Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Danie Dreyer van Pretoria skryf: Na aanleiding van dr Fanie Cronjé en prof Louis Jonker se skrywes en die verskeie reaksies wat daarop gevolg het oor die (her-)interpretasie van die Bybel die volgende: ’n Mens se eie insigte in wat volgens die Skrif die waarheid is, kan in die lig van die volgende vier stellings beoordeel word.
- In die modernisties-rasionele filosofiese tradisie waarin Westerse Christene onderrig is, word onder invloed van (neo-)Platonisme geleer dat die waarheid gevorm word deur persoonlike studie en ’n gemeenskaplike instemming oor bepaalde konsepte (wette, leerstellings, dogmas, belydenisse). Hierdie kultureel-godsdienstige idees word as die waarheid aanvaar en verdedig.
- In die Bybelse tradisie word die waarheid gevind in die verhouding en omgang met A(a)nder. Jesus self het die waarheid relasioneel, eerder as konseptueel gesien. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6). Dan het Hy dadelik voortgegaan om sy besondere verhouding met die Vader (Joh 14:7, 9-10) en die Gees (Joh 14:16-18) te beskryf. Hy was die ware voorbeeld van iemand wat God die Vader se vriendskap aanvaar het en daarbinne geleef het (Joh 15:1-2). Hy het sy dissipels uitgenooi om in hierdie vriendskapsverhouding met Hom te bly soos die loot in die wingerdstok. Dan sal hulle baie vrugte dra (Joh 15:4-6). Jesus het die godsdienstige toneel van sy tyd herrangskik van argumente oor idees en konsepte (wette en tradisies en gebruike), na ’n wêreld van ontmoeting, verhoudings en ’n lewe van teenwoordigheid van aangesig tot aangesig (vgl die Bergrede – Matt 5 – 7). Daarom gaan dit in die gelowige se lewe nie in die eerste plek oor ’n instemming met bepaalde dogmas en morele kodes nie, maar om ingelei te word in die geheimenis van God se liefde (Deut 6:4; Matt 22:37-40). In hierdie verhouding-in-liefde is daar meer inklusiwiteit, omgee en geregtigheid.
- Die Bybel is beide geïnspireerd en inspirerend. Inspirasie is nie die bonatuurlike inspraak van Goddelike woorde nie. Dit is ’n gemeenskaplike proses van gee-en-neem. Dit is ’n wedersydse vennootskap (verbond, dialogiese verhouding) tussen Skepper en skepsel. Tussen God wat asemgehaal het (geïnspireer het) en wat steeds asemhaal (inspireer) en die mens wat in die geloof die seile span om die wind (Wind) van God, die Gees van die Waarheid (Joh 14:17) op te vang (vgl Gen 1:2; Joh 3:8). Só word God se woorde as woorde van waarheid gehoor (Hand 15:28-29).
- Om te sê: “So sê die Bybel as die Woord van God”, beteken nie net om sekere teksverse aan te haal nie. God se openbaring gebeur in samevloei van verhoudings, interaksies en stellings. Om God se woord (stem, openbaring) te hoor, moet ’n mens jouself in die teks plaas, deel word van die interaksie en die storie en om dan soos Job te kan sê: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” (Job 42:5). Wat ’n mens so as die waarheid sien, bepaal hoe jy dink en optree.
Geborg

Uitstekende teologie in my opinie! Dankie hiervoor, Danie.
Verstaan nie mooi wat hier gesê word oor belydenisse, dogmas en leerstellings waaroor daar gemeenskaplike instemming is as behorende tot die modernisme. Die modernisme hoort tot die laat 19de en begin 20ste eeu. Die belydenisse soos vervat in die Bybel, dogmas wat daaruit voortgespruit het en in die vroeë Christelike era met breë instemming aanvaar is en selfs die belydenisskrifte wat tydens die reformasie daarop teruggegryp het, het met die modernisme weinig indien enigsins te make. Is die skrywer vir of teen belydenisgebondenheid en gehoordaamheid aan gevestigde Bybelse voorskrifte?