Preke: pause of fast forward?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar is drie struikelblokke wat gefrustreerde luisteraars na aanlynpreke na die afstandbeheer laat gryp, skryf CAS WEPENER.


Talle betreur dit wat verlore gaan in aanlyneredienste en -prediking. Beide predikers en hoorders is egter bly oor ten minste twee winste wat die aanlynformaat gebring het.

Predikers is enersyds bly dat die hoorders nou uiteindelik die geleentheid het om, wanneer hulle ’n diep lewenswysheid of treffende kwinkslag kwytgeraak het, die “pause”-knoppie op die rekenaar of afstandbeheer te druk om weer daarna te luister.

Hoorders is andersyds bly dat hulle in die veiligheid van private ruimtes, ongesiens, dele van preke kan “fast forward”.

Ek vermoed beide aksies gebeur gereeld, naamlik dat sommige preke ge-pause word omrede hoorders niks wil mis nie, terwyl ander preke weer ge-fast forward word omdat hoorders dele wel wil mis. Uiteraard is daar baie redes wat die keuse van die knoppie wat gedruk word, beïnvloed – vanaf teologiese aksente waarvan hoorders nie hou nie, tot en met blote verveling. En dikwels is daardie uitdagende én vervelige preke wat ge-fast forward word, juis dié preke wat eerder deeglik beluister moet word. So, wat kan gedoen word om die aanhoor van preke, selfs wanneer fast forward ’n opsie is, te verbeter?

Opskorting van ongeloof

Een van die sondebokke waarom preke ge-fast forward word, myns insiens, is wat in die letterkunde “the willing suspense of disbelief” genoem word. Of ek graag wil luister en ook enduit wil luister, hang onder andere hiermee saam. Maar wat behels hierdie gewillige opskorting van ongeloof?

Die maklikste manier om die konsep te verduidelik, is aan die hand van storieboeke en films. Sommige mense tel ’n boek soos Harry Potter of Lord of the Rings op en kan hulleself dadelik laat meevoer na die fantasiewêreld in die boeke. Hulle spring in die boek in soos ’n mens op ’n snikhete dag in ’n koel plaasdam spring en bly daar tot en met die slotsin. Vir ander is dit weer onmoontlik en kry hulle dit gewoon net nie reg om gewilliglik hulle “ongeloof” in daardie fantasiewêreld tydelik, en vir solank as wat hulle lees, op te skort nie. Hulle staan met hulle tone en voel-voel aan die koue water, maar gaan nooit dieper in die dam in nie.

LEES OOK: Voorspoed, teenspoed en misterie

Ander lesers vind ’n historiese roman weer uitdagend, of ’n misdaadriller of magiese realisme. Daar is legio voorbeelde – vanaf films vol superhelde waarin sommige kykers hulleself kan verkneukel, maar wat ander koud laat, tot by kunsfilms wat party kykers se hart vermurwe terwyl hulle kykgenote op die bank langs hulle lê en snork.

Oorspronklik het hierdie gewillige opskorting van ongeloof veral gegaan oor die bonatuurlike, byvoorbeeld of ’n leser bereid is om vir die duur van ’n storieboek in spoke te glo. Later is dit veel breër gebruik en toegepas, soos dit ook in hierdie bydrae gedoen word, naamlik dat hierdie houding nie net nodig is wanneer na sprokies of spookstories geluister word nie, maar vir enige literêre produk. En preke (ook eredienste) val in hierdie kategorie van literêre produkte, want predikers giet, bewustelik of onbewustelik, dit wat hulle sê in bepaalde vorms en skep met hulle woorde wêrelde wat hoorders moet betree. Alle preke, net soos al die Bybeltekste, kom na ons in literêre vorms waardeur ons ons laat meevoer, of nie.

Die groot aanbod van inligting wat hoorders deesdae kry, maak luister na ’n tradisionele kommunikasiemedium soos prediking ’n al groter uitdaging. En op die oomblik is dit nogal maklik om ’n aanlynerediens met ’n Netflix-episode te vervang. Dit is daarom belangrik om soveel as moontlik struikelblokke wat luister bemoeilik, uit die weg te ruim. Drie redelik voor die hand liggende struikelblokke (daar is veel meer) wat hoorders die afstandbeheer laat gryp en preke laat fast forward of pause is vrae, voorbeelde en vorm.

Vrae

Soms gee preke antwoorde op vrae wat die hoorders gewoon nie vra nie. Uiteraard is dit van kritiese belang dat goeie preke gereeld hoorders roer en hulle help om sekere vrae wat hulle nie vra nie, wél te vra, maar soms mis ’n preek gewoon die punt deur die verkeerde, of eerder vir die hoorders gewoon irrelevante vrae, te beantwoord.

Om by die regte vrae uit te kom, is diepgaande Bybelse eksegese krities, maar ook eksegese van die leefwêreld van die hoorders. Gegewe die hoorders se leefwêreld, gaan dit veral oor teologiese sake. Homilete lê juis ’n groot klem daarop dat predikers die teologie wat in gemeentes en by hulle hoorders leef, baie goed moet ken en verstaan. En die teologie van gemeentes verskil onderling. Om die leefwêreld en teologiese kwessies van hoorders goed te ken, kan juis beteken dat goeie predikers bestaande vrae in ’n gemeente vervang met beter vrae. En as jy my vrae aanspreek, of my bestaande vrae verdiep, wel, dan mag ek jou dalk, nou dat ek kan, nie fast forward nie.

Voorbeelde

’n Tweede struikelblok wat daardie gewillige opskorting bemoeilik, hang saam met voorbeelde wat in preke gebruik word, oftewel preekillustrasies. As al die prediker se illustrasiemateriaal uit sportbeelde bestaan, maar die hoorders se leefwêreld neig meer na die kunste, of die prediker beskou haarself as ’n kunstenaar en rig alle preke so in, maar die gemeente is nie vertroud of stel werklik belang in die Ekspressionisme en Surrealisme nie, kan dit luister bemoeilik. Dit gaan hier oor ’n fyn onderskeiding wat behels dat die preek aansluit by ’n bepaalde konteks, én dit terselfdertyd uitdaag.

Vorm

Die laaste uitdaging is gewoon net vorm, preekvorm. Mense is storiediere. Daarom is die begin én die middel én die einde van ’n preek belangrik. Gryp my aandag. Behou dit. En, die belangrikste, as ’n preek klaar is, is hy klaar. Ek hoor nog prof Bethel Müller wat met ’n glimlag in klaspreke vir ons verduidelik dat ons aangehou het met praat nadat die preek reeds verby was. Dit gaan nie hier daaroor om ook preke in ’n verbruikeristiese drukgang in te dwing nie, dit gaan oor ’n bietjie moeite met vorm omdat die inhoud van wat gesê word lewensveranderend kan wees.

Hierdie drie sake is egter nie net struikelblokke nie, hulle is juis ook ’n klein deel van die sleutel wat die aanhoor van preke dien. Sinvolle vrae, voorbeelde uit die hoorders se eie leefwêreld en moeite met vorm, soos ons dit ook in die Bybel vind, is ’n goeie beginpunt. Dit is belangrik dat die luister na preke gedien word, want soos prof Johan Cilliers jare gelede al geskryf het, is prediking ’n woord waarin God self ter sprake kom; waardeur mense kan verander, en waar iets van die geheimenis van Christus geopenbaar word. En ons het dit nou meer as ooit nodig dat preke om hierdie redes ge-pause word.