Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In die Predikantepaneel-vraelys van 2022 het 76,36% van die predikante aangedui dat hulle ingeweef is in netwerke en ekumeniese werk in hulle plaaslike gemeenskappe, maar slegs 56,47% van daardie groep werk saam met ander organisasies. Sowat 87% van respondente dui wel aan dat hulle per geleentheid saamwerk met spesifieke gemeenskapsprojekte, berig Wynand Breytenbach in die artikel hieronder.

Wanneer ’n dominee oor toilette begin droom

Jakob het gedroom van engele. Josef het gedroom oor koring en sterre. Wynand Breytenbach vertel van die keer toe hy van toilette gedroom het.

In samewerking met ’n groot ekumeniese span, werk ’n paar NG gemeentes van Durbanville saam met ’n verskeidenheid organisasies om op ’n dor stuk grond in Fisantekraal ’n vaardigheidskool te beplan. Die beraamde fondse benodig is ongeveer R144 miljoen, in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwys-departement (WKOD), om binne ’n jaar die skool staan te maak met die eerste studente wat in 2024 verwag word.

Een middag ontmoet ek vir Mario (skuilnaam) wat op die strate van Durbanville woon. Hy nooi my toe na sy slaapplek vir die aand en sê ek moet hom by die begraafplaas kry. Toe ek trapsuutjies daar aankom roep ek vir Mario om te hoor of hy regtig daar is. Hy laat weet my toe van agter ’n grafdeur af dat hy wel daar is. “Dit is waar ek slaap,” sê Mario met ’n hees stem. Na ’n lang gesprek oor hoekom hy verkies om in die begraafplaas te woon, vra ek hom hoekom hy nie terug gaan skool toe nie. Hy’s dan net 20 jaar oud en kan nog sy lewe omdraai. Hy vertel my toe dat die skole nie vir hom is nie … Hy wil met sy hande iets doen, sê hy.

Die grond lê nog braak, maar ‘n groepie mense uit die Durbanville-omgewing het in samewerking met verskeie rolspelers saam begin droom oor die Loekie van Wyk Tegniese Hoërskool in Fisantekraal. Skermgreep: Nico Welgemoed

Tydens die onlangse streeksbesoeke deur die moderatuur wys hulle vir die predikante ’n video van die vaardigheidskool in Struisbaai-Noord waar die predikant en NG gemeente betrokke was. My mond hang oop terwyl ek luister hoe die kerk in samewerking met die breër gemeenskap so ’n groot droom gerealiseer het. Hulle wys grepe van draaibanke en toilette waar studente geleer word om dinge te bou of installeer. Jongmense word geleer om met hulle hande te werk.

Lees ook: #slypskool2022: ‘Help ons om mensestories van data te maak,’ hoor deelnemers

Die volgende oggend word ek wakker met ’n vae herinnering van my droom van die vorige aand. Toilette. Ek het die heel aand gedroom oor toilette. Dit is al wat ek onthou. Dit het vir my gevoel asof ek die hele aand herhalend gedroom het oor die skool se toilette waar hulle die studente leer hoe om loodgieters te word.

In die Predikantepaneel-vraelys van 2022 het 76,36% van die predikante aangedui dat hulle ingeweef is in netwerke en ekumeniese werk in hulle plaaslike gemeenskappe, maar slegs 56,47% van daardie groep werk saam met ander organisasies. Sowat 87% van respondente dui wel aan dat hulle per geleentheid saamwerk met spesifieke gemeenskapsprojekte. Dit is presies wat hier nodig was, besef ek. Sonder die breër betrokkenheid van die gemeenskap sou so ’n enorme droom nie gestalte kry nie.

Lees ook: Hiérmee sukkel jong predikante die meeste

Die oggend na my toiletboudromery besluit ek om in diep naïwiteit soveel mense moontlik in die gemeenskap te e-pos om te vra of ons nie so ’n skool kan begin nie. In ’n nederige terugdaal uit my droomwêreld, hoor ek toe van wonderlike mense wat reeds begin het met die moeisame taak. ’n Groepie mense uit die Durbanville-omgewing het in samewerking met verskeie rolspelers saam begin droom oor die Loekie van Wyk Tegniese Hoërskool in Fisantekraal.

Video: Nico Welgemoed

Die hoop is dat die skool om en by 1 000 jongmense sal kan inruim in ’n “drie-stroom-skool”, waar daar ’n gespesialiseerde kurrikulum aangebied word wat opleiding doen volgens die omgewing se behoeftes. Fisantekraal is geleë naby Durbanville se industriële gebied, tussen pragtige plase en die nuwe Cape Winelands-lughawe word beplan vir net om die draai. Voor die skool tot stand kom, sal daar ’n behoeftebepaling gedoen word om te verseker dat die opleiding by die skool belyn is met wat die behoeftes is vir werkgewers in die omgewing.

Terug by Mario.

Later daardie week betrap ek Mario in my woonstel met my skootrekenaar in sy hand. Ek sê toe vir hom ek gaan nou die polisie moet bel want hy het by my ingebreek. Hy verstaan toe en word later toegesluit en gevonnis. ’n Paar dae in sy tronkstraf in bel hy my uit die tronk en vra of ek vir hom kan slaptjips bring, hy’s honger vir iets lekkers, sê hy. In daardie gesprek by die tronk se besoekhoek vra Mario my of daar nie ’n skool is wat hom kan leer om met sy hande te werk nie.

Toe was daar nie so iets nie, maar nou kan ons saam droom oor ’n plek waarheen grafslapers soos Mario kan gaan om geleer te word om met hulle hande te werk.


  • Ds Wynand Marc Breytenbach is predikant by Durbanville Gemeente. Sy liefde en passie is om ’n spasie te skep vir jongmense om hulleself te wees en uit te leef.
  • Om betrokke te raak by hierdie projek, kontak loekievanwykschool@gmail.com 
  • Hierdie storie en die projek is onderhewig aan ’n verskeidenheid veranderlikes.
  • Breytenbach het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top