Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk

’n Klein plattelandse NG gemeente is by ’n kruispad. En hulle is nie alleen nie, berig Le Roux Schoeman uit Noordwes.

Jan “Pen” Fourie swaai op ’n onlangse weeksoggend sy bruingebrande arm in die rigting van die leë banke binne die netjiese, toringlose kerkgebou van NG gemeente Amalia in Noordwes. “Ek is hier gedoop, voorgestel en ge-alles in hierdie kerk.”

Hy staan, blokkieshemp, kniebroek, kouse en bruin skoene op die rooi tapyt voor die preekstoel en ek vra hoe hy sou voel indien dié 94-jarige gemeente sou moes sluit? “Ek verstaan die redes, maar dit gaan maar swaar wees. My voorgeslagte het die gemeente help stig. Ons hoop maar altyd,” sê Fourie.

Fourie is een van die oorblywende 78 lidmate hier. Hy boer met beeste op ’n plaas sowat 24 km van die kerk af, waarvan die hoeksteen in 1928 gelê is op ’n nedersetting sowat 30 km buite Schweizer-Reneke. Dit vat hom meer as ’n uur om die slaggatpad te trotseer tot hier. Indien die gemeente sou saamsmelt met ’n groter buurgemeente op Schweizer-Reneke is die rit vir Fourie eenvoudig te ver. Dan sal hy maar sy Ford-bakkie Vryburg se kant toe moet mik indien hy steeds die soort Sondagoggenddienste wat sy geloof gevorm het, wil bywoon.

“Barrie” Barkhuizen deel Fourie se kommer. “Ek ken Amalia van ek 9 jaar oud is en ek het die plekke sien toemaak hier. Eers die stasie en toe van die winkels en toe die koöperasie. En ek het altyd vir hulle gesê, boys, ons laaste vesting is die kerk. Ons moet baklei dat ons ons kerk kan oophou. En ons is nou op daai punt waar dit nou vir ons ’n probleem raak,” vertel Barkhuizen, ook ’n boer en aktiewe lidmaat. Hy is getroud met Arlene Barkhuizen, die gemeente se skriba, deur wie se toedoen Kerkbode in Maart vanjaar vir die eerste keer van Amalia se geldelike verknorsing te hore gekom het toe sy laat weet het dat die gemeente van hulle kerkbanke wil swaai om fondse te genereer, ’n plan wat, selfs in die Covid-konteks van jou munte twee maal omdraai, taamlik opvallend was.

“En ek het altyd vir hulle gesê, boys, ons laaste vesting is die kerk,” vertel Barrie Barkhuizen (heel regs).

Arlene is ’n raakvatter met ’n raamlose bril, kort hare en rooi en wit geblomde bloes en ’n denim wat haar op die middel van die kuit vat. Sy stap met die sleutels oor na die kerksaal om my te gaan wys waar die oorblywende ouderling- en diaken-kerkbanke staan wat die gemeente toe wel suksesvol begin bemark en verkoop het. Sy praat met deernis maar tog kortpad.

  • Oor die lidmate: Die helfte is nie betrokke nie en driekwart gee nie dankoffers nie.
  • Oor die banke: Altesaam 11 verkoop teen R700 per meter.
  • Oor die toekoms: Almal sê ons moenie die kerk toemaak nie, want jy maak nie ’n kerk toe nie. En as dit God se wil is sal daar ’n uitkoms wees. Maar daar is realiteite.

Arlene Barkhuizen, die gemeente se skriba en raakvatter, hier by van die diakenbanke wat hulle begin verkoop het om geld in te samel. Foto: Le Roux Schoeman

Buite die kerksaal is Filemon Tabo besig om in die middagson ’n spogtuin te maak wat Kew Gardens se spanne senuagtig sou maak, maar Arlene weet dat ook die oorblywende werknemers van die gemeente (skriba/kassiere, koster, deeltydse skoonmaker en einste Filemon as tuinwerker) se toekoms is in die gedrang. “Jy kan hulle nie laat loop nie. Wie gaan hierdie gras sny? Wie gaan daai een se werk doen?” wil sy weet.

