Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In Lydenstyd dink die kerk oor die wêreld heen na oor Christus se lyding en kruisdood; daardie swaarder, donkerder aksente aan die goeie nuus van die evangelie. Paulus self preek die gekruisigde Christus (1 Kor 1:23), maar erken ook dat hierdie Christus – wat deur die donker en dood oorweldig word aan die kruis – ’n struikelblok vir sommige en dwaasheid vir ander is. Dit sou maklik wees – tipies, dalk selfs, van ons tydsgees – dat ons in hierdie tyd sou wou aanbeweeg nadat ons Lydenstyd herdenk het, na ligter, blinker, gelukkiger vibes.
Die donker was nog nooit juis ’n gewilde tema nie. Dit sou maklik wees om slegs aan die kerklike hoogtepunte – Kersfees, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster – te wil vasklou, en te wil vergeet dat donkerder, meer somber aksente óók aan die hart van die evangelie lê. In die Evangelies vind ons immers verskeie verwysings na die donker: ín die donker van Getsemane, ín die donker aan die kruis, en ín die donker van die graf, speel die goeie nuus van die evangelie af. So waarom kyk ons hierdie donkertes mis, wanneer soveel van ons die teenwoordigheid van die donker so goed ken?
LEES OOK: Dana Snyman skryf vanuit Machadodorp: ’n Skriba se stories en die manier waarop ons land anders word
In haar boek Learning to walk in the dark (2014) beskryf Barbara Taylor Brown ‘die donker’ as enigiets wat ’n mens bang maak, omdat dit iets is wat ’n mens nie seker is jy sou oorleef nie. Die donker is ’n versamelnaam vir alles wat ons dink ons lewe, en florering, en waardigheid bedreig, want ons assosieer dit wat onbekend is met gevaar.
Die probleem is egter dat ons in die gewoonte verval het om die donker, ook in onsself, te vermy. Sy meen dat alles om ons ’n simptoom daarvan is, insluitend ons kollektiewe verslawing aan skerms, TV en sosiale media. Ons dink ons kan die donker afskrik, wegskrik, as ons saam ons lig laat skyn, deur te lag en te sing en lief te hê (aldus die lieflike lied “Scare away the dark” deur Passenger).
Selfs moraliteit word opgedeel in lig en donker: alles wat goed, reg en lewegewend is assosieer ons met lig, en alles wat sleg, sondig en boos is met donker. Ons identifiseer God met die sonnige deel, en as ons dit nie regkry om alles wat donker is in onsself en ander mense in ’n kas te druk nie, dan word dit goed waarmee ons alleen moet worstel, meen Brown. Ons regverdig dit met tekste soos 1 Johannes 1:5: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” So, waarom sou ons wou, en kon, leer om die donker as ’n geskenk te ontvang?
LEES OOK: KYK: Dominee se debuutroman vra vrae oor vrouwees in manswêreld
Die Bybel ken die donker omdat die Bybel gebore is uit verskillende vorme van (veral kollektiewe) trauma, soos ervaar in ballingskap of met die verwoesting van die tempel en die stad Jerusalem. So argumenteer die Amerikaanse teoloog David Carr in sy boek Holy resilience (2014). Daarom bied die Bybel, argumenteer Carr, nie net ’n geskrewe rekord van die oorlewing van lyding nie, maar ook ’n verskeidenheid reaksies op en hanteringsmeganismes van lyding. Trauma vra van ons, soos wat dit van gelowiges oor eeue heen gevra het, om eerlik met die donker in onsself en ander te wees.
Ons ontsnap die donker ook nie binne die evangelie nie. Aan die hart van die Christelike geloof lê die donker realiteit van Godsdood. Carr noem die kruisiging van Jesus Christus die stigtingstrauma of oorsprongstrauma van die Christelike kerk. Paulus is die getraumatiseerde apostel en die evangelie is die post-traumatiese evangelie, aldus Carr, want selfs na die kruisdood van Christus sou volgelinge traumaties vervolg word. Met die opstandingsgebeure word daar ook nie juis afgereken met trauma nie, want selfs die opgestane Christus bly dra aan die letsels, daardie tekens van verwonding, van die kruisiging.
Trauma is die ‘gewelddadige geskenk’ waardeur ons noodwendig groei, en waaruit ons ’n dieper veerkragtigheid (of resilience) kan ontwikkel. Dit is die antieke wysheid wat opgesluit lê in sowel die Judaïsme as die Christendom, meen Carr, naamlik dat dit ons dring tot groter soberheid oor die werklike karakter van die wêreld en die lewe. Ons kan nie, maar ons hoef ook nie, weg te skram van die donker nie, want ons almal – ook diegene wat voor ons geleef het – ken die donker.
Dit is ons troos dat God ons nie net in die donker – die dieptepunte van ons mensbestaan – ontmoet nie, maar dat Christus in Getsemane, aan die kruis, en in die graf die donker self ook intiem sou leer ken. Miskien hóéf die donker nie vreesaanjaend te wees nie, maar kan dit ook ’n uitnodiging word om daardie oomblikke waarin ons gestroop word van alles wat ons dink belangrik is, te omarm, sodat ons meer ménslik met mekaar kan leer saamleef.
Geseënd is hulle wat leer om te loop in die donker.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is lid van die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.