Leraars bied videoreeks as gratis ‘tooltjie’ vir versoening

Hulle weet baie mense is “potvol” om te hoor van versoening maar dit is omdat hulle nie tot aksie oorgaan nie sê Rudi Swanepoel en Ivor Swartz, twee NG dominees wat met ’n praktiese gespreksreeks mense wil wys hoe om daai moeilike gesprekke ter wille van beter wedersydse begrip te voer.

Met die idee om só ’n reeks op ’n meer alledaagse manier beskikbaar te maak is hul verlede jaar na Netwerk24 wat toe ’n reeks van 10 kort episodes, elk ses minute lank met verskillende gaste, van 20 Oktober tot 19 November op hul webwerf uitgesaai het.

Die reeks is vanjaar vanaf einde Februarie gratis op die ons vir jou.tv-kanaal beskikbaar waar enigeen die video’s en podsendings kan gebruik “om deel te neem aan die diep-werk, en saam te gesels oor dit wat ons meer saambind eerder as verdeel as Suid-Afrikaners” soos Netwerk24 die reeks laasjaar bemark het.

Ivor Swarz en Rudi Swanepoel saam met die akteur en komediant Bouwer Bosch wat mense op sy aanlyn-profiel aanmoedig om by rasverskille verby te beweeg.

Hoe het die reeks gebeur?

Die antwoord op dié vraag lê opgesluit in die diep-werk wat hierdie twee leraars uit wyd uiteenlopende agtergronde in die bou van hul eie vriendskap ingesit het en Kerkbode moenie kort antwoorde in dié gesels verwag nie begin Ivor, Oosterlig-gemeente in Pretoria se eerste bruin jeugleraar tydens ’n onlangse Zoom-gesprek tussen Kerkbode en dié twee vriende oor hul gesprekreeks.

“Vir my het dit begin by twee vriende se gesels oor wat is die diep-werk wat ons in onsself moet doen … om mekaar se stories te wou explore … en dít op die tafel sit om ’n groter gesprek in Suid-Afrika te hê,” antwoord hierdie jong pa in sy wit t-hemp met die woorde ‘Bly asseblief lewe’ daarop. Sý storie het begin as “n verhaal van skop, skiet en bekering” wat hy vertel in sy outobiografiese debuutwerk ‘Die verlore seun van die Gaatjie’ waarvoor hy verlede jaar met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk by die Andrew Murray-prysfondstoekennings bekroon is.

Lees meer oor Ivor se lewenspad in: “Ons het almal ‘n klomp genade nodig”

Ivor vertel vir hom om Rudi werklik as mens te sien het geverg dat hy homself vra: “Wat is die goed wat binne my opkom as ek hom sien, ’n wit middeljarige man wat in Johannesburg bly, en is daai goed rerig?”

Rudi is al amper 13 jaar leraar by die multi-kulturele Andrew Murray-gemeente in Johannesburg en is ’n gereelde rubriekskrywer vir die Christelike tydskrif LiG, Kerkbode se susterpublikasie. Sy eerste boek, ‘Kom sit aan – Maak ’n fees van die gewone’ wat in 2018 verskyn het, gaan oor een van sy ander groot passies: saam eet.

Lees meer oor Rudi se ander passies in: Luister: die passie en frustrasie van Rudi Swanepoel

Hy is jarelank al passievol oor die bou van verhoudings tussen mense met verskillende agtergronde en lewensuitkyke. “Vir my is Ivor se gedagte van diep-werk amper die belangrikste in hierdie gesprek ook,” beaam Rudi terwyl sy hande saam beduie vanuit die moue van sy blou langmou hemp, ’n liggrys top los om sy skouers.

Soveel mense is besorg oor die stram verhoudings tussen verskillende groepe in die land, maar Ivor se frase van diep-werk het dít by hom tuisgebring: “Ons slaag nie in goed soos versoening omdat ons nog nie binne toe gekyk het nie. Ons het nog nie gevra wat is my vooroordele nie… my beliefs … my persepsie. Baie keer is dit so eenvoudig soos dat ons net nie die geskiedenis of stories ken nie,” sê Rudi.

Hierdie diep-werk was die vertrekpunt van hul vriendskap en die gesprekreeks het gebeur omdat hulle vir mekaar gesê het: hoe help mens ander mense om deel te neem aan diep-werk om by ’n herstel van vertroue en versoening uit te kom – iets wat beide meen die hart van die evangelieboodskap is.

