’n Opname wat in 2019 onder NG predikante jonger as 40 jaar gedoen is, toon dat leierskap die primêre bedieningsaspek is waarvoor leraars nie opgelei voel nie, berig Wynand Fourie.
Uit verdere navorsing oor leierskap wat in Oktober 2021 gedoen is as deel van die Predikantepaneel, blyk dit dat predikante – as deel van hulle leierskapsverantwoordelikhede – spesifiek behoefte het daaraan om toegerus te word om fyn te luister, helder te kan kommunikeer, asook om lidmate te kan mobiliseer vir dienswerk in gemeentes en in die gemeenskap.
Leierskap: Wat beleef predikante en gemeentelede?
Hoewel respondente te kenne gee dat hulle die visie van die gemeente aan lidmate kommunikeer, en dat hulle lidmate begelei om hulle gawes te gebruik, is dit nie noodwendig die belewenis van lidmate self nie, verduidelik dr Lourens Bosman, ’n lid van die Taakspan Navorsing en algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode. Data uit die NG Kerk se deelname aan ’n 2018 National Church Life Survey (NCLS) dui trouens aan dat gemeentelede al minder beleef dat predikante hulle aanmoedig om hulle gawes en vaardighede te gebruik (sien onderstaande tabel).

Hoewel predikante dus oorwegend positief blyk te wees oor hulle funksies binne bepaalde kernleierskapkapasiteite, smag hulle steeds daarna om beter toegerus te word om as bekwame leiers in gemeentes te kan funksioneer, volgens die peilingsdata.
’n Mens lei ook uit hierdie navorsing af dat gemeentelede hier leemtes wat predikante intern aanvoel, waarskynlik as meer beduidend ervaar as wat predikante noodwendig self besef of sal erken. Hierdie behoefte aan toerusting onder predikante hang ten nouste saam met die ontwikkeling van predikante se kommunikasievaardighede. Predikante wil “fyn” en “diep” en “geloofsonderskeidend” kan luister. Die ondersoeke wys uit dat predikante die behoefte het daaraan om lidmate te kan “motiveer”, “inspireer”, “opgewonde te maak”, “saam te neem/op reis te neem”, “entoesiasme verder te ontwikkel”, “om mense te motiveer om in te koop en betrokke te raak”, “te bemoedig”, om “duidelik, akkuraat, oortuigend, effektief en goed te kan kommunikeer”.
Wat gebeur in teologiese opleiding en vorming?
Daar is twee belangrike vrae aangaande teologiese opleiding en vorming wat spruit vanuit hierdie data. Eerstens, is die verskillende kuratoria in die NG Kerk bewus van predikante se onsekerheid oor hulle leierskapkapasiteite? Tweedens, op watter maniere word daar binne teologiese opleiding en vorming aandag gegee aan die ontwikkeling van hierdie kapasiteite by studente en predikante?
Dr Frederick Marais, voorsitter van die Algemene Kuratorium, bevestig dat die Algemene Kuratorium kennis geneem het van die data. Marais voer aan: “In ons raamwerk vir teologiese opleiding word leierskapkapasiteite baie duidelik uitgespel as missionale kapasiteite om gemeentes te begelei om van ’n instandhoudings- na ’n missionale ekklesiologie te skuif. Ons is bewus van die uitdaging. Ons het ook kennis geneem dat jong leraars dit beskou as die saak waarvoor hulle die minste bekwaamheid het.”
In praktyk is daar verskeie maniere waarop daar in teologiese opleiding en vorming gepoog word om leierskapkapasiteite te vestig by studente en by predikante. Tydens hulle studiejare word daar byvoorbeeld van studente verwag om hulleself in die seminariumprogram te oefen in missionale leierskap deur middel van die identifisering en implementering van ’n missionale projek. Tog is leierskapopleiding iets wat ten beste gebeur wanneer iemand self reeds in die bediening is, volgens Marais.
Lees ook: Stop mistieke spiritualiteit dan by stilte?
Hoewel daar op voorgraadse vlak aandag gegee word aan die vestiging van ’n teoretiese grondslag rakende aspekte soos spiritualiteits- en roepingsontwikkeling – “belangrike boustene vir missionale leierskap” – meen Marais dat missionale leierskapkapasiteite sterk ontwikkel word in die jong leraars se VBO-programme. Dit het ervaring vir Marais en sy kollegas geleer.
In Pas met die Lewende God is nog ’n voorbeeld van ’n program wat ontwikkel is met die oog op die vestiging van missionale leierskapkapasiteite. Volgens dr Pieter van der Walt, skriba van die Taakspan Navorsing en PSD vir Navorsing, is die program bedoel vir gemeentes wat “saam op reis wil gaan” met ander gemeentes. Hierdie program poog om binne spanverband die gemeente te help onderskei wat dit beteken om meer roepingsgetrou te leef in die gemeenskap. Onderskeiding en implementering is sterk in fokus in hierdie program.
Daar is ook bestaande nagraadse programme waarbinne predikante, wat al ’n tyd lank in die bediening staan, leierskapvaardighede kan ontwikkel.
Lees ook: Kennisbehoud: Stuur die NG Kerk af op ‘geheueverlies’?
Vir Marais het leierskap baie te make met jou selfbewussyn: Hoe jy dink oor jouself en oor jou innerlike kapasiteite om gemeentes deur grense en weerstande te begelei? Die navorsingsdata is volgens hom daarom “spot-on” as leraars aandui dat hulle wil leer om beter te luister – beide na wat in die gemeenskap gebeur, sowel as na wat met gemeentelede self gebeur: “Ons werk voortdurend daaraan om daardie kapasiteite te verbeter,” sê Marais.
Marais benadruk die belangrikheid daarvan dat predikante oor leierskapsvaardighede beskik wat innoverend, motiverend en met fyn onderskeiding kan werk. Predikante het wel ook ’n “institusionele leierskapfunksie” waardeur hulle by ’n kerkraad en bedieningspan voorstelle op “so ’n manier moet kan neersit dat daar institusionele besluite geneem kan word.”
“Veerkragtigheid” in ’n post-Covid-19-tyd is ’n uiters belangrike kapasiteit van leierskap, sê Marais. Hierdie veerkragtigheid spruit vanuit predikante se identiteit wat sterk gevestig is in Christus. Marais beskryf hierdie veerkragtigheid as “grit”, vasbyt, belangriker as talent, ’n helder verstaan van waarheen jy op pad is, die vermoë om “agile” te wees/verstellings en aanpassings te kan maak, asook oor hoe jy oor die toekoms dink.
Hoewel die ontwikkeling van kernleierskapkapasiteite indringend aandag geniet in teologiese opleiding en vorming, dui beide Marais en prof Cobus van Wyngaard, ondervoorsitter van die Taakspan Navorsing, aan dat die huidige strukturering van teologiese opleiding heroorweeg behoort te word – juis met die oog op die optimale ontwikkeling van missionale leierskapkapasiteite.
Die noue verband tussen die ontdekkings vanuit die navorsing aangaande leierskapbehoeftes onder predikante en dit wat reeds gedoen word in teologiese opleiding en vorming om hierdie kapasiteite te ontwikkel, is dus duidelik herkenbaar.
- Dr Wynand Fourie is voorsitter van die Namibiese kuratorium.
- Fourie het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.

