Die behoefte aan hoë veiligheidsheinings, alarmsisteme en selfs sekuriteitswagte is ’n scenario wat vir die meeste stedelike gemeentes in Suid-Afrika bekend is. In die 2018-film Dominee Tienie hardloop die dominee (gespeel deur Frank Opperman) elke keer knuppel in die hand na buite wanneer die kerkgebou se alarm lui.
Binne sig van Tafelberg bied die NG Gemeente Ysterplaat se hoë ysterheining rondom die kerkperseel ook nie meer die gemoedsrus wat dit moet in hierdie sigbaar verarmde voorstedelike gebied nie. Dit is plek-plek gelas met tou en stukke plank.
“Ons sou graag ’n kerk sonder ’n heining wou wees, maar om veiligheidsredes (veral vir ons kinders) is dit noodsaaklik om ’n ordentlike heining te hê,” lees ’n onlangse plasing op die gemeente se facebookblad.
Dit gaan R295 000 kos om die heining reg te maak. ’n Stewige som vir ’n gemeente met skaars 100 meestal ouer lidmate op die boeke. Dit is egter nodig sodat al die kinders veilig kan voel wat by Isibindi se kinder- en jeugprojekte inskakel, die nie-winsgewende organisasie wat die kerk gestig het in samewerking met ds Niel Steyn (voorheen van Echo Kaapstad), hoor Kerkbode met ons onlangse besoek.
Dit is geen afgeremde dominee Tienie wat ’n mens by die deur begroet nie. ’n Mens sien sommer met die instap dat ds Scherlize van der Merwe iemand met passie en ’n praktiese no nonsense inslag is. Haar blonde hare hang los oor ’n gestreepte top ingesteek by ’n swart denim. Tekkies aan die voete. Selfoon in die gatsak.
Die ry meestal strak mansgesigte in swart-en-wit bo haar lessenaar in die kerkkantoor wys sy was vier jaar terug ook die eerste vrou om hier as dominee bevestig te word.
Aan haar sy is Hendrico Ockhuys, leierouderling en verantwoordelik vir die bestuur van Isibindi (beteken ‘wees braaf’ in isiXhosa) wat in 2020 gestig is om fondsinsameling vir die gemeente se nasorgprojekte te vergemaklik. Sy lessenaar is langs hare met teen die muur langs hom die geraamde gesigte van meer as ses dekades se kerkrade wat sekerlik verbaas sou wees oor alles wat deesdae in hulle 1950’s kerkgebou gebeur.
Onder meer dat die leierouderling heel gelukkig saam met vier ander jong mense in ’n witgeverfde prefab bokshuis bly op die verhoog in die kerksaal sodat hy ’n oog kan hou dat alles reg loop op die perseel.
“Dit was net wasted space … ons hou tog nie meer kerkkonserte nie,” trek Van der Merwe laggend skouers op.


Toe sy hier as voltydse predikant begin het in 2018 was die lys maatskaplike probleme in die area lank. Drankmisbruik, prostitusie, dwelms, misdaad … “daar is so baie probleme dat dit amper onmoontlik gelyk het om enigiets te doen,” vertel Van der Merwe in ’n 4 minute-video wat ook op die gemeente se Facebookblad te sien is.
Sy het toe begin deur by die plaaslike skole te gaan vra wat die gemeente kan doen. Só het die behoefte aan ’n veilige nasorgsentrum uitgekom. Sy en Ockhuis staan sedertdien smiddae reg om tussen 15 en 25 laer- en hoërskoolkinders elke weeksmiddag in die saal te ontvang waar hulle ’n warm ete kry, studietyd en speeltyd.
’n Verdere uitvloeisel hiervan was weeklikse etes waarheen die kinders se ouers en later enigeen uit die gemeenskap kon kom sodat mense kan sien “hier gebeur ook goeie goed in Ysterplaat,” sê sy.
In 2019 het die twee NG-gemeentes in Ysterplaat saamgesmelt. Die kerkgebou in Da Gamastraat waar die nasorg is, is toe omskep in ’n gemeenskapsentrum terwyl “kerklike dinge soos eredienste, vergaderings en basaars” in Ysterplaat-Suid se kerkgebou 700 m verder in Bowerstraat plaasvind.
Sedertdien word ’n kamer langs die saal ook aan ’n crèche verhuur. ’n Paar geskenkte vraghouers het hulle pad gevind na nóg wasted space agter die kerk waar een reeds danksy geskenkte verf, meubels en elektriese toebehore in ’n veilige tuiste met plek vir vier tienermeisies uit moeilike huislike omstandighede en ’n huisma omskep is.
Hy het dadelik aanklank gevind by Van der Merwe se visie om ’n gemeente te wees wat veral met kwesbare jongmense werk, vertel Ockhuis. “Ek dink ons is na mekaar gestuur,” sê dié oud-Noordkapenaar wat sedert 2020 voltyds in Isibindi se diens is.
Vir Van der Merwe kom haar visie om só op voetsoolvlak betrokke te wees vanuit die gedagte waarmee sy elke oggend wakker word “dat die liefde van Christus my sal dring om aan te hou om ’n verskil te maak …”
- Hierdie artikel is ná publikasie aangepas. – Red.
Sien hier hoe jy kan help:
- Maak ’n finansiële bydrae aan: NGK Ysterplaat, ABSA, 0370590532.
- As jy naby bly, ondersteun hulle eteverkope. Hou hulle facebookblad Ysterplaat Gemeente dop.
- Kontak ds Scherlize van der Merwe by 072 844 4771 of jy kan haar by slizehayes@gmail.com e-pos.
