Dink ook teologies dieper oor insluiting en gestremdhede voor jy rolstoelopritte bou en die volume opdraai vir diegene met gehoorverlies, hoor Le Roux Schoeman by ’n gemeente in Johannesburg en drukgroepe wat veg vir die regte van mense wat met gestremdhede leef.
Julius van der Wat het ’n turkoois sonbril op sy kop en sy polshorlosie is bo-oor die mou van sy vlakleurige langmouhemp gegespe. ’n Dik leergordel (dit herinner aan die soort wat Olimpiese gewigoptellers dra om hulle rug te beskerm), strek om sy middel, vermoedelik om te keer dat hy uit sy rolstoel val wanneer Jafta Morudu hom om ’n skerp draai of teen ’n skielike steilte opstoot.
Morudu, Van der Wat noem hom sy skaduwee, het die bou en lydsame gesig van ’n rustige uitsmyter. Vandag stoot hy vir Van der Wat deur die konsistorie (vinnige kerkraadsvergadering en gebed), af by die oprit van die “liturgiese ruimte” voor in die kerkgebou en dan na die 2de ry van voor se sagte blou opwipstoele waar die twee saam gaan sit vir die soveelste erediens in hulle teologiese tuiste, NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg.
LEES OOK: ‘God roep my’
Hierdie Sondag het ’n tema wat Van der Wat en die dominee hier, Rudi Swanepoel, nie wil verskraal tot gestremdhede, gehoortoestelle, rolstoelroetes en groot genoeg lettertipes nie, maar eerder wil hanteer as die Bybelse bril waarmee daar na “normaal” gekyk word.
Een uitwerking van Van der Wat se serebrale gestremdheid is dat hy met moeite praat. Hy het nietemin groot idees en opinies wat moet uit. Deur ’n ovaal gestolde mond stoot hy lang sinne na buite, waarna sy bolyf sigbaar inkrimp van die inspanning.

Gestremdheidsbewusmakingsondag landwyd gevier
“Na my mening het God nie gesê ’n dienende lidmaat moet só lyk nie … hy of sy moet kan loop, hy of sy moet soos ’n Instagram-model lyk nie. Die Here het gesê jy kan my dien net soos jy is. Jy moet jouself net beskikbaar maak,” verduidelik Van der Wat voor die erediens aan my. Morudu tuur eenkant uitdrukkingloos die verte in tydens die 44-jarige Van der Wat se voorafbydraes tot die werkinge van die erediens (Van der Wat dien op die kerkraad en het die meeste van vanjaar se viering van Gestremdheidsbewusmakingsondag beplan, volgens Swanepoel). Die bewusmakingsveldtog is ’n landwye projek deur die drukgroep RampUp en is vanjaar op 28 Augustus gevier. Met dié dat die ongeoefende oor mooi moet luister om Van der Wat reg te hoor, tref sy woorde as des te meer aangrypend wanneer hy vanuit soveel fisieke inkluistering oor sy geloof praat: “En wie sê hierdie is ellende? Ek is so gemaak. Ek glo God het ’n doel met my net soos ek is.”
Diensbaarheid is ’n sleutelkonsep in die gesprek oor inklusiwiteit in gemeentes – fisiek gesproke en in die breedste sin van die woord, naamlik hoe elke lidmaat hom/haar ten opsigte van die konsep van “normaal” posisioneer. “Die gestremde gemeenskap moet hulleself ook bereid stel om diensbaar te wees, soos ek gedoen het,” meen Van der Wat. “Dit moet nie net van die kerk of ’n gemeente se kant kom nie, maar ook van die gestremde se kant.”

Dit is iets waarop Swanepoel uitbrei. “Vanuit die onbedoelde magsposisie moet die gemeente eers ’n deur oopmaak vir die (gestremde) persoon om te sê, “I will step forward”. Dan raak dit ’n verhouding tussen gelykwaardiges.”
Gehoorverliesperspektief en toegang tot geloofsgemeenskappe
Insluiting gaan uiteraard oor ’n wye spektrum van sake en Therina Wentzel, ’n gasspreker tydens die diens daardie oggend, meen die meerderheid van gemeentes het nog ’n lang pad om te loop. Sy is die nasionale direkteur van die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede en na die diens verwys sy Kerkbode vir verdere leeswerk na ’n artikel saamgestel deur haar kollega Fanie du Toit, Senior Spesialis: Gehoorgestremdheid, wat ook ’n program oor die leefwêreld van persone met gestremdhede op RSG aanbied. Du Toit fokus veral op die gehoorverliesperspektief op toegang tot geloofsgemeenskappe: Volgens die jongste data van die 2020 World Report on Hearing ervaar 20% van die wêreld se bevolking ’n mate van gehoorverlies. Daar word beraam dat ten minste 12 miljoen Suid-Afrikaners hulle in ’n soortgelyke situasie bevind. Die oorgrote meerderheid van betrokkenes gebruik gesproke taal in plaas van ’n gebaretaal om te kommunikeer.
Dit is nie ’n persoon se fisiese of sensoriese beperking/verlies wat gestremdheid veroorsaak nie – gestremdheid is ’n gevolg van die samelewing se versuim om in gemeenskaplike ruimtes voorsiening te maak vir persone met verskillende vorme van beperkinge.”


