NG Kerk: ‘Kleiner, verder van mag … gesonder’

Die NG Kerk het minder mag, minder lidmate én is “gesonder” as toe Neels Jackson dertig jaar gelede kerkvergaderings en sinodesittings as joernalistieke “beat” gekies het, vertel hy aan LE ROUX SCHOEMAN.


Neels Jackson het gaan sit en probeer om die storie van die NG Kerk te vertel. “Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor wat ek sien gebeur het,” vertel Jackson onlangs via Microsoft Teams tydens ’n bekendstellingsgesprek, gereël deur Lux Verbi, sy uitgewer.

Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming is sowat 285 blaaie, opgedeel in 13 hoofstukke afgewissel met kort pensketse van interessante rolspelers in die kerk om die hele ding ’n bietjie te vermenslik – ’n deurlopende professionele ambisie by Jackson.

Die boek is opgedra aan sy vrou Louise en hy skram nie weg van staaltjies uit sy persoonlike geloofsontwikkeling nie. Maar dit is oorwegend op-kantoor-Neels aan die woord: Daar’s skerp verslaggewing, dan’s daar toeganklike geskiedskrywing en dan is daar “sense-making”. Laasgenoemde is sy hantering van teorie, raamwerke en aannames wat – bewustelik of onbewustelik – ’n groot invloed het op hoe verandering en stagnasie in hierdie kerk met haar meer as 1 000 gemeentes en tien streeksinodes beleef word. (Vra hom gerus ’n slag om paradigmaskuiwe aan die hand van die sosioloog Everette Rogers se werk te verduidelik.)

LEES OOK: Omvangryke publikasie aan Plaatjies-Van Huffel opgedra

Die kernwoord in die titel is veran­dering. Daaroor sê hy: “Terwyl (die NG Kerk) ’n groot suksesvolle kerk was, was dit op ’n manier ook ’n baie siek kerk,” verduidelik hy. “In die dertig jaar (wat die boek dek) was daar baie verande­ringe en in baie opsigte verbeteringe.” Jackson gee toe sy professionele per­spektief oor die jare bepaal sy insigte: “Ek was in die baie bevoorregte posisie dat ek die kerk van baie kante kon sien. Ek het al die algemene sinodes sedert 1990 bygewoon,” sê hy en voeg by dat hy ook ten minste een keer by elke streeksinode se sitting was (behalwe Namibië s’n). So, hy het byna weergalose voetsoolvlakervaring en institusionele geheue – hoewel vanuit die persgalery.

Hoekom is Jackson positief oor ’n kerk wat – suiwer in handelsmerkterme gesien – vir vele prominent gebly maar troebel geword het? ’n Denominasie waarin strydvermoeides haastig verby die soveelste berig oor teologiese verskille scroll terwyl sommige fanatici getrou bly aan die definisie van dié soort, naamlik dat ’n mens hulle nóg van standpunt nóg van onderwerp kan ver­ander. Jackson sê: “Ek verstaan dat die kerk in 1990 en vroeër op ’n manier ’n baie siek kerk was. Die NG Kerk was besoedel met mag. Daar was ’n baie sterk kultuurelement aan die kerk,” verduidelik hy. Lidmaatskap was soms nie uit geloofsoortuiging nie. “Terwyl daar deesdae geen rede is om aan die kerk te behoort behalwe uit oortuiging nie.”

Jackson beskryf hierdie as ’n positiewe wending en meen dit gaan gepaard met ’n teologiese skuif weg van die kerk se “verskraalde evangelie wat gegaan het oor persoonlike bekering …” Die NG Kerk waarin Jackson grootgeword het was “vasgevang in ’n ideologie van ‘ons’,” vertel hy. “Terwyl die evangelie nie gaan oor ons nie, dit gaan in ’n groot mate oor ander,” verduidelik hy.

Ander aspekte van verandering is meer voor die hand liggend: leë banke of karige bankbalanse. Die kerk se lidmaattalle glip jaarliks – rits selfs af­waarts, in sommige gevalle. En die NG Kerk het kennelik deesdae ’n ander soort invloed en beeld na buite. Jackson dink só hieroor: “Die kerk was ’n noue vennoot van die Nasionale Party … het baie naby aan die mag beweeg. Die kerk­leiding was gewoond om van bo na die samelewing te kyk met ’n soort van beheer-en-heers benadering. Nou is al daai mag weg. Die omstandighede van die land het dit eenvoudig van die kerk weggevat. Die NG Kerk het weinig in­vloed by die regering … maar wat die NG Kerk toe in plek daarvan ontdek het, is die diensknegbenadering wat eintlik in die hart van die evangelie lê.”