Die dorpie het boonop ’n gemeenteverbonde aftree-oord met 11 woonstelle en vier kamers, ’n eetsaal met kombuis, spens en ’n biblioteek. Arlene vertel hulle sukkel om die eenhede vol te kry – onder meer oor dit te ver van enige winkels af is. Ook dié deel van Amalia en die lot van die inwoners is dus onseker. Arlene en haar man vertel die oord se storie vir my terwyl ons op ’n stofpad stap, tussen ’n roostuin en ’n elektriese heining.

“Wat ek agtergekom het, is daar’s ’n klompie (lidmate) wat met hulle hart dink. Hulle wil hê als moet aangaan soos dit voorheen aangegaan het,” meen ds Ampie Swanevelder, hier tesame met sy vrou Annamarie en Flooi, hulle hondjie. Foto: Le Roux Schoeman

Filemon Tabo, een van die klein gemeente se werknemers. Hy maak tuin.

As ’n mens vir ’n oomblik in die eenvoudige delwersterme van boom en bust sou dink, lê die boom-jare agter Amalia en op ’n sekere manier agter die hele NG Kerk – gemeet aan die spesifieke maatstawwe van die drie G’s: Geld, Getalle en Geboue.

Met die oorspronklike 600 lidmate se afstigting hier na Amalia in die laat 1920’s, het daar nog bykans 1 200 lidmate in Schweizer-Reneke oorgebly, vertel die geskiedenisboeke ons. En die gemeente het selfstandig geword en gefloreer, as ’n mens na lidmate soos Simon Barkhuizen (nie familie van Arlene nie) luister: “Toe my pa diaken was, het hy 21 gesinne gehad wat in sy wyk was. En ek was seker 8 jaar terug diaken, en in daai selfde wyk het ek twee gesinne oor,” vertel die 48-jarige boer en lidmaat oor die groot krimp.

Toe tref Covid-19 met gevolge wat die NG Kerk steeds probeer peil. Die Taakspan Navorsing het ’n steekproef onder van die kerk se meer as 1 000 predikante asook tentmakers en termynposte gedoen en voorlopige uitslae van hierdie Predikantepaneel-navorsing, wat in Oktober 2020 uitgevoer is, het getoon dat 4,7% van respondente saamstem met die stelling: Die pandemie gaan veroorsaak dat hierdie gemeente nie kan oorleef nie. Net meer as 6% van respondente het op dieselfde vraag geantwoord dat hulle onseker/neutraal is.

Maar vir Amalia het die draaipunt reeds voor Covid-19 gekom, vertel Arlene. “In 2017 het die spul uitmekaar begin val. Slegte goed het gebeur. Ons skriba is vermoor, die orrelis is dood, die dominee is weg,” vertel sy.

Die dood van Elsa Erasmus – ’n plaasmoord – is inderdaad ’n storie wat by herhaling selfs tydens ’n kort besoek opduik. “Sy was alles (in die gemeente),” vertel Arlene. Sy’t als geweet. Haar kennis is saam met haar graf toe.”

Neels Jackson skryf in sy jongste boek Drie dekades van verandering (Lux Verbi, 2021) dat die NG Kerk teen 1990 ’n groot en magtige kerk, in baie opsigte ’n hoogs suksesvolle kerk, maar op kernpunte ook ’n baie siek kerk was.

Nou is hierdie klein gemeente, met sy jukskeidae en basaars as slepende finansiële ankers, domineeloos in die Mamusa-munisipaliteit van 2021; met sy bevolking van sowat 64 000 waarvan 89% Setswanasprekers is en waar 50% van die bevolking 19 jaar of jonger is. En boonop binne ’n streeksinode (Goudland) wie se belydende lidmate eweneens afgeneem het van 96 775 in 2011 tot 60 999 in 2021, volgens die NG Kerk se Jaarboek-data. En dit binne die NG Kerk, wat landwyd sit met dieselfde afwaartse lidmaattendens plus ’n skeut interne teologiese spanning op die koop toe.

