Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Iets belangriks van Suid-Afrika sal verlore gaan as die NG Kerk nie meer bestaan nie,” hoor Jaco Strydom by Ivor Swartz en Rudi Swanepoel. Foto: Verskaf

PODSENDING: Jaco Strydom gesels met Rudi en Ivor oor die kerk en die land wat brand

As jy Rudi Swanepoel en Ivor Swartz se gesprekke kon afluister, sou jy hoor hoe hulle een oomblik kwaad is, moeilike vrae vra of sommer uit die bloute een of ander wilde belydenis maak en dan weer skielik, hoe hulle skerts en lag; en heel waarskynlik al die bogenoemde in die bestek van ’n paar minute.

Nie vervelige mense nie!

Gelukkig kry ons nou weer die kans om ’n vlieg teen hulle muur te wees. Hulle tweede gespreksreeks is pas op TV. Op Ons vir jou, op Via se kanaal 147, gesels Rudi en Ivor met ’n klomp interessante mense oor ’n hele rits komplekse dinge. En dit is alles behalwe pretensieus. Kyk jy daarna voel dit kompleet of jy afloer, want hulle gesels soos by ’n braaivleisvuur, of met loadshedding om ’n paar kerse met ’n bottel wyn.

LEES OOK: VIDEO | Ons kort dieper vrae oor wat normaal nou eintlik is

Waarom juis “Ons vir jou”? vra ek.

“Ons wou die bekende woorde op ’n inklusiewe manier reclaim,” sê Ivor, “daar is ’n hordes Suid-Afrikaners wat sê, ‘ons wil vir jou staan, Suid-Afrika, met al jou stukkend, met al jou nonsens, ons glo nog steeds in jou!’

“En ons wou hê dit moet thought-provoking wees,” erken Rudi, “die idee was nooit vermaak nie, die doel is eerder om mense in te nooi in moeilike gesprekke in.”

Rudi sê hulle wil ook nie bloot mense inspireer nie, want te veel mense is deesdae kamstig geïnspireer sonder dat hulle veel doen. Hulle hoop dat die gesprekke uiteenlopende mense nuuskierig sal maak om ook nader aan mekaar te beweeg, sodat hulle dit sal waag om eerlik te gesels en saam te begin soek en ontdek.

Ivor en Rudi glo natuurlik dat dit moontlik is, want dís wat met hulle gebeur het.

 

 

Ivor vertel van die eerste vreemde “weerlose konneksie” toe hy en Rudi die eerste keer in ’n koffiewinkel in Melville ontmoet het: “Daar was ’n gevoel van, ons moet praat oor die goed tussen en binne-in ons. Alles wat hier ín my lê, die vrae oor gelowigwees met ’n klomp baggage, oor wat dit is om na witmense te kyk. En Rudi het weer ’n klomp van sy eie goed ge-offload. Ek onthou die spesifieke dag, daar was iets van ’n holy moment, ’n sacred moment, in daai Whippit in Melville. En ons het net aanhou explore oor wat sou gebeur as ons aanhou gesels oor wat onder die oppervlak lê; van my as ’n bruin man in Suid-Afrika en hom as ’n witman in Suid-Afrika.”

En eers heelwat later sou hierdie private gesprekke tussen hulle geboorte gegee aan openbare gesprekke op TV.

Lees ook: Leraars bied videoreeks as gratis ‘tooltjie’ vir versoening

Ek beleef self iets van die heilige oomblik waarvan Ivor praat toe Rudi John Kani se woorde aanhaal: “My biggest regret is that we have been denied each other!”

Die twee kom uit totaal verskillende wêrelde in hierdie land. Ivor, uit die bruin gemeenskap in ’n arm woongebied in Grabouw, waar hy selfs in ’n stadium ’n draai in die tronk gemaak het, en Rudi, uit ’n tipiese wit Afrikanerhuis, nie sonder probleme nie, maar met “ander probleme” wat moeilik vergelyk, verduidelik hy.

“Ek het ’n bakkie-vrag issues uit my verlede wat ek gewéét het, nie lewe gebring het nie,” sê Rudi, “die (oortuigings) wat ek gehad het oor swart en bruin mense in hierdie land het nie na lewe gelei nie, en dit maak my tot op hierdie dag diep ongelooflik hartseer, want ek weet ek is nie die enigste een nie.”

Lees ook: Ivor Swartz skryf ingelig, toeganklik, treffend oor depressie

Later sê Ivor: “Ek weet hoe ryk ek nou is, want my garage is nou so groot soos wat my hele huis was waar ek grootgeword het. Ek moet myself gedurig hieraan herinner as ek oor bevoordeelde mense wil oordeel.”

Nog iets wat ’n unieke dimensie gee aan Rudi en Ivor se gesels, is die feit dat hulle albei vandag NG dominees is; Ivor by Oosterlig in Pretoria en Rudi by Andrew Murray-gemeente in Johannesburg.

Ivor vertel hoe “geweldig uitdagend” sy eerste paar jaar as dominee in ’n wit gemeente in Pretoria was en Rudi sê hy beleef sy eie verhouding met die NG Kerk “uiters kompleks”.

Ons praat oor die rol van die NG Kerk in Suid-Afrika vandag.

“Elke nou en dan gesels ek met van my ander vriende wat sê die NG Kerk is in sy chops in,” sê Ivor. “Hulle wil hê ons moet met alle mag wegbreek en ons eie nuwe godsdienstige laer trek. Maar in daai sense het ek nog baie hoop. Ek dink die NG Kerk het steeds ’n genuine legitimate plek en ’n rol te speel in die Suid-Afrikaanse landskap van vandag. Iets belangriks van Suid-Afrika sal verlore gaan as die NG Kerk nie meer bestaan nie.”

Ons gesels oor die broeiende spanning en konflik in die land. Ek vra vir Rudi wat hy vir Julius Malema, en vir Ivor, wat hy vir Steve Hofmeyer sou sê.

“Ek sou vir Julius Malema wou sê, vertel my van jou woede,” sê Rudi, “en ek dink ek sou dit dalk kon verstaan, want ek worstel self met woede. Ek weet dat ek nie sy perspektief op die werklikheid het nie.”

“Ek sal vir Steve genuinely wil laat glo dat daar steeds plek is vir hom in Suid-Afrika, dat daar steeds genoeg ruimte is vir hom om ten volle mens te wees, ons sal net moet praat oor wat dit beteken,” sê Ivor.

Wat moet gebeur as ons wil hê dat die kerk ’n groter rol moet speel in ’n land soos dié, vra ek en Ivor haal woorde aan uit die lied genaamd “The Jesus I know”:

 

          “Jesus, do you ever feel misunderstood

          when You look at what this thing has become?

          How does something that sides with the least,

          be the thing that excludes them the most?”

 

“Dis nie the least se skuld nie,” sê Ivor. “Dit is nie hulle wat hulle game moet step-up nie, dis ons wat moet step-down!”

Soos Jesus.


Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top