Kyk ’n mens na die afname in NG Kerk-lidmate oor die jare, sou ’n mens kon sê om skielik getalle te problematiseer is gewoonlik ’n voorspelbare stra­tegie van instellings wie se getalle sleg lyk. So Jackson se redenasie oor hoekom die kerk, wat in 1990 sowat 1,4 miljoen lidmate op die boeke gehad het, nou eerder kwaliteit as kwantiteit meet (ek parafraseer), sal nie almal oortuig nie. Maar kom ons stel die skrywer self aan die woord: “In my kop het ek eintlik lankal opgehou om aan die NG Kerk te dink as ’n groot en magtige kerk, selfs as ’n hoofstroomkerk,” skryf hy op bl 269. “My gevoel is dat meelewende NG lidmate ’n minderheid onder wit Afrikaanse mense is, dalk selfs ’n kleinerige minderheid.”

Die groot storie binne die storie is die NG Kerk se afskeid van apartheid. Hoofstuk 2. As daar iets is wat illustreer dat kerke se besluite stadig soos suurdeeg en nie eensklaps soos skakelaars werk nie, is dit hierdie “reis” wat leiers en lidmate onderneem het na uiteindelike sondebelydenis oor rasse-ideologie. “Dit was baie belangrik dat die NG Kerk raakgesien het dat sy verkeerd was. Dit was nie maklik of eensklaps nie en is nie volledig voltrek nie. So, die bekering wat die NG Kerk deur is, was ’n belang­rike ding,” sê Jackson met sy kenmer­kende erns, effe vooroor gebeur by sy rekenaarskerm.

LEES OOK: #3 Bekommer jy jou oor jou libido wat verdwyn het?

As ’n mens na Jackson se eie verstaan van verandering luister, herinner dit aan daai boggelrug “adoption curve” waarmee nuwe tegnologie se aftrek dikwels uitgebeeld word: Die groepie wat vroeg uit die blokke is. In hierdie geval: Eerste uitroep dat apartheid sonde is (in verbruikersterme: eerste die nuwe ­iPhone koop). Dan die gros in die middel. Dan die sogenaamde “late adopters”… Dié wat in stryd is met die tendens en wat ook nie noodwendig hulle by die skuiwende konsensus sal aansluit nie. Wat apartheid betref, was die voorlopers mense soos prof Ben Marais en dr Beyers Naude, herroep Jackson. “Later proff Willie Jonker en David Bosch … en mettertyd het dit ’n beduidende maar groeiende minderheid geword. En ons het dit byvoorbeeld gesien in 1982 toe 123 gelegitimeerdes van die NG Kerk die ope brief onderteken het waarin hulle hulle uitspreek teen apartheid terwyl dit die amptelike standpunt was … Die golf was aan die kom. Daai golf groei tot hy breekpunt bereik – tot die kritiese massa skuif. Tot dit die meerderheid word wat sê apartheid is nie meer die regte ding nie. Dit het in 1986 gebeur met die aanneming van Kerk en samelewing met daai sleutel­frase daarin … die ‘NG Kerk is oop …’”

Dit mag eenvoudig Jackson se brand van bedaarde kundigheid wees wat soms ’n bietjie aan ’n terapeut of lankmoedige Sondagskoolonnie herinner, maar ’n mens tel iets van ’n noodwendigheid by hom op wanneer hy oor groot verandering praat. Asof dit eenvoudig sál … Waar of nie? Hy verduidelik fyner wanneer ’n mens hom hieroor pols: “As verandering kom, dan daal die vrede nie neer nie … dan bars die geveg los. Dan is die ouens wat skielik in die minderheid is op hulle agterpote en die konflik op sy ergste. Maar mettertyd bedaar die konflik. Tot daar net enkeles oorbly wat nog op ’n ou manier dink.” So dink hy ook oor selfdegeslagverbintenisse. “Die konflik is nou op sy ergste. Maar oor 30 jaar gaan ons terugkyk en sê waaroor was al die bakleiery?” meen hy.

