Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Daar word van tyd tot tyd ontstellende aantygings van binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk teen dié kerk gemaak en dikwels met name teen die Algemene Sinode. Daar word onder meer bedenkinge oor die handhawing van getrouheid aan die Skrif uitgespreek, terwyl daar ook verwys word na die “liberale teologie” van die Algemene Sinode.
Wanneer ons hierdie en soortgelyke aantygings lees, is dit belangrik om in gedagte te hou dat daar in die NG Kerk nog nooit onduidelikheid oor die gesag van die Bybel was nie. Daar is wel van tyd tot tyd verskil van mening oor hoe die Bybel die beste vertolk mag word. Verskil van mening oor die beste metodes aan die hand waarvan ons die Skrif behoort te vertolk, is nie vreemd aan die NG Kerk in besonder, of die gereformeerde tradisie oor die algemeen nie.
LEES OOK: Nuwe tydvak wink vir die herwaardering van Johannes se verstaan van Jesus
In die onderskeie Acta (Handelinge) van die Algemene Sinode se sittings van onder meer 1986, 1990, 2002, 2004, 2011 en 2015 word daar in verslae moeite gedoen om helderheid te bied oor hoe ons binne die NG Kerk meen ons die Skrif die beste en op ’n verantwoordelike en geldige manier behoort te vertolk. Wanneer ons dié verslae in die lig van byvoorbeeld die kerkhervormer Johannes Calvyn se mening ten opsigte van die vertolking van die Skrif beoordeel, is dit verblydend om te sien dat ons binne die NG Kerk steeds getrou bly aan ons Protestantse tradisie.
Met die wegbeweeg van die Katolieke Kerk van destyds af, was daar nie vir protestante ’n pous of tradisie wat die vertolking van die Bybel help rig of bepaal het nie en dit laat ’n vakuum. In aansluiting by hulle tydsgees, te wete die Renaissance, beklemtoon die kerkhervormers die belangrikheid om die Skrif in die brontale te bestudeer én Bybelse tekste in hulle historiese konteks te lees. Hierdie oortuiging vul in ’n mate die vakuum. Die kerkhervormers beweeg dus weg van die metodologiese koers van hulle voorgangers en gebruik die interpretasiemetodes van hulle tyd. Hulle doen dit, want hulle is daarvan oortuig dat ons die Bybel met ons geloof en met ons intellek behoort te lees.
LEES OOK: Kruis of koninkryk?
In ’n artikel oor Calvyn skryf die kerkhistorikus DL Puckett in 1998 onder meer die volgende: “Before the interpreter could apply the message of the Bible to the person of the sixteenth century, Calvin believed, the meaning for the original writer and his contemporaries must be determined. The exegete should neither uproot a text from its immediate literary context nor neglect the historical environment in which the document was originally produced.”
Dit is binne hierdie tradisie waar ons as NG Kerk staan en dit is hierdie insigte van die kerkhervormers wat daartoe aanleiding gegee het dat ons in die NG Kerk rekening hou met die geskiedenis agter die Bybelse dokumente én dat ons die belangrikheid om die oudste teks in die brontale te lees, besef. In dié proses maak ons ook gebruik van die interpretasiemetodes van ons tyd en vertolk ons die Bybel na die beste van ons vermoë in en vir ons konteks.
Wanneer die kerk dan in veranderende tye tot ander besluite as vroeër kom, beteken dit nie dat die gesag van die Skrif misken word, dat vroeëre geslagte verkeerd gehoor het, óf dat die kerk wisselvallig in haar besluite is nie. Dit beteken ook nie dat die Bybel verander het nie. Dit is ons wat verander en dit is ons kennis en omstandighede wat verander het. Ons mag en sal soms tot ander besluite as vorige geslagte kom. Dit gebeur omrede ons verder en anders as hulle sien. Ons sien soms verder en anders as ons voorgangers, want ons staan op hulle skouers.
Wanneer die NG Kerk van tyd tot tyd besluite neem wat van dié van vorige sinodes verskil, behoort ons dit onder meer in hierdie lig te sien.
- Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG Gemeente Lynnwood.