Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Digitaliteit het ons bediening oorgeneem: Ongeveer 61% van gemeentes meen dat hulle elektroniese bydraes vergroot het, 71% van gemeentes se kommunikasie word nou slegs elektronies versprei, en ongeveer 58% dominees meen dat kontak met lidmate nou grotendeels foonlangs of digitaal plaasvind, berig dr Mias van Jaarsveld.

Leraar hoor stille getuienis van kussinkies op kerkbanke

Hoewel die NG Kerk weerloos is, is sy ook veerkragtig en aanpasbaar, skryf Mias van Jaarsveld.

Vir omtrent agttien maande moes ek voor ’n kamera in ’n leë kerkgebou preek. Dit was vreemd om met die kerkbanke te praat – hiérvoor is ek nie opgelei nie. Een Sondag, terwyl ons klankman die klank en kamera opstel, begin ek die gesigte van pligsgetroue erediensbywoners in my verbeelding raaksien. Ek het gestap na die plekke waar hulle gewoonlik sit, en sien toe hulle kleurvolle, vierkantige kussinkies raak. Kerkkussinkies. Kussinkies met die doel om die erediens meer draaglik te maak. Sommige kussinkies het ’n mooi geborduurde sloop. Ander is gehekel, het tossels of valletjies. Almal is platgesit en vuil gevat na jare se kerk-toe-gaan. Jy vind súlke kussinkies in omtrent elke kerkgebou van ons land. Dit is daar gesit deur lidmate, en almal weet dit beteken: “Dis my sitplek dié.” Ek onthou ’n insident of twee waar ’n lidmaat ontsteld was toe iemand op hulle plek gesit het of hulle kussinkie geskuif het. Ek wens ek is op kweekskool gewaarsku oor die verwikkelde frustrasie van die kussinkies in die kerk.

Lees ook | Dominee gesoek: Superheld of brose verteenwoordiger van Christus?

Om vir leë kerkbanke te preek was moeilik, maar gelukkig was die kussinkies daar. Die nie-amptelike plekhouers van lidmate wat gedoop is, gekatkiseer het, nagmaal gebruik het, Bybelstudies bygewoon het, pannekoek by die basaar gebak het, en by wie ek huisbesoek gedoen het. (Ek wonder of mense ook ’n kussinkie by die huis het waarop hulle gesit het toe hulle ons aanlyn eredienste gevolg het?!) Toe ek vroeër vanjaar deur ons kerkgebou loop en weer na die kussinkies kyk besef ek: Die meeste van hierdie kussinkies se eienaars was twee jaar laas in die kerk. Party van die eienaars het getrek. Ander is oorlede.

Ek dink terug aan een Sondag wat ek met ’n tannie oor haar kerkkussinkie gesels het. Sy sit al jare lank op dieselfde plek onder die galery aan die linkerkant van die orrel. Somtyds het sy haar Kerkbybel – die Bybel wat slegs op ’n Sondag tydens die erediens gelees word – ook hier gelos. “Doemnie,” het sy gesê, “ek sit al jare lank hier. Die klank is beter en die orrel nie so oordonderend nie. Doemnie weet mos, ek is ’n bietjie doef.” Díe tannie het nie die tweede vlaag van Covid-19 oorleef nie. Sy en nog 17 ander lidmate is in 2020 oorlede en begrawe vanuit die kerkgebou waar hulle kussinkies nog steeds is. Die kussinkies wat eens ’n frustrasie en later vertroostend was, het verander in sagte grafte van mense vir wie ons nooit weer gaan sien nie. Net soos die leë spasies op die basaar se koektafel, is die kussinkies verteenwoordigend van die vreemde verlies van mense van wie ons nie ordentlik afskeid kon neem nie. Ek besef toe net weer: Covid-19 het ons gemeente – en ons leraars – vir altyd verander.

Lees ook: Dominees verkies veelrassige gemeentes – hoe lyk dit prakties?

Tydens die predikantepaneel van 2022 is dominees uitgevra oor die impak van Covid-19 op hulle en hulle gemeente:

  • Onder andere het 74% van predikante gesê dat daar ’n toenemende behoefte is aan pastorale versorging in hulle gemeente.
  • Sowat 64% meen dat die pandemie weer die noodsaak van ’n profetiese stem beklemtoon het. Amper 65% van gemeentes se lidmate dra steeds getrou by en neem graag deel aan die gemeente se diensaksies; wat goed is …
  • Want 78% van predikante meen dat daar nou ’n groter fokus op barmhartigheid in die gemeente en in die gemeenskap is.
  • Hoewel daar ’n afname in in-persoon erediensbywoning was, het 70% van gemeentes opgemerk dat daar ’n sterk toename is in hulle aanlyn erediensbywoning in 2022 is.

Digitaliteit het ons bediening oorgeneem: Ongeveer 61% van gemeentes meen dat hulle elektroniese bydraes vergroot het, 71% van gemeentes se kommunikasie word nou slegs elektronies versprei, en ongeveer 58% dominees meen dat kontak met lidmate nou grotendeels foonlangs of digitaal plaasvind.

Lees ook: Wanneer ’n dominee oor toilette begin droom

Dus het Covid-19 nie net ons gemeentes fisies verander nie (groot verliese, groot uitdagings, groot aanpassings, groot nood in die gemeenskap), maar ons bedienings ook (digitale eredienste, digitale bydraes, digitale kommunikasie, digitale pastoraat). Die pandemie het gemeentes gelyktydig tot stilstand geroep en vorentoe geneem, en hoewel sekere bedienings gesneuwel het, het die pandemie ook die weg gebaan vir talle nuwe bedienings.Die pandemie het gewys dat hoewel die NG Kerk weerloos is, sy ook veerkragtig en aanpasbaar is, en dat die NG Kerk se rol in gemeenskappe onberekenbaar is (of kan wees).

Stelselmatig het ons lidmate weer eredienste begin bywoon. Ons het nog steeds aanlyn eredienste, maar die ou gesigte – en ’n paar nuwes – sit weer in ons kerkbanke. Party kussinkies het nuwe eienaars gekry, ander dien steeds as “plekhouers” van lidmate wat lanklaas die erediens bygewoon het. Sommige kerkkussinkies bly sagte grafte van ons verlies, en al weet ons nog nie wat om met hulle te doen nie help dit my om te onthou dat ons nie eintlik weer terug na “normaal” – wat ookal dit beteken – kan keer nie. Terselfdertyd maak dit ’n vraag in my wakker: Aan wie “behoort” die kerk eintlik, en vir wie hou ons plek?


  • Dr Mias van Jaarsveld is ‘n tentmakerleraar by NG Gemeente Heuwelsig in Bloemfontein.
  • Hierdie stuk is geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap) in samewerking met Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top