Boek oor skop, skiet en bekering onder die wenners van Andrew Murrayprysfonds

Die Vreesloos eerlike debuut deur ’n behendige storieverteller tel onder die drie groot wenners van die Andrew Murrayprysfonds vir 2021 wat vandeesweek bekend gemaak is.

“Wanneer die monster gerook en kwaad by die huis aangekom het, het hy ons om die een of ander rede herinner dat ons in sy pa se huis bly. Ons het dieselfde ouers gehad. Donker pa, spierwit ma,” skryf Ivor Swartz in Die verlore seun vannie Gaatjie. Die boek is bekroon met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk.

LEES OOK: “Genade wat die leser kan sien, voel proe en ruik”

Die wenner van die Andrew Murrayprys, wat R25 000 bedra, was Malcolm de Roubaix met Hoop, heling en harmonie: Dink nuut oor siekte en genesing.

Die wenskrywer daag lesers uit om “die mediese en gesondheidskwessies van ons dag op ’n radikaal holistiese wyse te sien en te probeer oplos,” meen beoordelaars luidens ’n verklaring wat deur dr Frits Gaum, voorsitter: Andrew Murray-prysfonds, uitgereik is. “Die mees beduidende uitspraak vir die optimale verstaan van die teks, is sekerlik De Roubaix se stelling dat daar inderdaad geen ‘finale’ antwoord op die vraag na die ‘diepere’ betekenis van pyn, siekte en lyding is nie,” aldus die beoordelaars.

“Die skrywer is ook oortuig dat siekte allereers ’n uiters persoonlike ervaring is wat ’n mens tot in die diepste van sy en haar wese raak en interaksie met die wêreld radikaal affekteer. En ’n omvattende, interreligieuse beskouing lei asof vanself tot die insig dat daar weinig verskil is – filosofies – in hoe ’n verantwoordelike Christen, Moslem, Boeddhis of Jood, elkeen in sy eie konteks, siekte behoort te benader. Hoop, heling en harmonie is by uitstek Christelike en teologiese ‘merkers’ en daarom so relevant.”

Swartz vertel in Die verlore seun vannie Gaatjie van sy grootwordjare in ’n arm deel van Grabouw asook oor sy latere tyd in die gevangenis. “Nie die prentjiemooi Elgin-gedeelte nie, maar die stowwerige rooigrondstrate van die Gaatjie – noemnaam van die gebied waar ek grootgeword het,” skryf Swartz in hierdie boek wat die skrywer opdra aan “elke verlore seun en dogter wat soek, wat smag, wat hunker, wat huil.”

LEES OOK: “Ons het almal ’n klomp genade nodig”

Die prysgeld van R15 000 beloon die werk aan hierdie verhaal van skop, skiet en bekering en Swartz moes met strawwe kompetisie meeding in ’n kategorie waarin ’n sterk gemene deler onder vanjaar se inskrywings ’n soort indagtige (mindful) memoires-benadering tot geloof was. Persoonlike narratiewe met een of ander “device” wat die leser moet begelei en die boek vorm gee. “Die boek is uiters aktueel omdat dit ’n lewensverhaal vertel wat uit die armste en rofste dele van die samelewing kom,” meen die beoordelaars. “Dit vertel die ‘story from below’ en is ‘a simple story well told’.”

Nog ’n onopgesmukte vertelling is bekroon in die vorm van Hykie Berg se boek, Ultimate survivor. Berg is die wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir 2021 en steek R25 000 in die sak. Wat in die boek ontvou, is die invloed wat kinderdae se disfunksionele gesinslewe op ’n mens se latere lewe kan hê, meen die beoordelaars. “Beide die komplekse realiteite van verslawing en die rol van geloof, word op ’n geloofwaardige manier aangebied. Berg ‘preek’ nie vir sy lesers nie, maar vertel sy verhaal eerlik, deeglik en chronologies en wil daardeur ander help om hulle eie verslaafdheid te oorkom. Hiervoor span hy dieselfde twaalf stappe van herstel in wat hy in sy eie lewe toegepas het. Die twaalf stappe self is nie nuut nie, maar wel die wyse waarop dit in die boek aan die orde gestel word. Die inmekaarvleg van die twaalf stappe en die outeur se outobiografiese vertelling is uiters goed gedoen,” aldus die beoordelaars.

Die prysoorhandigingsfunksie sal weens die pandemie nie soos gewoonlik in Mei plaasvind nie, maar hopelik in September op Wellington, volgens Gaum.

LEES OOK: Verklaring: Andrew Murray-prysfonds


Verdere belangrike toekennings

TOEKENNINGS

 ANDREW MURRAY-FAK-TOEKENNING VIR CHRISTELIKE MUSIEK

Jan de Wet, geliefde Afrikaanse sanger van liedere in verskillende genres, is die ontvanger van die Andrew Murray-FAK-toekenning vir 2021.

CLF-ELISE TEMPELHOFF-TOEKENNING VIR OMGEWINGSBEWARING

Ter erkenning van sy groot bydrae om teologiese gesprek oor natuurbewaring te stimuleer en ’n Christelike standpunt oor die ekologie te help ontwikkel binne die konteks van die ekumeniese kerk in Suid-Afrika, ontvang ds David Botha, VGK-predikant, die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring vir 2021.

JAAP DURAND-DENISE ACKERMANN-TOEKENNING VIR EENHEID, VERSOENING EN GEREGTIGHEID

Twee bekende Suid-Afrikaners wat onlangs oorlede is, prof Mary-Ann Plaatjies van Huffel en dr Danny Titus, word gesamentlik nadoods met die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vereer vir hulle besondere bydrae tot eenheid, versoening en geregtigheid in die kerk en in ons land.

  • Deursigtigheid: Die skrywer van hierdie berig was een van die beoordelaars.
Word 'n vriend van Kerkbode