Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Daar is tans 2 781 gelegitimeerde predikante in die NG Kerk waarvan 1 519 emeritusstatus het en 1 262 in die bediening staan in gemeentes en ander kerklike poste. In die volgende vyf jaar gaan daar 329 predikante wat aftree-ouderdom bereik die bediening verlaat, berig Andrew Kok hieronder.

Kennisbehoud: Stuur die NG Kerk af op ‘geheueverlies’?

Wat doen die NG Kerk om leraars wat aftree se kennis te bewaar? Andrew Kok doen verslag.

In die tydperk 1980 tot 1983 lewer die Kweekskool aan die Universiteit Stellenbosch ’n groot groep gelegitimeerdes op – ’n  hele 345 teologiese studente word in hierdie jare tot die bediening toegelaat. Die klas van 1981 was met ’n volle 131 studente die grootste van die lot.

Hierdie leraars bereik nou almal aftree-ouderdom en dit gaan lei tot ’n groot verlies aan institusionele geheue. Die vraag is watter prosesse word in plek gestel om hierdie kennis te bewaar en oor te dra aan ’n geslag jong leraars? Of gaan die kerk hierdie geheue vir altyd verloor?

Maar hoe lyk die landskap van predikante in die NG Kerk?

 

 Sinodes WK OK NK VS Hoëveld Goudland Noordelike Oostelike KZN Nam TOTAAL
<30 16 7 4 10 3 9 12 8 3 1 73
31-59 221 55 30 89 67 66 114 86 27 22 777
60> 71 23 14 37 34 33 54 42 10 11 329

Daar is tans 2 781 gelegitimeerde predikante in die NG Kerk waarvan 1 519 emeritusstatus het en 1 262 in die bediening staan in gemeentes en ander kerklike poste. In die volgende vyf jaar gaan daar 329 predikante wat aftree-ouderdom bereik die bediening verlaat. Sien die inligtingskassie vir die situasie per sinode.

Wat kan die kerk doen om die kennis en ervaring wat dikwels net in die gedagtes van hierdie leraars lewe vas te vang en te bewaar?

Soos in die meeste organisasies vandag is dit belangrik dat transformasie na ’n lerende organisasie plaasvind. Lerende organisasies is vaardig in vyf hoofaktiwiteite:

1) sistematiese probleemoplossing

2) eksperimentering met nuwe benaderings

3) leer uit hulle eie ervaring en vorige geskiedenis

4) leer uit die ervarings en beste praktyke van ander

5) die oordrag van kennis vinnig en doeltreffend regdeur die organisasie.

Elkeen word vergesel deur ’n kenmerkende ingesteldheid, gereedskapstel en gedragspatroon. Baie organisasies beoefen hierdie aktiwiteite in ’n sekere mate. Maar min is konsekwent suksesvol omdat hulle grootliks staatmaak op toeval en geïsoleerde voorbeelde. Deur stelsels en prosesse te skep wat hierdie aktiwiteite ondersteun en dit in die weefsel van daaglikse bedrywighede te integreer, kan organisasies hulle organisatoriese leer meer effektief bestuur. Hierdie is ook waar vir die kerk.

’n Kultuur moet gekweek word waar klem geplaas word op informele kennisdeling en leer om ’n lerende organisasie te word. Kennisbehoud en informele leeraktiwiteite sal die volgende insluit:

  • Kennisskepping – Personeel word deur hulle hele loopbaansiklus gevorm deur kennisskepping. Dit geskied deur formele leer, informele leer en mentorskap. Dit begin met studente tydens formele universiteitstudies, dan as jong leraar, en daarna deur verdere opleiding in die Verdere Bedieningopleiding (VBO) program.
  • Kennisbehoud – Uitdagings word aangepak deur in agneming van die lewensiklus van werknemers. Dit strek van induksie, mentorskap en afrigting, verdere bedieningsopleiding, opvolgbeplanning tot by “Leer-van-verlaters.”
  • Leeraktiwiteite – Informele leer om stilswyende in eksplisiete kennis om te skakel byvoorbeeld deel van tegniese kennis deur kundiges met teikengehore. Dit sal gekoppel word aan die kennisgapings wat in die vaardigheidsontwikkelingsplan bepaal word.
  • Innovasie – Fokus op die gebruik van intellektuele kapitaal om nuwe idees en kreatiewe oplossings vir uitdagings van die Kerk te ontwikkel .

 

Wat doen die NG Kerk om diegene wat aftree se kennis te bewaar?

Dr Cobus van Wyngaard, lid van die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS) merk tereg op dat ‘n sleutel bekommernis die ouderdomsverspreiding onder van die sleutel-taakspanne is en dat hulle kennis nie bewaar is nie. Een van die risiko’s op die oomblik is bv. dat daar streeksmoderature is waar daar oornag ‘n hele moderatuur vervang sal moet word.

Dr Frederick Marais, PSD vir Teologiese Opleiding by die Sinode van Wes-Kaapland sê dat hoewel daar baie formele programme in plek is vir opleiding, daar min gedoen word om kennisoordrag te doen van dit wat geleer word by ouer leraars. Tydens induksie-programme van jong leraars in gemeentes sal daar meer aandag aan hierdie aspek gegee moet word.

Intussen het die NG Kerk Argief op Stellenbosch met ’n nuwe projek begin waar predikante wat hulle laaste keer ’n sinodesitting bywoon betrek word. Hierdie program word “Learn-from-Leavers” genoem.

Die Argief is geïnteresseerd in daardie stories wat nie in formele dokumente opgeteken is nie, maar wat belangrik is vir die geskiedskrywing van die verhaal van gemeentes en hulle predikante. Ons gaan met behulp van onderhoude by predikante hoor wat hulle sou beskryf as die “Lesse geleer” tydens hulle loopbaan en dan watter dinge hulle gedoen het wat vandag nog as “Beste Praktyk” gesien kan word. Die projek sal nie net verhale van predikante vir die toekoms bewaar nie, maar ook deure oopmaak vir nuwe navorsing oor dit wat geleer is en wat goed gewerk het in die verlede, maar saam die toekoms ingeneem kan word.


  • Dr Andrew Kok is die bestuurder van die NG Kerk Argief op Stellenbosch. Om meer uit te vind oor hierdie onderwerp, kontak hom by argief@kaapkerk.co.za.
  • Kok het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top