Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Louis Jonker van Stellenbosch skryf: In die afgelope tyd was daar talle reaksies op dr Fanie Cronjé se bydrae oor eietydse toepassing van die Bybel.
Wat my opgeval het in hierdie reaksies, is dat daar byna geen bewussyn daarvan is nie dat interpretasie alreeds in die Bybelse tyd plaasgevind het, en bygedra het tot die totstandkoming van die Bybel.
My gunsteling-voorbeeld is die boek Kronieke. Dit herskryf die geskiedenis van Ou Israel soos vervat in Samuel en Konings, in ’n totaal nuwe sosio-politieke konteks, ongeveer 200 jaar later as die totstandkoming van Samuel en Konings. Enigeen wat wil sien hoe radikaal hierdie herinterpretasie vir ’n nuwe tyd was, moet maar net na Dawid of Manasse se verhale gaan kyk. Vergelyk gerus hoe Samuel-Konings oor hierdie twee konings skryf. In Kronieke is daar geen aanduiding van Dawid se “donker” geskiedenis nie – dus ook geen Batseba nie. Manasse, wat in die boek Konings die epitoom van boosheid is, word in Kronieke skielik ’n toonbeeld van boetedoening teenoor die Here, en ’n sprekende voorbeeld van hoe die Here vergewe.
Lees ook: Om tot geldige vertolkings van die Skrif in ons tyd te kom
Die Kroniekeskrywer het natuurlik daarmee die verhale oorvertel, op so ’n wyse dat dit ’n boodskap vir hulle eie tyd (tydens die laat-Persiese tydperk) sou inhou. Die oorvertelling was in kontinuïteit met die vorige, ouer tradisies, maar ook in diskontinuïteit daarmee om juis ’n boodskap vir ’n nuwe tyd oor te dra.
Hierdie is uiteraard nie die enigste voorbeelde nie. Die Nuwe Testament is grootliks ’n hervertolking van die Ou Testament, in die lig van die Christusgebeure. Weer eens was daar totaal nuwe sosio-politieke omstandighede (die Romeinse Ryk), maar ook ’n nuwe teologiese omgewing waarin die tradisies van ouds herbedink en herinterpreteer is. Die Christendom se ontstaan is te danke aan ’n herinterpretasie van die Jodendom!
Dit is juis wat die Woord van God “lewend en kragtig” maak. Was dit nie vir die feit dat geloofsgemeenskappe deur die eeue die ou geloofstradisies hervertolk het vir nuwe omstandighede nie, sou die Bybel nie bestaan het nie!
Lees ook: Kerkplanting: Oplossing of ’n fopspeen?
Wie dus vandag wil beweer dat ons moet vashou aan “ewige waarhede” en onveranderde interpretasies, gaan dus loodreg in teen die dinamika van herinterpretasie wat die Bybel tot stand gebring het. Sulke mense moet dan Kronieke uit die Bybel uitskeur, en dalk sommer ook die hele Nuwe Testament. Sou die kritici wat in Kerkbode negatief gereageer het op Cronjé se artikel bereid wees om dit te doen?
Natuurlik moet ons in kontinuïteit met die tradisies van ouds vashou aan die waarhede wat vroeër deur die Bybel aan ons oorgedra is. Maar, tegelykertyd daarmee, moet ons bereid wees om in ons eie tyd, en in die lig van ons eie omstandighede, ’n volgende tree te gee. Daarmee word die geloofstradisie juis lewend en kragtig gehou.
Laastens, diegene wat dalk meer wil lees oor die herinterpreterende ontstaan van die Bybel, kan gerus dié artikel lees.
