Ons moet nou, ná Karlsruhe, vra of die liefde van Christus ons kan beweeg tot eenheid en versoening? skryf Nelis Janse van Rensburg uit Duitsland.
Die liefde van Christus dring ons. So begin die boodskap van die Wêreldraad van Kerke (WRK) aan die einde van sy algemene vergadering in Karlsruhe in 2022 aan die wêreld. Trouens, hierdie bekende woorde van 2 Korintiërs 5 het in die afgelope weke soveel nuwe toegespitste betekenis gekry toe die wêreldliggaam met die tema “Die liefde van Christus beweeg ons tot eenheid en versoening” sy omvangryke agenda aangepak het. En was die vergadering nie insigself ’n wonderwerk van eenheid en versoening nie. Die liefde van Christus het uiteenlopende mense beweeg tot eensgesindheid en ’n gedeelde getuienis.
Die 4 000 Christene van, so het dit gevoel, elke volk en taal en nasie op die aarde het immers elke oggend roerend saamgesing, saam uit die verskillende tradisies woorde gevind om met ’n diep gedeelde geloof God Drie-enig te aanbid en te bely, in sovele tale die Onse Vader saam gebid, in sovele liturgieë sy Naam verheerlik en sy wil gesoek dat daar by niemand twyfel kon oorbly oor die erns van die belydenis dat die liefde van Christus mense kan beweeg nie.
Maar dit was die klem op die Bybel as dié bron van gesag wat elke gereformeerde van harte bly moes maak. Daar is elke oggend baie tyd spandeer aan Bybelstudie, in kleingroepe en in die konferensiesaal vir dié wat nie in kleingroepe tuisgekom het nie. Die Woord moes praat, aan die woord kom, lewend word met die verwagting dat die Heilige Gees die beweging van God se liefde sal bewerk. Hierdie hegte konsensus oor die Woord tussen Ortodokses en Lutherane, Anglikane en Pentekostaliste, Gereformeerdes en Metodiste het dit toe inderdaad moontlik gemaak om oor uitdagende en kontroversiële kwessies konstruktief met mekaar in gesprek te gaan.
Lees ook: Klein gemeente met oop arms kort ’n sterker heining
Die gebrokenheid van die wêreld was aan geen konferensieganger onbekend nie. Daar was immers gelowiges uit Oekraïne en Rusland, Palestina, Sirië en Irak, Nagorno-Karabakh/Artsakh en Tanah-Papua, vanaf die Suidseelande tot China, uit Egipte en Suid-Amerika het hulle gekom. Daar was mense uit lande waar vlugtelinge verniel word en die eerste-nasie-mense veg om erkenning. Daar was verhale van vroue en kinders wat geminag word en mense wat geen waardigheid gegun word nie. Daar was verslae oor rassisme en onreg. En dan was daar die werklikheid van oorstromings en droogtes, smeltende ys en woude wat steeds krimp. Van die oplossings waarna gesoek word, vereis buitengewone leierskap en kundigheid. Daar word ook vaardighede vereis om mense om tafels te kry en oplossingsoekend met mekaar te bly praat.
Dit was alles op die agenda van hierdie reuse-vergadering. Die kerk het ’n massiewe rol om te speel. Maar deurgaans was die leitmotif dat niks ’n genoegsame verskil gaan maak as die liefde van Christus ons nie een maak en laat saamleef in versoende gemeenskappe sodat ons al ons tyd en energie kan spandeer aan die nood van die mensdom nie. God se liefde het immers geen einde nie. Hy is lief vir kerkmense en ongelowiges, vir Jode en Moslems, vir sondaars en stukkendes, ja intenser is sy liefde vir alle mense as wat ons ooit kan verstaan.
Versoening is ’n beweging na God en na mekaar. Dit veronderstel ’n gereedheid om na God en na mekaar te luister. Die vergadering skryf in sy boodskap aan die kerk: Om saam te vergader in Duitsland het gemaak dat ons geleer het van die koste van oorlog én die moontlikheid van versoening, met die saam hoor van die Woord van God, het ons ons gedeelde roeping besef, deur te luister en te praat met mekaar het ons nader bure geword, deur saam te treur, het ons onsself oopgestel vir mekaar se pyn en lyding, deur saam te werk het ons ooreengekom oor aksie, deur saam te vier het ons opgewonde geraak oor mekaar se vreugdes en hoop, deur saam te bid het ons die rykdom van mekaar se tradisies begryp en die pyn van ons verdeeldheid beleef.
Lees ook: Dana Snyman | Hierdie kerk is vele kerke
Die WRK hoop dat die kerk die toon kan aangee van ’n versoende wêreld, dat die liefde van Christus ons sal dring tot ’n aansteeklike eenheid wat die reg sal laat aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom. Die liefde van Christus wat mense uitnooi en sê: Kom na My toe, is die liefde waarmee die wêreld verander moet word.
Die kerk in Suid-Afrika, en beslis ook die NG Kerk, steek baie van sy tyd en energie in die bestuur van konflik in. Dan moet ons nou, ná Karlsruhe, vra: Kan die liefde van Christus ons beweeg tot eenheid en versoening? Of gaan ons sê: Nee, dit kan tog nie. Ons is te lief vir ons gevegte en ons kampe en ons mishope en ons klein oorwinninkies dat ons nou kan treur saam met dié wat treur, en luister na dié na wie ons nog nooit geluister het nie, en kan saamwerk met dié wat ons nog altyd met afkerende name benoem het. Sal dit ons antwoord wees?
Of sal ons die uitdaging van die evangelie opneem en begin glo dat die liefde van Christus vir alle mense die wêreld kan beweeg na eenheid en versoening? Kan ons ons ’n wêreld verbeel waar die liefde van Christus mense beweeg tot versoening?
In Karlsruhe het die kerk in die aangesig van almal se stukkendheid en broosheid begin droom oor die liefde van Christus. Sprekers het begin praat oor die audacity van dink dat die liefde van Christus die wêreld kan beweeg. Deelnemers het begin glo dit kan. Toe lyk ons verskille al kleiner en die konflikte nietiger voor die grootheid van die Godsmoontlikheid dat sy liefde die wêreld inderdaad kan beweeg.
Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.