Julius van der Wat is ʼn kerkraadslid, sportman, kunstenaar en werk by ʼn naskoolsentrum. Hy is ook serebraal gestrem.
Julius van der Wat se storie begin toe hy en sy tweelingbroer, Koos, 41 jaar gelede op 11 Junie twee maande te vroeg gebore is. Weens ’n suurstoftekort het Julius breinskade opgedoen wat serebrale gestremdheid veroorsaak het.
“Gelukkig is my breinskade beperk tot die dele in my brein wat die spiere beheer. Daar is niks met my intellek verkeerd nie.” Julius sê dit nie sonder rede nie. “Dis ’n algemene aanname van die samelewing. As hulle iemand in ’n rolstoel sien wat so erg gestrem is soos ek, neem hulle outomaties aan jy is ook intellektueel gestrem.”

Koos, vertel hy, is “sogenaamd normaal”. Sogenaamd, want Julius hou nie van die woord “normaal” nie. “Jy kan tien mense vra wat dit beteken en dan gaan jy tien verskillende antwoorde kry. Vir my is jou huidige omstandighede normaal.”
Vir Julius is dit normaal om ’n permanente assistent te hê wat hom bystaan met take wat die meeste mense uitvoer sonder om eens daaraan te dink. Hy skilder op sy rekenaar met ’n pen wat aan ’n helm op sy kop gemonteer is. Hy het sy skoolloopbaan in spesiale skole voltooi en reeds in gr. 2 vir die eerste keer op ’n rekenaar gewerk. Julius sê hy weet van kleins af hy is anders, maar hy verkies om sélf sy andersheid te definieer. Sy lewensleuse is: “I have cerebral palsy. Cerebral palsy does not have me.”
Hy het grootgeword in die NG Kerk en het die Here in sy tienerjare baie bevraagteken, tot een aand in die koshuis toe hy in sy bed gelê en ’n duidelike stem gehoor het. “Mense kan maar van my verskil, maar ek glo dit was die Here se stem,” sê hy. Die boodskap? “Hoekom bevraagteken jy my so baie? Ek het ’n doel met jou soos jy is in die rolstoel. Wanneer dié doel gedien is gaan ek jou opvat na die hemel en jy gaan loop.”

Van daardie oomblik af het Julius totale berusting gehad. Dit beteken nie sy dae is maklik nie. Party dae is veral swaarder, maar Julius sê hy is gelukkig om ’n goeie ondersteunersnetwerk te hê.
Die feit dat hy berusting het oor sy gestremdheid is juis een van die kernaspekte van gestremdes se ervaring van die kerk wat ’n mens herhaaldelik teëkom. Want ánder gelowiges het nie noodwendig dieselfde berusting nie … Inteendeel, die dringendheid waarmee sommige mense gestremdes beter wil bid is een van die groot redes waarom soveel gestremdes vervreemd raak van die kerk en van geloof.
Julius sê hy is al deur twee sulke “geloofsbeproewings”. Hy is telkens genooi vir Bybelstudie. Een keer is daar vir hom gebid en hy is hande opgelê. “Onder gebed is die bande wat my vashou losgemaak en ek is gesê ek moet opstaan …” Toe hy nie kon nie, moes Julius hoor sy geloof is te min. Nie stérk genoeg nie. By ’n ander geleentheid is daar vir hom gesê dis nié die Here se wil dat hy in ’n rolstoel is nie en dat hy sal loop as hy net “hard genoeg en met genoeg oortuiging bid”.