Wat is kerk?

Daar is ’n paar verstekposisies (’n bietjie soos die woorde van Job se vriende) by die aanhoor van Amalia se geval en die meeste van hulle is makliker verwoordbaar wanneer daar nie direk met die emosionele lading van die spesifieke mense se situasie gewerk word nie.

  • Meer “suksesvolle” gemeentes of denominasies sou gewoon kon sê: Julle doen nie kerk reg nie.
  • Ander geloofsoortuigings of ongelowiges sou kon sê: Wel, die kerk doen buitendien nie reg nie.
  • Nog ander sou teologies kon sê: Julle kerkverstaan is beperk en eksklusief. Wat julle probeer red, is kultuurgedrewe.

In ’n artikel wat reeds in 2002 gepubliseer is, haal ds Noël Schreuder vir wyle prof Ferdinand Deist aan wat destyds uitgevaar het teen “markgerigte foefies” om mense in die kerk te probeer kry en te hou: “Vir my is die probleem dat Christene vergeet het wat dit beteken om navolgers van Christus te wees tussen honger mense in die krotbuurte en tussen die prostitute en belastinggaarders, en húlle te dien. Die kerk is nie daar vir homself nie … Die kerk is daar vir die stukkende, honger, verontregte werklose en daklose mense … want God laat sy son skyn en sy reën val oor alle mense,” lui die aanhaling in die stuk getiteld “1994 – Toekomsskok of toekomsvisie?” wat in die feesboek NG Kerk 350 (Lux Verbi.BM, 2002) verskyn het.

Deist verteenwoordig stellig nie ’n klein ekstreem in vandag se NG Kerk nie. Vele NG gemeentes en diensorganisasies wat daaruit gegroei het en talle (ere)dienste in verskeie tale aan uiteenlopende gemeenskappe lewer, sal waarskynlik skrik vir die atavistiese teologie van kerk as laaste kulturele loopgraaf. So daar is ’n teologiese paradigmaskuif aan ’t gebeure hier onder die vloerplanke van Jan “Pen” se grootwordgemeente. Voor jy kan probleem oplos rondom hoe red die kerk die gemeente, sou sommige sê jy moet vra: Wat is kerk? Wat is gemeente? Wat is red?

Die joernalis Neels Jackson het waarskynlik al soveel hieroor gedink soos enige iemand in die kerk. Hy het breedvoerig hieroor geskryf in sy jongste boek Drie dekades van verandering (Lux Verbi, 2021). Jackson skryf dat die NG Kerk teen 1990 ’n groot en magtige kerk, in baie opsigte ’n hoogs suksesvolle kerk, maar op kernpunte ook ’n baie siek kerk was. Ons haal hom hier breedvoerig vanaf bl 32 aan om ’n breër agtergrond te skets as Amalia in Noordwes in hierdie ietwat politiek chaotiese munisipale verkiesingsjaar.

