Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Kruis of koninkryk?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In ’n onlangse artikel bespreek die Amerikaanse teoloog Benjamin Burkholder die belangrike debat oor wat die doel van Jesus se lewe en dood was.

Sommige uitleggers beklemtoon dat Jesus se dood hoofsaaklik verstaan moet word as die wyse waarop Hy sondaars se sondes vergewe het.

Ander beklemtoon weer sy verkondiging van die koms van die koninkryk van God.

Dit word vervolgens gedebatteer of eersgenoemde versoeningsleerbenadering, wat die waarde van Jesus se offerdood vir individuele gelowiges beklemtoon, versoen kan word met een wat die waarde van die koms van die koninkryk vir gemeenskappe beklemtoon.

LEES OOK: Een van die moeilikste tekste in die Nuwe Testament om te verklaar …

Die teologiese probleem is naamlik dat terwyl die gedagte dat die dood van Jesus sentraal is in die versoeningsleerbenadering, dit nie is in benaderings wat op die koms van die koninkryk fokus nie.

Dit kan selfs as teenstrydige aksente gesien word. Die Jode het immers nie verwag dat die Messias wat die koningshuis van Dawid sou herstel, en hulle sou bevry van hulle vyande, sou sterf nie.

Vir diegene wat die koms van die koninkryk van God in die hede beklemtoon is die kruis daarom dikwels problematies. Uitleggers wat Jesus se offerdood aan die kruis beklemtoon neig weer om sy verkondiging van die koms van God se koninkryk te relativeer. So is daar baie gelowiges wat net belangstel in die vergifnis van hulle eie sonde en nie in die herstel van God se koningskap oor sy ganse skepping nie.

LEES OOK: Om jouself deur ander te ken

Ander fokus weer sodanig op sosiale herstel in die lig van die koms van God se koninkryk dat hulle weinig aandag aan die vergifnis van sonde gee. Martin Hengel wys egter daarop hoedat Jesus met sy laaste maal sy komende dood verbind het aan die sluit van ’n nuwe verbond en die vergewing van sondes in afwagting van die koms van God se koninkryk (Matt 26:27-30). Hiervolgens noodsaak die koms van die koninkryk die herstel van die verbond, en die herstel van die verbond noodsaak dat gelowiges se sondes eers vergewe word. Om hierdie rede voer Burkholder aan dat nóg die blote verkondiging van vergifnis nóg die verkondiging van ’n koninkryksetiek reg laat geskied aan die betekenis van Jesus se lewe en dood.

Die kruis en die koninkryk hoort dus teologies bymekaar en daarom is sowel die uitleef van die waardes van die koninkryk as die verkondiging van die vergifnis van sondes die kerk se taak.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is ook predikant van die NG Gemeente Oostersee.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Kruis of koninkryk?”

  1. Dankie hiervoor Marius. Dit gee ons ‘n sleutel om die kompleksiteite van ons land aan te pak.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top