Die ervarings het sy geloof en die vaste wete dat die Here ’n dóél het met hom net versterk, sê Julius. “Ek glo Hy gebruik my oor en oor.”
Julius sê hy glo alle vorme van geloof moet gerespekteer word. “Die probleem kom in wanneer mense hul geloof op my wil afdwing en sê my manier van glo is verkeerd.”
Hy weet van ander gestremdes wat heeltemal van die kerk weggedryf het weens kerkmense se knaende behoefte om hul gestremdheid weg te bid. Dit is wat gebeur wanneer gestremdes nie déél word van godsdiensoefening nie, maar as ’t ware ’n objek daarvan.
Na Julius op ses maande met serebrale gestremdheid gediagnoseer is, was die dokter se raad aan sy ouers om hom in ’n tehuis te plaas, van hom te vergeet en aan te gaan met hul lewe. “Deur die Here se genade het hulle nie geluister nie. Met baie liefde en deur moeilike tye sit ek vandag hier.”
Sy verhaal was die inspirasie vir ’n kinderboek. Sy ervaring as toeskouer van die 2010 Sokkerwêreldbeker is in ’n gedenkboek opgeneem. Hy is ’n Loslitdag-ambassadeur. Hy het onlangs by die nasionale boccia-kampioenskap (’n balsport vir gestremdes) ’n bronsmedalje gewen. Saam met ’n vriendin bedryf hy ’n webwerf oor serebrale gestremdheid. En in Maart is hy as ouderling in die kerkraad van die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg bevestig – die eerste serebrale gestremde kerkraadslid in dié gemeente se bestaan van 53 jaar.
“Ek dink dis tyd dat ander gemeentes en die kerk mense met gestremdhede, ongeag fisiek of intellektueel, moet omarm en intrek in die gemeente en hulle moet gebruik. Ons is almal hier met ’n doel,” sê hy.

Want gestremdes word steeds gemarginaliseer. Soms so onsigbaar, dat mense jou ignoreer. Ander kere weer só sigbaar … “Mense staar,” sê Julius. “Dan staar ek gewoonlik terug!” Hy besef dis omdat mense nie weet hóé om op te tree nie. “Maar hulle kan net kom vra. Hulle moet heel eerste probeer om ’n gesprek met ons aan te knoop. Dit frustreer my eindeloos as ek na ’n restaurant toe gaan en die kelner vra my assistent wat ek wil eet. Ek kan dit nie verstaan nie. Maar dis omdat mense nie kennis het nie.”
Kennis, sê hy, is mag. “As jy wéét kan jy berge versit.”
Net so met bouprojekte, waar daar soms ’n oprit gebou word vir toeganklikheid, maar dan is dit so steil dat dit in elk geval ’n gesukkel afgee. “Hulle moet net vooraf met ons praat,” sê hy.
Andrew Murray se kerkgebou het nie 18 jaar gelede ’n oprit gehad nie. Toe vra Julius – vir homself, maar ook vir ma’s met stootwaentjies en vir bejaardes. Selfs die pastorie, wat voorheen as ’n sentrum gebruik is, het ’n oprit.

“Andrew Murray maak nie onderskeid tussen mense nie,” sê Julius. “Dit het regtig vir my ’n tuiste geword … Ek staan op dieselfde voete as ander lidmate, ek gebruik net wiele.”
Hy sê die leraar, ds Rudi Swanepoel, verwys gereeld daarna dat hulle ’n geméénskap is en nie ’n blote gemeente nie.
Julius staan ook sy plek in die res van die gemeenskap vol, met die hulp van sy assistent, Jafta Morudu. Hy beskryf gestremdes se persoonlike assistente as “engele, direk van die Here af” en sê Jafta is sy skaduwee. “Sonder hom kan ek nie. Ons is soos broers.”

Sedert 2002 werk hy smiddae by Helpmekaar Kollege in Johannesburg waar hy leerlinge by die naskool in die rekenaarsentrum met skoolwerk help. Hy sê die gr 8’s is eers maar skrikkerig, maar teen die derde week word hy soos enige onderwyser behandel. Hy glo die kinders het ’n voordeel omdat hulle blootgestel word aan ’n gestremde. Sodat hulle nie eendag as volwassenes sal staar óf maak of jy onsigbaar is nie.
Sy raad vir kerke om gestremdes tuis te laat voel, is om nié aannames te maak nie. Om nié gestremdes te gebruik vir eie gewin of roem nie. Om gestremdes nie te dwing om betrokke te raak nie.
“Praat net met ons.”
En in daardie interaksie met Julius van der Wat sal jy ’n kykie kry in die lewe van iemand wat ’n vér pad gekom het. “Nie ondanks serebrale gestremdheid nie,” keer hy. “Mét serebrale gestremdheid.”
