Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Annatjie Streicher, wat onlangs 69 geword het, dra ’n hele era se herinneringe met haar saam. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman skryf vanuit Machadodorp: ’n Skriba se stories en die manier waarop ons land anders word


Stadig skommel ek in Machadodorp se hoofstraat af, verby die poskantoor waarvan die teken gebreek is. “P  st Offi   ,” sê dit nou.

Die ou kontantwinkel behoort nou aan ’n kêrel van Pakistan of Bangladesh. Voor die meubelwinkel borrel musiek vol vreemde ritmes uit ’n luidspreker. Slaggate. Papiere op die sypaadjies. Vroue wat vrugte en groente, sakkies grondboontjies en goedkoop sigarette op die sypaadjie verkoop.

LEES OOK: PODSENDING | Jaco Strydom gesels met Rudi en Ivor oor die kerk en die land wat brand

Ek sukkel om die gevoel te beskryf wat ek kry wanneer ek sien hoe soveel dorpe in die land besig is om te verander. Soos ook hier.

En dan, ’n paar straatblokke verder, is die NG Kerk, die tamaai grasperk rondom die gebou en die saal kort gesny, met struike en blomme in die beddings. Alles netjies en so-so bekend, al is dit die eerste keer dat ek hier kom. Gewoonlik ry ek op die N4 verby die dorp.

Dit is ’n Vrydagoggend en aan die konsistoriekant is ’n motor geparkeer. Die koepelvormige kerkgebou sê vir my Gerhard Moerdyk kon dit ontwerp het.

Ek hou daar stil. Die konsistoriedeur staan oop. Ek stap in: die blokkiesvloere blink. Die reuk van Mr Min of iets soortgelyk is in die lug. Die rooi tapyt voor die preekstoel. Die genadige skemerte van ’n kerkgebou. So spreek die Here.

LEES OOK: ’n Oggend by prof Piet Strauss (71): Oor taak, groepsgevoel en die individu

’n Vrou kom by ’n deur oorkant die konsistorie uit. Annatjie Streicher. Ons begin gesels. Sy is al 36 jaar die skriba hier. Hoe langer ons gesels, hoe meer kom ek agter Annatjie is sommer die koster ook. Annatjie hou dinge hier aan die gang.

Hier is nie meer ’n voltydse predikant nie. Die pastorie word verhuur.

Op die lang tafel in die konsistorie lê die konistorieboek: Nou Sondag wat verby is was hier 28 mense in die kerk. Twee Sondae voor dit 11. So gaan dit maar.

Hier is nie meer baie boere in die omgewing nie, verduidelik Annatjie. Boonop het die myn buite die dorp toegemaak en die jongmense verlaat die dorp.

Annatjie onthou ’n tyd toe die kerk – dit is inderdaad ’n Gerhard Moerdyk-ontwerp – op ’n Sondagoggend vol gesit het. By die 700 mense. Die koshuiskinders altyd op die galery.

LEES OOK: Wat kan ’n mens by dié vyf klein gemeentes leer? 

“Jan Botha-hulle het altyd hier gesit.” Sy beduie na die derde bank van voor. “Hier sit Ampie-hulle.” Sy glimlag. “Hier het Willem Blom-hulle altyd gesit. Hulle het baie kinders gehad. Hulle sit sommer ’n hele bank vol.”

Annatjie, wat onlangs 69 geword het, dra ’n hele era se herinneringe met haar saam.

“Ons het ’n oom hier gehad. Oom Psalmvoete het ons hom genoem,” praat sy uit haar geheue uit. “As oom Psalmvoete begin bid, het hy nie maklik opgehou nie. Hy bid en bid en bid …” Oom Psalmvoete was een van die manne wat destyds selfs vir die “mense wat in die kragsentrales werk” gebid het. ’n Gebed wat in hierdie Eskom-tyd dalk meer nodig is.

Ons stap terug konsistorie toe. Die gemeente is in 1912 gestig en die kerkgebou is in 1928 ingewy. Hulle het ’n stuk of 30, 40 kerkraadslede gehad toe sy skriba geword het. Sy onthou hitsige kerkraadsvergaderings wat tot middernag geduur het – veral in die tyd toe die beleidstuk Kerk en samelewing bespreek is. In die 1980’s. Toe die NG Kerk bely het die regering se beleid van apartheid is on-Bybels.