Du Toit gaan voort: “Geloofsgemeenskappe moet bewus wees van die volgende sleutelaspekte om vergaderings, ruimtes, dienste, programme en ander geloofsverwante funksies inklusief te maak.” Hy haal aan uit die Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede (Par 7.10): “Geloofsgebaseerde organisasies en instansies moet eerstens persone met gestremdhede as gewone lede van die gemeente omhels, en tweedens redelike akkommodasiemaatreëls beskikbaar stel om te verseker dat leiers sowel as gemeentelede met gestremdhede op ’n gelyke grondslag aan alle aspekte van die organisasie se aktiwiteite kan deelneem.”
Wie het geen bydrae te lewer nie?
Swanepoel deel vanuit sy ervaring by Andrew Murray ’n perspektief op die prioriteite langs die weg na ’n meer inklusiewe aanbiddingsplek: “Wat ons en ek nie altyd besef nie is dat ek eers die teoretiese, teologiese deel moet regkry en vra hoe vertolk dit in wat ons doen in. Baie keer wil ons eers doen, maar ons het nog nie ons belief system software ge-update nie,” verduidelik hy. “Ons dink nog hierdie persoon het ’n bydrae om te lewer, hierdie persoon het nie ’n bydrae om te lewer nie.”
LEES OOK: Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk

Erna Möller, RampUp se projekkoördineerder, deel by navraag haar frustrasie met ’n gebrek aan momentum as dit kom by kerke en insluiting. “Die onderwerp van gestremdheid of inklusiwiteit in geloofsgemeenskappe kom ter sprake op ’n lukrake wyse. Kerke stem saam dat dit ’n belangrike saak is, maar reageer dikwels dat daar nie veel persone met gestremdheid in hulle omgewing is nie. Hulle voel ook dat ’n oprit (‘ramp’) by ingang(e) aandui dat hulle inklusief en toeganklik is,” vertel Möller. “Die gesprek bly dus ietwat passief, met ’n verwagting dat persone met gestremdheid ‘by ons sal opdaag’ met min verstaan van die tradisies van uitsluiting wat nog by verre nie oorkom is nie. Persone met gestremdheid leef met ’n geskiedenis van uitsluiting en het opgegee op die kerk. Baie gemeentes het dus een of twee persone wat deel is van die gemeente, met baie min bewustheid van die baie wat in die samelewing ‘onsigbaar’ bly. Inklusiwiteit is maar Stap Een. Werklike deelname, waar die gawes van persone met gestremdheid inherent deel is van die gemeenskap van gelowiges is die plek waar almal mekaar kan verryk, en van mekaar kan leer.”

Iets brutaal aan fixing
Swanepoel waarsku ten slotte dat daar iets “brutaal” kan wees daaraan wanneer mense na mekaar kyk met ’n “fixing” houding wat aanvaarding troef.
Dit is minute voor die diens moet begin. Ons sit in die konsistorie. ’n Gebaretaalspesialis staan oorgehaal op die verhoog. Die nagmaaltafel kreun onder sakramente en die gemeente sit gereed vir “Disability Awareness Sunday”. “Kom ons bid gou,” sê-vra Swanepoel. “Dankie dat ons in u Naam bymekaar kan wees en in ons diepste kan weet dat ons u kinders is en dat ons aan U behoort. Ons dank U vir die erediens. Dankie vir Llewellyn wat klavier speel en dankie vir Julius wat hierdie dag grootliks gereël het. Dankie vir ons besoekers, dankie dat ons die nagmaal saam mag gebruik. Ons bid dat U ons sal seën. En dankie dat U ons hier ontmoet. Ons bid dit alles in Jesus se naam. Amen”.
Van der Wat se “skaduwee” staan versigtig op en stoot hom, rolstoel en al, na die middel van die kerkgebou vir die diens om te begin.

Baie dankie vir die artikel. Glo dis onkunde wat afstand skep. Laat ons poog om mekaar beter te leer ken; bekend maak bemind. Vra wat saamkuier beter sal maak. Bv. menige gemeentes het nie toiletgeriewe vir mense met lopers of in rolstoele nie en wonder dan hoekom lidmate dit moeilik vind om geleenthede by te woon.