Kerk teen 1990

  1. Die NG Kerk met haar elf sinodes was ’n groot kerk, verreweg die grootste kerk onder Afrikaners. Die lidmaattal, volwassenes en kinders, het teen 1986 ’n hoogtepunt van sowat 1,4 miljoen bereik.
  2. Dit was ’n magtige kerk. As gevolg van die noue band met die regering het die NG Kerk groot invloed gehad. Dit was nie vreemd dat die NG Kerk die regering vir spesifieke wetgewing sou vra en dat dit dan deurgevoer word nie. NG predikante het ook instansies soos die kapelaansdienste van die Suid-Afrikaanse Weermag, die Suid-Afrikaanse Polisie en die Korrektiewe Dienste oorheers. Die kerk het beheer gehad oor die godsdiensprogramme by die SAUK, radio én TV, en het die leiding geneem by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Daarby het die kerk ’n belangrike rol gespeel in die staat se sensuurstelsel wat uitsprake oor die wenslikheid van boeke, rolprente, teaterproduksies, en dies meer gelewer het. Die NG Kerk was daaraan gewoond om mense se lewe te beheer. Ek onthou hoe ’n predikant in die 1980’s van die kansel af teen die dra van sonrokke te velde getrek het. Dit was rokke wat net ’n dun bandjie oor die skouers gehad het, en na die dominee se oordeel was dit te ontblotend. Teologies gesproke het die NG Kerk “van bo af” gedink. ’n Teologie “van onder af”, deur die oë van die armes en randfigure, was iets vreemds.
  1. Die NG Kerk was ’n patriargale kerk. Slegs mans is na die vierjaarlikse vergadering van die algemene sinode en na die vergaderings van die onderskeie streeksinodes afgevaardig. Die sinodevergaderings se besluite was bindend op gemeentes. Die sinodes sou byvoorbeeld besluit wat in eredienste gesing mag word, watter klere predikante en kerkraadslede moes dra, hoeveel preke daar jaarliks uit die belydenisskrifte gelewer moes word, en watter formuliere daar by verskillende geleenthede gebruik moes word. Gemeentes sou grootliks daarby inval.
  2. Dit was in ’n groot mate ’n “verstand”-kerk. Sinodevergaderings is in parlementêre styl gehou, met soms lang en intense debatte, en ’n stemming om die uitkoms van ’n bepaalde saak te bepaal. Sulke vergaderings was ’n kragmeting van idees. Teologies gesproke was die korrekte formulering van geloofswaarhede belangrik. Die kerk was skepties oor emosionele uitdrukkings van godsdiensbelewenis.
  3. Dit was ’n homogene kerk. Omdat baie van die onderskeie gemeentes se handelswyse deur sinodes bepaal is, het gemeentes grootliks eenders gelyk en op dieselfde wyse gefunksioneer. ’n NG lidmaat sou op enige gegewe Sondag by enige NG gemeente kon instap en dadelik tuis voel. Baie van wat in die erediens plaasvind, sou bekend wees.
  4. Die NG Kerk was ’n goed georganiseerde en gesentraliseerde kerk. Die kerk het ’n lang en trotse tradisie van sending- en welsynswerk gehad, met verskeie kinderhuise, ouetehuise en maatskaplike dienste onder haar beheer. Hierdie werk is teen die 1980’s grootliks vanuit groot sinodale kantore en deur predikante in sinodale diens bestuur. Gewone lidmate se betrokkenheid daarby was min.
  5. Die NG Kerk was ’n geïsoleerde kerk. Die breë kerklike wêreld het aan die NG Kerk probeer sê dat sy dwaal, maar die kerk wou nie luister nie.
  6. Dit was ’n kerk met ’n verskraalde evangelie. Toe die NG Sendingkerk in 1986 die Belydenis van Belhar aanvaar en daarmee versoening, eenheid en geregtigheid as drie kernpunte van die evangelie identifiseer, kon min mense in die NG Kerk dit as die evangelie herken. Dit het vir hulle na politiekery geklink. Die evangelie wat vir NG lidmate bekend was, was een van persoonlike verlossing en ’n eng persoonlike moraliteit. Dans en drink en dobbel is as sonde beskou, maar nie die miskenning van ander mense se menswaardigheid nie.
  7. Met dit alles gesê, was die NG Kerk ook vir talle die draer van die geloof, die geestelike moeder deur wie honderdduisende gelowiges God leer ken het en God wou dien. Ek is een van dié wat my geloof in en deur die NG Kerk gevind het en vir wie die kerk ’n geestelike moeder is.

