LUISTER: Die passie en frustrasie van Rudi Swanepoel

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Moenie bekommerd wees wanneer die grafiek op ’n hartlongmasjien op en af gaan nie, dit is ’n teken van lewe! Wees bekommerd as dit nié gebeur nie – as die ding flat-line. Só is dit ook met die lewe. Die werklikheid is lig en donker, dag en nag, goed en boos, mooi en lelik, wonderlik en hartseer, op en af … Ek raak bekommerd oor mense wie se gemoed heeltyd iewers in die middel rondhang.

Rudi Swanepoel is nie een van hulle nie.

“Rudi is real,” sê iemand nou die dag. ’n Goeie opsomming. Ons het al saam gelag en gehuil, en ek het die voorreg gehad om hom meer as een keer kwaad te sien. Meestal oor dinge wat in die kerk gebeur, of nie gebeur nie.

Luister die podsending van hierdie gesprek HIER

Elke keer was ek beïndruk, het ek gewonder, waarom meer mense nie ontsteld raak oor die dinge wat Rudi ontstel nie? (Daar ís ’n ding soos holy anger!) Hierdie land kon ’n beter plek gewees het as meer dominees die ou se passie gehad het.

Rudi skryf en kook en drink wyn en hardloop – onder andere – en hy is dominee. Hy het al sewe keer die Comrades-marathon gehardloop. Sy boek Kom sit aan – Maak ’n fees van die gewone het in 2018 verskyn. Dit gaan oor een van sy groot passies: saam eet.

Lees ook: In die slaapkamer, langs die bed …

Vir Rudi is daar iets heilig, selfs misties, aan gemeenskap om die etenstafel. So ook aan die kosmaak en kookproses self. Nou die dag skryf hy:

“Dit het al soveel keer gebeur: dié onteenseglike herinnering aan die goeie, aangekondig deur die nederige brood.

“Die boodskap kom gewoonlik op ’n moeilike dag, wanneer die kompleksiteit van menswees (ons almal s’n) binne ’n onderstebo wêreld (soos geregistreer in Suid-Afrika, die VSA en selfs die oënskynlik ongelooflike Kanada) broeiend dreig om te oorweldig.

“Jy, jy het net opgedaag, die drie bestanddele (meel, sout en water) aan mekaar voorgestel en hulle grootliks aan hulleself oorgelaat om te mingle.

“Hulle het hulle eie gang moeiteloos gegaan, met jy wat so tussendeur inloer en hier en daar ’n ding doen, druk of skuif.

“Soms, soos vandag, was toestande (heeltemal buite jou beheer, soos die lewe self) vermoedelik perfek, hoofsaaklik temperatuur en tydsberekening.

“Die resultaat verstom jou. Jy weet dis nie deur jou toedoen nie, jy is pynlik vertroud met jou gebrek aan kennis (van beide chemie en fisika) en formele opleiding (die beste bakkers bak jarre en jarre voor hulle hulleself begin ag). Dit gaan dus nie oor jou nie.

“Die brood lig jou gemoed. Jy voel beide dankbaar en diep tevrede dat jy die begin, middel en einde van die proses kon gade slaan en nou kan staan met ’n skewe snytjie brood en ’n stroompie gesmelte botter wat teen jou hand se kant afloop.

“Jou hart en jou verstand kry dan die boodskap: daag op en doen wat jy kan. Vertrou die proses. Moenie oordrewe beheer uitoefen nie. Gebruik wat jy reeds weet en vra altyd weer wat jy nog kan leer.

“En jy onthou sommer ook weer, so op die doodgewone Donderdagmiddag, dat daar eens, in ’n oomblik van geweldige droefheid en intense onsekerheid, gesê is: ‘Neem, eet.’”

Rudi vertel dat hy, soos baie ander mense, op ’n vroeë ouderdom op ’n harde manier gekonfronteer is met die gebrokenheid.

“Hier rondom standerd vyf het iets aangeskakel in my, wat obviously God se werk was, wat gesê het, dalk moet jy nie net ’n toeskouer bly van hierdie gebrokenheid nie, maar dalk moet jy aktief deelneem om dinge beter te probeer maak.” sê hy.

Lees ook | Preke: Pause of fast forward?

Op hoërskool het hy by die CSV ’n tipe verdieping beleef. Hy het besef dat die evangelie kragtig is en hom roep om meer as net nog ’n blote toeskouer te wees.

Na Rudi aanvanklik teologie by Tuks begin studeer het, was hy onder andere vir vier jaar ’n kopieskrywer by ’n advertensiemaatskappy. Later voltooi hy sy graad in Teologie op Stellenbosch.

Sy eerste gemeente was in die Oos-Kaap, waar hy ook vir ’n tyd lank ’n restaurant bedryf het, die laaste 11 jaar is hy predikant by Andrew Murray-gemeente, ’n multikulturele NG gemeente in Oaklands, Johannesburg.

As “ignorance bliss is”, is die teenoorgestelde ook waar.

Die ding wat hom die meeste ontstel van die NG Kerk vandag, is dat ons geleenthede by ons verby laat gaan. Die mooi dinge wat wel gebeur is te dikwels uitsonderings.

Ons gesels oor die opmerking wat iemand een keer gemaak het: “The time of the week of the greatest racial divide in South Africa is on a Sunday between 09:00 and 10:00.”

Rudi sê dit ontstel hom dat mense dit al meer by die werkplek regkry om diversiteit as iets positiefs te omhels, maar dat dit steeds ’n uitsondering is in ons manier van kerkwees vandag. Dit gebeur in woorde en preke en gebede, maar die sigbaarheid daarvan, byvoorbeeld in ons eredienste en ander byeenkomste, ontbreek steeds.

Lees ook: Genade-teologie troef altyd ’n ‘Ja, maar’-teologie

Die kerk is veronderstel om ’n plek te wees waar dinge gebeur, wat vir die wêreld onmoontlik lyk. ’n Alternatiewe gemeenskap waar liefde wen.

Rudi praat nie net hieroor nie, ons paaie kruis juis die laaste tyd al meer omdat sy gemeente ’n klompie van ons Echo-jongmense uit verskillende kultuurgroepe op hulle kerkterrein huisves. Hulle is letterlik bure, want Rudi en sy gesin woon ook op Andrew Murray se terrein.

Dis geen sondagskoolpiekniek nie. Hy vertel dat dit nie altyd maklik of lekker is nie. “Dis dikwels pynlik,” sê hy. Maar hy ontdek dat ’n mens juis baie het om te leer by mense wat anders as jy is, ons groei juis in die messiness, spanning, confusion en konflik van community.

Hy vertel die aangrypende storie van hoe hy een aand twee van die jongmense gevra het om met ’n groepie gemeentelede in die kerkgebou te praat. Die gemeentelede het die twee welkom geheet toe hulle instap, waarop die een meisie opgemerk het dat dit eintlik andersom werk. “Eintlik is julle die mense wat welkom geheet moet word,” het sy gesê, “want hierdie kerk is ons huis.”

  • Ds Jaco Strydom is ’n predikant by die NG gemeente Villieria in Pretoria en ’n rubriekskrywer vir Kerkbode. Lees HIER nog Kerkbode-rubrieke: 
Word 'n vriend van Kerkbode