In die slaapkamer, langs die bed …

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Iewers in die grendeltyd het ek weer na daardie skildery van Vincent van Gogh gaan kyk, sommer op my rekenaar se skerm.

Ek praat van die een wat hy geskilder het van die huurkamer in Arles in die suide van Frankryk waar hy vir ’n ruk gewoon het – een van sy bekendste skil­derye: ’n bed, twee stoele, en ’n tafeltjie. ’n Handdoek aan ’n haak by die deur. ’n Spieël teen die muur. Net dit. Sy kamer.

Die eenvoud en alledaagsheid daar­van het my aangegryp toe ek die skildery jare gelede vir die eerste keer in ’n kunsboek sien. Die bed en die twee stoele is aan die ou kant. En daardie skottel en lampetbeker op die tafeltjie lyk nes dié wat in ons oumas se huise was. Jy wonder dadelik oor die een wat in dié kamer woon. Jy verbeel jou jy ken hom.

Dáárna, dink ek, het ek anders na mense se slaapkamers begin kyk.

’n Slaapkamer is ’n intieme plek. Daar haal jy jou masker af. Daar lê jy snags weerloos en droom, het jy ge­demp­te argumente, bid jy, maak jy lief­de, bly jy agter toegetrekte gordyne lê as jy die dag siek of vermoeid en belas is. Dit is jou veilige vesting.

Kom ek in iemand se slaapkamer, dit gebeur nie gereeld nie, kyk ek dikwels eerste wat is op die bedkassies as daar meer as een kassie is. Van jou nodigste goed hou jy op die bedkassie. ’n Bybel. ’n Horlosie. Boksies en botteltjies pille en medisyne. ’n Flitslig. En deesdae dalk ’n skokstok of ’n houer met pepersproei in.

Kort nadat my ma een Septembermiddag in 1998 op Ventersdorp oorlede is, was ek by haar in die plaaslike hospitaal. Ek kon vooroor buig en haar op haar koue voorkop soen. Terug by die huis het ek by haar leë bed gaan staan en na die goed op haar bedkassie gekyk: ’n wekkertjie, ’n potjie Vicks, ’n leë pakkie Cameo-sigarette, ’n boks Gary Player-mansnesies. Eers tóé het ek gehuil.

“Dit het nie goed gegaan met Van Gogh toe hy daardie skildery van sy kamer in 1888 geskilder het nie.”

Die besittings naaste aan jou sê nogal iets van hoe jou lewe geword het.

’n Jaar of twee gelede was ek by ’n tante vir wie ek baie lief was in ’n ouetehuis. Sy was nie gesond nie. Ek het op ’n stoel langs haar bed gesit. Net voor ek weg is, het ek vinnig ’n foto met my selfoon van haar bedkassie geneem.

Sy is ’n maand gelede oorlede, daardie tante. Covid-19. Ek het weer na daardie foto van haar bedkassie gekyk toe ek dit hoor: bril, kam, ou Panasonic-selfoontjie, oogdruppels, pen, ’n Oros-botteltjie met water. Teen die muur bokant die bed ’n troufoto van haar en haar oorlede man. Op die spieëlkas foto’s van haar kinders en kleinkinders in Kanada. Ook een waar sy saam met die sanger Manuel Escorcio staan. ’n Lewe.

’n Kamer in ’n ouetehuis vertel ’n klomp stories. ’n Riempiestoel uit die Boereoorlog se tyd in die hoek. ’n Gehekelde Onse Vader teen die muur. Op ’n vensterbank ’n bottel wat op ’n Fanie Smit-toer deur die Heilige Land in die Jordaan-rivier vol water gemaak is. Jy sien min nuwe goed daar, byna als is oud en vol herinneringe vir die een wie s’n dit is.

Daar is iets mooi aan so ’n kamer in ’n ouetehuis. Jou beste jare is verby, jy het dinge beleef, vreugde, hartseer, suk­ses, mislukkings, jy het ver paaie gereis, en hier is jy nou in jou laaste vesting, gestroop van alle waan. Dit wat jy bymekaar gemaak het, dit wat regtig saakmaak, is onsigbaar.

Miskien is dit ’n morbiede gewoonte, maar ek lees elke dag die doodsberiggies in die koerant. In die laaste ruk, noudat die virus se tweede golf die land getref het, is daar meer sulke berigte as gewoonlik. Ek kyk na die fototjies daarby en wonder soms hoe die kamer gelyk het waarin hierdie een of daardie een dood is.

Die meeste mense sterf in ’n kamer op ’n bed. Soms in ’n hospitaal.

Op die kassie langs oorlede Ma se laaste hospitaalbed het ’n halfgedrinkte blikkie Sprite gestaan, een wat ek skaars ’n uur voor haar dood by die kafee vir haar gaan koop het. Dit was ’n warm dag en sy was lus vir iets koud om te drink.

Soveel van dié wat nou in die hospitaal is met die virus se geliefdes word nie by hulle toegelaat nie. Wat sou op van hulle se bedkassies in die hospitaal wees? ’n Bybel en ’n rangskikking effens verdroogde krisante? Valstande in ’n glas Steradent? ’n Angus Buchan-boek? ’n Oorryp piesang?

Dit het nie goed gegaan met Van Gogh toe hy daardie skildery van sy kamer in 1888 geskilder het nie. Hy kon nie sy skilderye verkoop kry nie en hy was verlief op ’n vrou wat hom nie wou hê nie. Hy was brandarm, depressief en het te veel gedrink.

Sy pa was ’n predikant in die Nederlandse Gereformeerde Kerk en hy wat Vincent is het vir ’n ruk sendingwerk in België gedoen.

’n Mens wonder of hy ooit by daardie bed op die skildery gekniel en gebid het.

Om lank na daardie skildery te kyk, voel vir my ’n bietjie soos om te bid en te vra vir die gawe om niks menslik rond­om jou mis te kyk nie.