Jackson skets dan later die kontras deur op bl 276 van die boek te skryf: As ’n mens aan die einde van dié boek die NG Kerk van 1990, soos dit puntsgewys aan die einde van Hoofstuk 1 beskryf word, met die NG Kerk van 2020 vergelyk, sou jy die volgende kon sê:

  1. Die NG Kerk is teen 2020 ’n kleiner kerk as wat dit in 1990 was. Lidmate het min ander redes om aan die kerk te behoort as dat hulle die kerk se geloof in Jesus Christus deel en Hom wil volg. Dit is baie goed vir die kerk.
  2. Die NG Kerk het baie van haar mag verloor, wat goed is vir die kerk. Dit het die kerk die geleentheid gegee om die dienskneggestalte te herontdek wat éintlik die bedoeling met die kerk is.
  3. Die patriargie het in ’n groot mate die wyk geneem, en vroue se invloed en bydrae het veel groter geword. Dit het die kerk oneindig verryk.
  4. Die kerk het in haar spiritualiteit gegroei van ’n kerk wat grootliks ’n “verstandskerk” was tot een wat die hele mens aanspreek. Dit het die kerk ook baie verryk.
  5. Die NG Kerk het ál meer ruimte vir diversiteit op verskillende gebiede gemaak. Op baie van dié gebiede, soos in die soeke na kerkeenheid, is daar nog heelwat ruimte vir groei. Maar dat die kerk reeds in verskeie opsigte veel oper is vir diversiteit en op bepaalde plekke meer diversiteit toon, is net goed vir die kerk.
  6. Die NG Kerk is ’n baie minder gesentraliseerde kerk. Terwyl die kerk se georganiseerde barmhartigheidsaksies steeds ’n enorme diens lewer, is gemeentes baie meer direk by die samelewing se nood betrokke as tevore.
  7. Die NG Kerk het haar ekumeniese isolasie deurbreek en stewige bande met baie kerke opgebou, binne en buite ekumeniese organisasies.
  8. In baie opsigte het die NG Kerk wegbeweeg van die verskraalde evangelie wat slegs op persoonlike verlossing en ’n eng moraliteit fokus, na ’n evangelie wat God se liefde op ’n baie meer holistiese manier uitdra.
  9. Die NG Kerk bly steeds vir my en baie ander ’n geestelike moeder, en sy is nou baie beter as in 1990 geplaas om haar kinders ’n onbesoedelde en vollediger evangelie te bied, én om dit vir ’n baie groter verskeidenheid mense te doen.

Te midde van die groter skuiwe wat Jackson waarneem, wonder ’n mens steeds: Hoe maak Amalia se kerkraad nou? Hoe lyk ’n paradigmaskuif hiér? wonder ek terwyl ek verby Amalia se polisiekantoor en informele woonbuurt ry tot terug by die aftree-oord. Daar wag ds Ampie Swanevelder tesame met sy vrou Annamarie en Flooi, hulle hondjie. “Wat ek agtergekom het, is daar’s ’n klompie (lidmate) wat met hulle hart dink. Hulle wil hê als moet aangaan soos dit voorheen aangegaan het,” meen die 66-jarige afgetrede dominee van Despatch, wat in September as brugpredikant hier begin werk het en (voorlopig) vir drie maande sal bly.

“Daar is ’n klompie wat met die verstand dink, wat sê dit is nie moontlik nie, ons moet besluite neem, ons moet aangaan. En dan is daar mense tussenin. Party het al wegbeweeg en jy gaan sukkel om hulle terug te kry,” voorspel Swanevelder (66). Ek vra hom wat hom persoonlik toerus vir ’n job wat vir die buitestander lyk na ’n mengsel tussen speurwerk, traumaberading en scenario-beplanning. “In my hart is ek ’n predikant,” antwoord hy. “In die eerste plek gaan dit nie oor die ‘brug’ (in die term brugpredikant) nie, ek is hulle dominee … ek preek, ek is by hulle pastoraal betrokke, werk met hulle trauma, help om dinge van die verlede te verwerk. Ek het ’n pastorale hart. En in die tweede plek gaan dit daaroor om hulle te hoor en te fasiliteer.”

