As die opgestanes in hulle grafte rus

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Matteus 27:51-53 is een van die moeilikste tekste in die Nuwe Testament om te verklaar.

Die berig, wat net by Matteus voorkom, vermeld dat met Jesus se dood sekere grafte in Jerusalem geopen is en dat baie ontslape heiliges opgewek is. Hulle het vervolgens ná Jesus se opstanding uit hulle grafte gekom en Jerusalem binnegegaan.

Die berig ontlok baie vrae. In ’n onlangse studie het Joel Archer, Nuwe-Testamentikus van Duke Universiteit in Durham in die VSA, een vraag van nader beskou, naamlik waarom het die heiliges wat reeds met Jesus se dood opgewek is vir twee dae in hulle grafte getalm voordat hulle eers ná Jesus se opstanding Jerusalem binnegegaan het?

LEES OOK: Riglyne vir geestelike onderskeiding

Volgens Archer wil Matteus met sy berig twee sake teologies beklemtoon. Die eerste is dat die asem wat Jesus uitblaas met sy dood (vers 50) direk aanleiding gegee het tot die opstanding van die heiliges. Jesus se laaste asem het aan hulle lewe gegee. Die agtergrond vir die siening is Matteus se verstaan van Esegiël 37:1-14, waar die asem van God lewe aan die dooie bene in Esegiël se visioen gee. Die beeld het aanvanklik op die herstel van Israel gedui, maar is met tyd as ’n aanduiding van die liggaamlike opstanding van die dooies verstaan.

Die tweede saak wat Matteus wil uitlig, is dat Jesus se opstanding, en nie soseer sy dood nie, aanleiding gegee het tot die herstel van Israel soos gesimboliseer deur die binnegaan van Jerusalem deur die opgestane heiliges. Die noodsaak om die twee sake uitmekaar te hou, is vervolgens vir Matteus belangriker as die temporele vloei van sy vertelling. Vir hom is Jesus se dood en sy opstanding komplementêre maar verskillende heilsdade. Daarom berig hy nie dat die heiliges eers na die opstanding van Jesus opgestaan het en daarna onmiddellik na Jerusalem gegaan het nie. Hy koppel hulle opstanding eerder direk aan die oorgee van Jesus se Gees waarna hy hulle gaan na Jerusalem koppel aan Jesus se opstanding twee dae later. Dat die opgewekte heiliges vir twee dae in hulle grafte talm dui volgens Archer dus op Matteus se oogmerk om twee verskillende teologiese heilsdade aan sy lesers deur te gee.

Archer se interessante uitleg van die berig in Matteus beklemtoon opnuut die belangrikheid van die voortgaande nadenke oor moeilike tekste ten einde hulle ryk teologiese betekenis te ontsluit.

  • Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is predikant van die NG gemeente Oosterzee.
Word 'n vriend van Kerkbode