Kies die lewe: Leer dans in depressie deur Ivor Swartz
Uitgewer: Lux Verbi, 2022
Resensent: Willie de Koker
Wat ’n interessante boek om te lees! Swartz gebruik eenvoudige taal, gewone woorde, kort sinne, hoofstukke met opskrifte en temas wat aktueel is vir “depressievegters” en die mense wat naby aan hulle leef, asook vir depressiehelpers. Sy verhale en getuienisse uit sy eie en ander depressievegters se ervarings maak die boek lewensgetrou. Hy is wyd belese en akademies goed ingelig, maar sy informele aanslag is toeganklik vir alle moontlike lesers.

Swartz is jeugpastor by die NG gemeente Oosterlig in Pretoria. Hy ken seerkry, maar kies daagliks om optimisties, en nie positivisties nie, te leef. Sy besondere aanslag om saam met jongmense te bedien blyk uit sy lewensverhale, taalgebruik, musieksmaak en kleredrag. Min boeke oor die onderwerp sal so goed by jongmense aanklank vind.
Lees meer: ‘Kies die lewe’ is tema van nuwe boek en TV-reeks deur jeugleraar
Moenie hierdie boek as “kitsmedisyne” gee aan mense, veral die met major depressie, wat te min energie het om dit te lees nie. Hulle kan dalk net nog meer skuldig voel omdat hulle “nie kan nie”. Hulle maak fisies en emosioneel moeilik die identiteitsoorgang van depressielyer na depressievegter, wat sê: Jesus is my identiteit, nie my depressie nie. Lees eerder die boek self, sodat jy depressie beter kan verstaan en kan leer hoe om te “connect” met iemand met depressie.
Gemeenteleiers kry hier raad om netwerke te skep vir mense wat met depressie leef. Pastors kan leer om gesinne te ondersteun wat saam met hierdie mense leef, asook mense wat die smart van selfdood moet dra (Ivor skryf treffend oor selfdood).
Met dit gesê: Die laaste veral drie hoofstukke gee goeie praktiese raad vir mense met depressie oor hoe om daarteen te veg. Vir Swartz gaan dit egter nie soseer oor die praktiese raad nie as oor ons almal se nuwe identiteit – om te weet God het jou lief is ’n kragtige teenmiddel vir die leuens wat jy oor jouself glo.
Beskikbaar by Bybel-Media.
Dr Willie de Koker is ’n emeritusleraar op Jeffreysbaai.
- Regstelling: Die berig het oorspronklik gelui dat Swartz jeugleraar is by St Paul’s United in Johannesburg. Hy was daar jeugleraar maar werk die laaste paar jaar by die NG gemeente Oosterlig in Pretoria. Kerkbode vra verskoning vir die fout.