Indien hy self sterk gevoelens oor ’n bepaalde toekomsscenario het, is dit nie maklik sigbaar nie. Maar Swanevelder het reeds ’n grondige kennis van die gemeente se geskiedenis. Oor die historiese konteks stuur hy later vir my ’n nota per e-pos: “Ons kla oor die tyd waarin ons vandag leef. Hier was ’n geslag wat nooit vrede geken het nie. Hulle het na mekaar beleef die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie, die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Griep en die politieke spanning daarna. Die politiek was so erg dat daar ’n afvaardiging na die kerkraad gestuur is wat versoek het dat die kerkraad uit gelyke getalle Sappe en Natte moes bestaan.”

Die dorp.

Die kerkgebou.

Die aftree-oord se biblioteek.

Jan “Pen” boer met beeste op ’n plaas sowat 24 km van die kerk af, waarvan die hoeksteen in 1928 gelê is op ’n nedersetting sowat 30 km buite Schweizer-Reneke.

Wanneer ek en Swanevelder op die grasperk staan en gesels oor sy rol hier op die dorp, verduidelik hy so: Wat ek ook nou probeer vir hulle tuisbring, is dat die identiteit van kerkwees lê in Jesus Christus. Dit lê nie in ’n plek of in ’n denominasie nie. Dit lê in Jesus. Hy is die Hoof van die kerk. En hulle identiteit lê in Hom. So watter scenario hulle ookal aanneem, die kerk gaan voort, die gelowiges gaan voort. Dit gaan net oor ’n nuwe situasie,” verduidelik Swanevelder. “Ek het ook vir hulle begin sê met my intree hier, Filippense 1:6, die goeie werk wat God in hulle begin het, Hy sal dit enduit voer, ongeag wat met die gemeente gebeur.”

Swanevelder, sy vrou en Flooi stap rustig deur die gronde van die aftree-oord, gesels met inwoners wat sit en rook op die stoep. Hy’t uit aftrede gekom, van die bench af, soos hulle in rugby sou sê, om hier te kom help. “Daar’s baie gemeentes wat nie meer kan voortbestaan nie. Wat saamsmelt. Ons is deur ’n paar sulke prosesse al. In Vereeniging (waar hy baie lank gewoon en gewerk het), in ons tyd, is drie gemeentes wat nie meer bestaan nie. ’n Ring van 14 het ’n ring van 8 geword.

Arlene Barkhuizen en Willie Holtzhauzen vat ’n blaaskans. Willie is een van die inwoners by die gemeenteverbonde aftree-oord met 11 woonstelle en vier kamers, ’n eetsaal met kombuis, spens en ’n biblioteek. Foto: Le Roux Schoeman

Hy wil nie die proses hier vooruit loop nie. Hy luister nog. Vra vrae. Kom persoonlik by lidmate uit. Tog laat Swanevelder weldra blyk: “Ek dink nie toemaak is ’n opsie nie. Ek dink die opsie gaan wees, gaan hulle weer ’n predikant beroep (en wat sal die pakket wees). Die ander moonltikheid is om ’n wyk te word van die naburige Schweizer-Reneke. Nog ’n opsie is samesmelting … dat Schweizer-Reneke die gebou oorneem.

Daai netjiese toringlose gebou met die bordjie by die hek wat lees:

KERK

STILTE


Ontleding: Diensleraars kan gemeentes meer volhoubaar maak … is lidmate gereed vir die kopskuif?

Terwyl sommige ringe in die diep platteland binnekort net een of twee voltydse predikante sal hê, is die groot vraag hoe diensleraars en bedienaars in gemeentes ontvang sal word, skryf Lourens Bosman.

Die landskap van bediening in die NG Kerk is besig om baie vinnig te verander. Een van die grootste veranderings lê in die hoeveelheid voltydse leraars wat gemeentes bedien. Toe ons laas getel het, het die kerk voltydse leraarsposte verloor teen ’n tempo van een per week, 50 poste per jaar.

