Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Genade wat die leser kan sien, proe, voel en ruik’

Die verlore seun vannie Gaatjie deur Ivor Swartz
Uitgewer: Lux Verbi, 2020


As ek eerlik is, moet ek erken dat my en Ivor se lewensverhale wêrelde van mekaar verskil. Dit laat my skuldig voel. Dit maak my ook dankbaar vir my eie verhaal, maar dalk die belangrikste – dit gee my nuwe perspektief. Ivor vertel sy verhaal aan die hand van Lukas 15 en Jesus se gelykenis oor die verlore seun. Hy verduidelik dat hy self al die verlore seun was, maar ook al die ontevrede oudste broer.

Wat hy uitstekend regkry, is om my ’n paar treë in sy skoene te laat stap. Skoene wat vir my vreemd sit, waarvan ek voorheen bitter min geweet het. Dit is ’n voorreg om hierdie treë te stap. Dit is beslis nie ’n maklike reis nie. Daar is tye waar ek net wou ophou lees, want dié pad is te steil. My oë vol trane kan nie verder lees nie, maar dan onthou ek Ivor se eie woorde – ek moet hom nie jammer kry nie, hou moed, byt vas met die storie, Hoop en Lig is op pad.

Ivor raak in hierdie boek ’n kommerwekkende werklikheid van ons samele­wing aan, die afwesigheid van pa’s en die enorme invloed wat dit op ons jongmense het. Daarmee saam ook die siklus wat nodig is om gebreek te word. Hy vertel ook met groot waardering oor die rol van sy ma in sy verlore-pa-konteks en hoe dit daarom vir hom makliker is om God as ’n ma eerder as ’n pa te aanbid.

Hoop en Lig is beslis ook wat Ivor met hierdie diepe persoonlike verhaal met ons deel. Ek is verstom oor die hoe­veelheid dankbaarheid wat hy met hom saamdra. Hy skryf oor die Here se genade op so ’n kosbare manier dat ’n mens dit kan sien, voel, proe en ruik. Hierdie boek is ’n rou, eerlike verhaal, nie net van ’n man se tuiskoms nie, maar ook van ’n verlore seun se verstaan van die Vader.

Die verhaal van die verlore seun vannie Gaatjie is ’n aangrypende verhaal van die Vader wat nooit opgehou het om dié seun te soek nie. Dit is ’n verhaal wat jou ’n nuwe verstaan van ’n reeds kosbare gelykenis gee. Dit is ’n verhaal van tuiskoms en genesing. Dis die verhaal oor die krag van liefde en hoe ’n mens daarin jouself kan “vind”.

Lees ook gesprek met Ivor

Ds Anje Zeeman is ’n predikant by die NG gemeente Driehoek in Vanderbijlpark.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top