Voorspoed, teenspoed en misterie

Onlangs publiseer ’n kollega in Nederland, Mirella Klomp, ’n boek wat handel oor haar bestudering van die jaarlikse opvoering van die musiekskouspel The Passion. Elke jaar op die dag voor Goeie Vrydag, al vir ’n dekade lank, word die passie deur Nederlandse glanspersoonlikhede op ’n stadsplein opgevoer. Die Nederlandse publiek neem deel deur na die stadsplein te gaan en saam met die kruis te stap; op hulle televisie daarna te kyk; en om die skouspel en kommentaar daaroor op sosiale media te volg.

In haar boek opper Klomp die moontlikheid dat kwantitatiewe koue statistiese peilings op grond waarvan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat Nederlanders gewoon nie meer godsdienstig is nie, dalk baie eng na die toedrag van sake kyk.

Sy wys hoe The Passion as spel, al spelende, moontlikhede oopmaak vir God en spiritualiteit. Dit in ’n land waar sommige mense gedink het bitter min sulke ruimtes nog bestaan. Ek dink sy het ’n goeie insteek en kyk op ’n beter plek na die aanwesigheid van godsdiens, te wete ’n passiespel en dus wat mense doen, eerder as net na statistiese opnames. Statistiek laat dit soms klink asof iets so kompleks soos godsdiens en geloof sommer maklik en klinkklaar in getalle verpak kan word.

In hierdie verband is praktyke van groot waarde. ’n Praktyk is ook ’n teks wat, indien dit stip gelees word, heelwat inligting bevat.

Toe ons destyds skole vir ons kinders moes kies, het iemand vir ons baie goeie raad gegee. Die persoon het gesê ons moenie net kyk na wat die skool op sy webwerf kwytraak of luister na wat die hoof vir jou vertel nie, gaan woon ook die jaarlikse opvoering by. Dit was goeie raad, want daar in die toneelopvoering is al die waardes van die betrokke skool uitgestal op die verhoog. Al die kodes is daar, jy moet dit net gaan lees en dit is stukke eerliker en betroubaarder as enige inligtingstuk of webwerf. Die kultuur en waardes van die skool word daar in die opvoering ten toon gestel en sonder dat die skool dit self besef, is daardie maskers die skool se ware gesig.

LEES OOK: Woede: Riglyne vir predikers en gelowiges

Terwyl ek die boek oor The Passion gelees het, kon ek nie anders as om die insigte met my eie Suid-Afrikaanse konteks te vergelyk nie. Wat opgeval het, en wat ek dink anders uitspeel op Gouda as in die Goudstad, is presies wanneer diegene wat The Passion bywoon, sogenaamde godsbelewenisse het. Klomp gebruik die taal van die filosoof Richard Kearney om dit onder woorde te bring, naamlik dat God weer ’n moontlikheid vir deelnemers word. En telkens tref ons in Nederland, aldus die boek, daardie moontlikheid aan wanneer deelnemers die kruise in hulle eie lewe in verband bring met die kruis en lyding wat in die passiespel opgevoer word. Sy skryf: “As they walk with the cross, it becomes clear to us how the suffering Christ may walk with them.”

Daar gebeur dus by hierdie mense iets wanneer hulle hulle eie lyding in verband bring met die lyding van Christus – dit is asof iets daar oopgaan vir die mense. En dit in die land wat as die mees gesekulariseerde in Wes-Europa bekend staan.

Ek kon nie help om in die lig hiervan weer te kyk na my eie werk oor die laaste twee dekades nie. Die meeste van my eie bestudering van praktyke het ek nie by ‘welaf’ Hollanders op ’n stadsplein gedoen nie, maar op voetsoolvlak in Suid-Afrika. En dit was by lidmate van kerke in plekke soos Langa in die Wes-Kaap, Phepheni in die Oos-Kaap en Atteridgeville in Gauteng. En ja, die mense met wie ek gesels leef nie in ’n konteks wat deurgeloop het onder sekularisasie nie. Wat wel opval, is dat hulle godsbelewenisse, nie uitsluitlik nie maar tog opmerklik dikwels, op die teenoorgestelde belewenis berus as dié van die Hollanders wat in die boek beskryf word.

Telkens in my eie gesprekke met mense het hulle godservaringe gekoppel aan die afwesigheid van pyn, swaarkry, en kruise in hulle eie lewe. In Nederland wil dit voorkom, vind mense die moontlikheid van God in oomblikke van lyding. In Suid-Afrika was dit dikwels eerder in die afwesigheid van lyding. Of dit was veral in oomblikke, soos tydens sekere eredienste, waar die swaarkry ten minste vir ’n klein rukkie vergeet kon word.

Dit sal van relatief min waarde wees om twee soorte belewenisse van mense in sulke verskillende omstandighede teenoor mekaar af te speel. Dit het my wel laat wonder oor die misterie-potensiaal wat sit in die belewenis van dit wat anders is. Spesifiek dit wat anders is as waaraan ek gewoond is, hetsy die aan- of afwesigheid van ellende.

Wanneer my dag tot dag bestaan dié van relatiewe welvaart en die afwesigheid van swaarkry is, wel, dan is pyn en lyding ’n andersheid. Ek word gekonfronteer met die onbekende, die aandskemering daal, Minerva se uile vlieg en ek soek antwoorde. Lyding is selde alleen rasioneel te verklaar, vra maar vir Job, en die antwoord sit soms in die vreemdheid van ’n ontmoeting.

Wanneer my dag tot dag bestaan dié van swaarkry is, wel, dan is die belewenis van die moontlikheid van die afwesigheid van pyn en swaarkry weer die andersheid. En in beide gevalle besit die herkenning van andersheid die potensiaal van misterie wat help met singewing. God word opnuut ’n moontlikheid.

En nou wonder ek ook oor die woord ‘voorspoed’, spesifiek hoe dit dikwels in kerk en teologie gebruik word. Wanneer ek praat van ‘die gruwelike voorspoedsevangelie’ of ‘die voorspoedsteologie van ’n verbruikerskultuur’, op wie se voorspoed dui dit nou eintlik, dié van die mense wat daarna smag, of op myne?

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.