Baie van hierdie poste word tans gevul deur afgetrede predikante met termynkontrakte. Dit is egter nie ’n permanente oplossing nie. Hierdie dominees word ook ouer en sal geleidelik al minder word. Sommige ringe in die diep platteland sal binnekort net een of twee voltydse predikante hê.

Of dit ’n ramp sal wees of nie, hang alles af van hoe die kerk in die volgende paar jaar gaan reageer.

Op die laaste Algemene Sinode is ingrypende veranderings goedgekeur oor die aard van die bediening. Dit gaan oor die alternatiewe bane vir teologiese opleiding wat voorsiening maak vir diensleraars en bedienaars. Hierdie is tipies mense wat in ’n voltydse “sekulêre” beroep staan, en dan opgelei word as deeltydse bedienaars met ’n spesifieke opdrag. Die opleiding is korter, meer praktykgerig en sluit nie Grieks en Hebreeus in nie.

Die vraag is hoe hierdie mense in die gemeentes ontvang sal word. Tevore het ons dominees beroep wat ’n lang opleiding gehad het, wat van ’n ander plek kom en wie se geite ons nie ken nie. Nou word dit Willem van Welgelegen of Sarie van Soetwater wat die Woord bring en die bediening behartig. Sal hulle gesien word as volwaardige leraars of as ’n tweederangse oplossing?

Voor jy te vinnig antwoord, is dit dalk goed om eers ’n bietjie te dink aan wat in die vroeë kerk gebeur het, die tyd waarvan ons in die Bybel lees.

Die oudste geskrif in die Nuwe Testament is 1 Tessalonisense. Dit is ouer as enige ander boek, insluitend die vier Evangelies. Paulus skryf in hierdie brief oor sy groot bekommernis oor die gemeente. Hy kon maar omtrent drie weke in die gemeente werk voor hy en Silas moes vlug. Ons lees hierdie verhaal in Handelinge 17. G’n wonder Paulus was bekommerd oor hulle nie. Hy het gewonder of die gelowiges wat hy so haastig moes agterlaat, die mas gaan opkom.

Die brief is egter vol verwondering en dankbaarheid dat dit so goed met hulle gaan: Hulle volhard in die geloof en is ’n voorbeeld vir ander gelowiges. Dit bevestig dat God self, deur die Heilige Gees, in hulle aan die werk is.

En dan, teen die einde van die brief lees ons: Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk.

Dit is nogal sterk woorde: erken hulle, betoon die hoogste agting, hulle werk in opdrag van die Here.

Wie is hierdie mense wat die gemeente moes lei en moes teregwys, nogal? Dit was mense uit die gemeente. Hulle is nie na een of ander inrigting gestuur om opleiding te kry nie. Dit was mense wat uit die gemeente na vore gekom het met ’n opdrag van die Here en wat deur die Heilige Gees toegerus is. ’n Mens sien dieselfde patroon in die tweede oudste boek van die Nuwe Testament, in 1 Korintiërs 12, wat vertel dat die Gees dié gawes gee wat nodig is dat die liggaam homself kan opbou.

Dit lyk my ons is besig om op ’n manier terug te keer na die oudste patroon van die kerk: mense uit die gemeente self, met die nodige gawes wat aangewys en toegerus word om te lei en te leer.

Ons het gewoond geraak aan professionele predikante met ’n lang opleiding en gemeentes met begrotings wat hulle kon bekostig. Die veranderende wêreld dwing ons nou om terug te keer na die patroon van die Nuwe Testament self. Die agting en erkenning wat aan hierdie leiers en dienaars uit die gemeente self gegee moet word, lê daarin dat hulle die gawes en opdrag van die Here kry, en dat hulle roeping deur die gemeente bevestig word. Hierdie skuif sal die onvervangbare bediening van talle klein gemeentes dwarsoor die land, volhoubaar maak. Dit plaas die bediening terug in die hande van die gemeente.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Word 'n vriend van Kerkbode