“Ek onthou hoe oom Paul Venter daar sit.” Sy beduie na ’n stoel. “Dan praat hulle en redeneer, later haal oom Paul sy pakkie sigarette uit sy sak. Nou sit ek hom en bekyk. Later sit hy die sigaret in sy mond van kwaadgeid. Hy wil begin rook om homself te kalmeer.”

Annatjie neem my na haar kantoor toe. Dadelik dink ek aan my oorlede ma, wat ook vir jare ’n skriba/kassier was. Die liaseerkabinet. Die tafeltjie waarop ’n faksmasjien staan. Eens het daar ’n afrolmasjien gestaan. Dan tik Ma eers die gemeentebrief op wasvelle, wat dan in die afrolmasjien gesit is wat dit op foliovelle uitdruk. Ek verbeel my ek kan nog daardie reuk van die drukkersink ruik.

LEES OOK: Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk

In die staalkabinet met die twee deure is die notuleboeke van kerkraadsvergaderings – waardevolle dokumente wat ’n hele tydsgees verwoord. Op elke kerkraadsvergadering sit die skriba by en notuleer alles wat gesê en besluit word.

Op 11 Mei 1987 is onder andere besluit “dat ’n skrywe gerig word aan lidmate wat volgens die geloofsbelydenis nie reg leef nie”.

Later kom loer Oostewald en Cornelia van Niekerk, twee van die gemeente se ses kerkraadslede in. Hulle bevestig wat Annatjie vertel: Die gemeente sukkel, maar hulle bly aan die kerk vasklou. In die Covid-tyd het hulle kospakkies opgemaak vir mense wat sukkel, ook mense in die township.

Annatjie se man, Pieter, is aan Covid oorlede. Sy gaan wys my die kerksaal. Alles blink en in die portaal voor die toilette hang die reuk van lugverfrisser, soos dit in ’n kerksaal hoort.

LEES OOK: Droogte: ‘Die Here weet wie jy is, waar jy boer en waardeur jy gaan’

Op soveel plekke is vroue – ja, dikwels is dit ’n vrou – soos Annatjie wat op allerhande maniere sorg dat die kerk en die kerkterrein nie soos die res van die dorp lyk nie. Annatjie het ook twee helpers: Nurse Nkosi en Given Nobunga.

Ons groet. Annatjie word al kleiner in my truspieëltjie.

Dikwels is ek bang my geloof word bloot ’n nostalgiese verlange na ’n manier van leef wat eens vir my sekerheid gegee het. En dan ontmoet ek iemand soos Annatjie, wat hoopvol bly leef ondanks die manier waarop die land anders word. Dit gee ’n mens moed.

Stadig ry ek weer deur die slaggate terug na die N4.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

5 thoughts on “Dana Snyman skryf vanuit Machadodorp: ’n Skriba se stories en die manier waarop ons land anders word”

  1. Dankie vir die mooi vertel, soos net jy dit kan doen. Laat my ver terugdink. Na 80 Jaar kan ek net sien hoe alles verander het, en ons kan net vra: ” Here waar dan been?”

  2. Baie dankie Dana, ek geniet dit altyd om jou artikels te lees. Ja, as ‘ sewentig jarige is dit nie baie lekker om te sien hoe die wereld om ons verander het en nog steeds verander nie.
    Groete,
    Nella

  3. Hierdie leesstuk bring soveel herhinneringe terug!! As n ou-lidmaat van die Kerk, kan ek terug dink aan die tye toe daar +/-700 mense op n Sondag vir die nagmaal opgedaag het. Met die afsluiting van die diens was dit die norm om die Onse Vader te sing, die dak kon oplig soos die stemme, alles saam die orrel, die Hemelse Vader aanbid het! Hoendervleis storie…..dankie Dana! Bring baie goeie herhinneringe terug!

  4. De Villiers Hauptfleisch

    Ja ons koshuisbrakke moes die kerk vol maak verpligtend soggens en saans. 1959 NGK Postmasburg. Een van die redes waarom ek lankal nie meer kerk toe gaan nie. Soms kom ek darem nog in die kerk met troues en begrafnisse, maar om na lang preke te luister is ek nie voor lus nie.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.