Jackson tob oor ’n volgende boek. Sy laaste paar jaar as voltydse joernalis was by Kerkbode ná ’n stewige kolfbeurt by Beeld. Nou wil hy skryf oor een van twee onderwerpe. Hoe om die Bybel te lees. Of hoe om die stokperdjie van voëlskyk te betree (albei soms intimiderende aktiwiteite).

Ek merk op dat sy nuwe boek nogal grudge-vry is en sit en dink by myself dat die skrywer selfs in die Teams-onderhoud nie die opvlieënde liggaams­taal het van iemand wat geweldig op­gewerk is oor enige van die sogenaamde bekgevegte in die kerk nie. “Ek het vir myself gesê toe ek klaar gemaak het by Kerkbode, ek wil nie suur wees nie. Daar was genoeg waaroor ’n mens ontsteld sou kon wees of aan die groot klok kon hang, maar ek het ’n doelbewuste be­sluit geneem dit help my nie. Ek dink nie dit help die kerk uiteindelik nie,” vertel Jackson.

As iets van ’n aartsjoernalis uit die koerantdae van weleer, is Jackson nie prekerig nie. Maar dit is dalk ’n be­roepsgevaar van dekades tussen dominees en allerlei vromes beweeg, dat ’n preek nooit ver is as ’n mens hom ’n ­bietjie laat praat nie. “As Jesus vir sy dissipels verduidelik oor die koninkryk van God en twee van hulle kom by Hom en sê, kan ons aan die regterhand en linkerhand sit as jy die koninkryk gaan herstel, dan sê hy: by die nasies werk dit so dat die nasies baas speel oor hulle mense, maar by die koninkryk van God werk dit nie so nie. By die koninkryk van God, dien ons mekaar. En dis daai ding wat die NG Kerk ontdek het.”

Toe Jackson sy eie Christen-geloof wou verstaan het hy die boek Markus gaan lees (“daar het vir my ’n prentjie oopgegaan van twee soorte godsdiens, dié van die Fariseërs en die van Jesus … en dit het wye implikasies”). Wanneer hy joernalistiek aan iemand verduidelik klink dit so: “Ek het geleer (’n joernalis) moet luister.”

Dit is op hierdie punt dus verrassend – aanvanklik verregaande – om jou te verbeel jy kan iets van Hunter S Thompson in Neels Jackson se trant hoor. Wyle Thompson het persoonlike belewenis voorop gestel in wat weldra Gonzo-joernalistiek gedoop is. Hy’t geheul tussen Amerika se randfigure én magshonge­res. Bikers én politieke kandidate. En hy was die tipe karakter wat die veelkantige tydsgees van die hippie-era kon raakvat. Só skryf hy in 1971 in Fear and loathing in Las Vegas: “So now, less than five years later, you can go up on a steep hill in Las Vegas and look West, and with the right kind of eyes you can almost see the high-water mark – that place where the wave finally broke and rolled back.”

Terug by Neels, voor sy komperskerm in voorstedelike Pretoria. ’n Rustige man met langtermyn stokperdjies en ’n diep erns oor die lewe. Dis kwalik ’n Thompson-eske persona wat ’n mens by Jackson aantref. Maar iets van Thompson se sogenaamde “wave speech” in die aanhaling hierbo eggo in Jackson se boek. Jackson het die bran­der van wit mans se mag in die NG Kerk sien bou, breek en terugrol. Hierdie boek bevat sy “wave speech”. In hom het die leser ’n immer-matige Thompson wat sy beat verbete gedek het en sy storie vertel.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “NG Kerk: ‘Kleiner, verder van mag … gesonder’

  1. robert L barrie says:

    NG Kerk het groot probleem met oorhoofse strategiese doelwitte en ;n duidelike strategie en pad om te loop. Baie dinge word gepraat en geen konklusie nie…balle hang in die lug. Dit is waar leierskap inkom. As gevole hiervaan gebruik al wat leef en beef die geleentheid om die Babel verwarring lewendig te hou maar gelukkig besef baie dit ev verlaat die kerk

Comments are closed.