfde storie: Die NG gemeente sukkel. Die lidmaatgetalle het bly daal tot ’n voltydse predikant later nie langer bekostig kon word nie. Nes op soveel ander plekke in die land.

Ek kuier op die dorp en laatmiddag stap ek na die kerk toe, ’n beleë Vrystaatse sandsteengebou, aan die bopunt van Kerkstraat. Hoeksteen gelê op 8 Julie 1914. Genesis 28:17: “Dit is niet dan een huis Gods, en dit is de poort des hemels!”

Die grasperk is doodgeryp ná die vriesige winter, die bome blaarloos.

Die horlosie in die toring het jare gelede op 2 minute oor 8 gaan staan.

’n Ou kerk soos dié is meer as ’n plek van aanbidding. Dit is die draer van ’n gemeenskap se stories, stories versamel oor geslagte heen, baie daarvan opgeteken in die notuleboeke met die vergeelde blaaie in die kerkkantoor hier agter.

Lees ook: Nelis: ‘Versoening is ’n beweging na God en na mekaar’

Hoeveel eredienste is hier op ’n Sondag oor meer as ’n eeu gehou? Hoeveel kinders gedoop? Hoeveel mense begrawe? Hoeveel paartjies getroud?

En daardie nagmaalsnaweke wat op ’n Saterdagoggend om 10:00 begin het met ’n kerkraadsvergadering vir die broers en ’n Vrouesendingbondvergadering vir die susters, gevolg deur ’n voorbereidingsdiens om 15:00 en nóg ’n kerkdiens om 19:00. Die Sondag was daar ’n vroeë biduur om 07:00, om 10:00 was dit die Nagmaalsdiens en direk daarna ’n vrouebiduur. Om 14:00 is die naweek afgesluit met ’n nabetragtingsdiens.

In daardie vroeë jare het mans en vroue, ook die kelkie- en bekermense, apart in die Nagmaalsdiens gesit.

Hier is swartmense eens nie tydens eredienste toegelaat nie en moes elke vrou, soos in elke ander NG gemeente, vir jare met ’n verpligte hoed op die kop op ’n Sondag die kerk instap, totdat ’n ou klousule of sinodebesluit herroep is.

Lees ook | Waarheid volgens die Skrif: Vier stellings om oor jou eie insig te oorweeg

Die eeuoue konflik in die kerk tussen nougesette Skrifuitleg en die Goddelike liefde word ook van die begin af hier ervaar.

Maar ook hiér was die kerk ’n geestelike hawe vir ’n gemeenskap: plaasboere, dorpenaars, ryk, arm, vriend, vyand. Hier is geld ingesamel vir die weduwees en die wese en sendingaksies in Zimbabwe, Malawi, Japan en ander plekke. Hier is kospakkies uitgedeel en basaar gehou om geld in te samel vir die bou van ’n saal en die ry kategeselokale hier agter.

Met die stigting van die gemeente, só staan dit opgeteken in ’n notuleboek, het party lidmate vir ’n spesifieke bank in die kerk betaal. Daarom is hier steeds ’n Burger-bank waar die Burger-familie sit.

En, o, die Vrolike, o, die Salige, hier is in Desember Kerssangdienste gehou dat dit gevoel het of Josef en Maria enige oomblik van Bethlehem, een van die buurdorpe, se kant af gestap kon kom op soek na herberg. Met mev Marjorie Botha of een van die ander orreliste agter die orrel wat oom Frederick Hefer in die jare vyftig met sy Chev-bakkie, ’n drietonner, in Bloemfontein gaan haal het.

Lees ook: Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang?

In die konsistorie staar die gemeente se leraars na jou van die muur af. Ds HS Theron (1916 tot 1919) met sy ronde brilletjie en wit strikdas was die eerste een. Tot by ds MA Pretorius (1990 tot 1992) met ’n lang, wit das, ds JH Cronjé met ’n donkerrooi kolletjiesdas en ds Nadia Schwirzer (2010 tot 2012) in ’n rok. ’n Byna voltooide sirkel.

Op die grasperk voor die kerk is ’n monumentjie, sandsteenblokke opmekaar gestapel en vasgemessel, met granietpaneel waarop staan: “Uit Afrikaner-rou is gebore Afrikanertrou.” Dit is in 1938 by die plaaslike skool opgerig ter nagedagtenis van kinders wat dood is tydens die Groot Trek, maar is later hierheen verskuif.

Hierdie kerk was ook eens ’n volkskerk, ja, ’n plek van genade vir Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog, wat hier in hierdie gedeelte van die Vrystaat intens gewoed het, verslaan en verslae was. Vroue en kinders dood in konsentrasiekampe. Plaaswonings afgebrand. Oeste vernietig. Armoede.

En in die 1960’s en 70’s was hier, soos in ander gemeentes, besorgdheid oor die volk se moraliteit. Op 29 Julie 1972 word die predikant op ’n kerkraadsvergadering gevra, só staan dit opgeteken, om met die gemeentelede te praat wat voor die erediens die Sondagkoerant lees. ’n Man in Wyk 4 moet ook vermaan word omdat hy op ’n Sondag aan motorkarre werk. ’n Kommissie vir Openbare Sedelikheid het oor sulke kwessies gewaak.

Besorgdheid oor die mense van Mautse aan die anderkant van die hoofpad was daar wel. In 1965 is besluit die predikant en die ouderlinge van die Sendingkommissie moet elke tweede Sondag beurte maak om die diens in die NG Kerk in Afrika se kerkie in Mautse waar te neem tot ’n nuwe evangelis aangestel is. Later word ’n bakkie vir ’n evangelis gekoop. In 1992 word ’n leesprojek vir ongeletterde Mautse-inwoners begin.

Lees ook: VGK en NGK ontmoet: ‘Ons is broers en susters in Christus’

Die son is amper agter een van die baie berge rondom die dorp in en dit lyk of die kerk in die laatmiddaglig gloei.

Hierdie kerk is vele kerke: ’n spieëlbeeld van sy tyd, maar ook ’n waardige plek om die Gans Andere in te ervaar. Hoeveel smeek- en dankgebede het nie hiervandaan opgeklink nie?

Ds André van Zyl, voorheen van Welkom, het op die dorp kom aftree, maar hou nou elke Sondagoggend ’n diens hier. ’n Sagte man wat Sondag weer oor nederigheid en Goddelike liefde gepraat het.

Een van die dae sal die reën kom en die bome sal bot en die rose se wit en rooi en geel sal jy van ver af kan sien.

Met my hart doleer ek telkens oor tyd wat verbygaan, met my gees jubel ek oor genade en liefde en die geleentheid om dinge tussen mense meer genadig te maak.

Bron: Rosendal NG Kerk, 1913-2013, geskryf en versorg deur Charmaine Gallon.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top