 

Evangelie die enigste agenda

“Die enigste agenda wat ons dryf, is die evangelie. As ons beter met mekaar oor die weg wil kom, as ons meer respek wil kweek, as ons mens wil wees en ander mense toelaat om mens te wees sonder om dit op ’n patronising manier te doen. Dan moet ons praat oor hoekom sukkel ons so,” sê Rudi wat uit ondervinding kan praat. Hy en sy gesin woon langs jongmense uit verskillende kultuurgroepe wat op hulle kerkterrein huisves word.

Hy sê dit is ok as jy moet hand opsteek en sê jy weet nie hoe om te sê wat jy voel nie so jy gaan dit net sê. Wat vir hom en Ivor belangrik is, is dat mense wel probeer want dié diep-werk na versoening gebeur nie sommer vanself nie.

Soos Ivor dit stel, dit gebeur nie om braais, by koffiekuiers of kleingroepe waar almal soos jy lyk, dink, praat en julle kinders in dieselfde skool is nie. Die hoeveelheid kere wat iemand wat anders lyk, dink en praat, wat só iemand oor jou deur se drumpel trap sonder dat die persoon jou huis kom skoonmaak moet jou ‘n indikasie gee van hoe besig jy met versoening is, sê hy.  

Dit verg intensionaliteit en doelbewustheid, maar vir dié wat deelneem bied dit ook die geleentheid om iets goed te doen en dit gee hoop verduidelik Rudi. Hierdie hoop is iets wat hy nie sterk genoeg kan beklemtoon nie: “Ek en Ivor wil bitter graag mense aanspoor om hulle lywe nie net na mekaar te skuif nie, maar ook na ruimtes waar daar hoop is en waar daar lewe is. Ek wil partykeer in my hande huil as ek dink hoe min die kerk doen om mense te shift na life affirming en life giving en joyful spaces toe. Dit breek my partykeer rerig,” beduie hy met altwee sy hande en bly dan stil waarop Ivor inkom met sy waarneming dat hy dink mense raak “potvol” van hoor van versoening omdat dit net by hoor bly. Hulle gaan nie tot aksie oor nie.

“Die oomblik wat jy die kleinste aksie neem … skuif jou kop, skuif jou lyf, skuif jou hart al klaar en dan wil jy meer doen. Maar jy raak potvol want jy hoor hoor hoor en jy raak so obese met content, jy raak oorgewig met versoeningscontent, met demokrasie content, met liefde content dat dit nooit vir jou in aksie sit nie,” sê Ivor.

Die teoloog en akademikus prof Rodney Tshaka het gesels oor die verhouding tussen ras, godsdiens en versoening.

Lidia Rauch se maatskappy Bloomenterprise fokus daarop om versoeningsgesprekke te fasiliteer en brûe tussen mense te bou.

In ons land waar soveel groepe wantrouig teenoor mekaar voel, wil die twee leraars dan graag sien dat gemeentes van die reeks gebruik maak om sulke gesprekke te begin, en ook skole. Al wat nodig is, is om ’n groep bymekaar te kry en ’n fasiliteerder wat seker maak die ruimte waarbinne die vrae gestel word is ’n geskikte ruimte. Ivor self is al na skole genooi om rasse-spanning te help ontlont en dan gebruik hy die vrae wat hulle in die reeks aan gaste vra om tussen onderwysers met mekaar en kinders met mekaar gesprekke los te maak.

Die tien gesprekke wat hulle in die eerste reeks gevoer het egter nie net oor ras gegaan nie, maar ook oor fisiese gestremdheid en gender-kwessies. Hulle gaste in die eerste gespreksreeks is juis gekies om divers te wees. Hulle is almal aksie-mense soos die akteur en komediant Bouwer Bosch wat sê mense moet praat oor versoening, die joernalis en aanbieder Ivor Price wat in wit boere se huise gaan sit om hul stories te hoor, sakeman Barend la Grange wat mense mobiliseer om duisende gate in paaie op te vul en radio-aanbieder Charlene Lackay wat mense aanspoor om volhoubaar te leef.

“Hierdie is ’n klein tooltjie om gesprek moontlik te maak wat nie niks is nie … die feit dat ek en Ivor kan praat oor ekonomiese ongelykheid en hy wys my wat is die gesig van armoede in Grabouw en met al die kompleksiteit wat daarmee saamgaan, dan is dit nie meer praat nie. Dan voel ek, ek het geluister en ek kan anders gaan doen, ek kan anders gaan praat op plekke .. my grappies verander want daar is sekere grappies wat net nie ok is nie,” sê Rudi wat byvoeg hulle werk reeds daaraan dat opvolggesprekreekse in die toekoms kan volg.

Word 'n vriend van Kerkbode