Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Navorsing wys dat die erediens die NG Kerk se sterkste kernkwaliteit is, en dat diens die NG Kerk se swakste kernkwaliteit blyk te wees, berig Suzanne van der Merwe in die berig hieronder.

Stop mistieke spiritualiteit dan by stilte?

Is die oënskynlike herontdekking van eeue-oue geloofsgewoontes in die NG Kerk besig om beide erediens en diens in die gemeenskap te omvorm? vra Suzanne van der Merwe.

Die daaglikse beoefening van geloofsgewoontes is vir die meerderheid predikante van die NG Kerk van belang. Só wys die data van die predikantepaneel van 2021. Wanneer predikante verder hieroor uitgevra word, blyk dit dat stilte en afsondering, gebed, Lectio Divina, meditasie, joernaal hou en geestelike begeleiding van die geloofsgewoontes is wat weekliks beoefen word.

Hierdie data suggereer ’n groeiende omarming van veral meditatiewe geloofsgewoontes onder predikante in die NG Kerk. “Mistieke spiritualiteit” val vir heelwat mense vreemd op die oor, alhoewel daar eintlik ’n ryke geskiedenis bestaan van gelowiges wat God juis ontmoet in stilte, afsondering, meditasie, labarinte, pelgrimstogte, simbole en rituele. Ds Adri la Grange verduidelik in haar MTh-verhandeling getiteld, “’n Prakties-Teologiese perspektief op erediensbelewing, spiritualiteit, en die afname in lidmaattalle”, dat die grondslag van Christelike mistiek die voortdurende intieme teenwoordigheid van God in die alledaagse lewe van Christen-gelowiges is. (Lees hier meer HIER). 

Lees ook: Wat kan ons uit die toenemende gewildheid van pelgrimstogte in Suid-Afrika leer?

Prof Cas Wepener, verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch, beaam dat studente met ’n mistieke spiritualiteit in die afgelope vyftien jaar gegroei het. ’n Sigbare uitvloeisel hiervan is die wyse waarop onder andere kapelperiodes by die teologiese fakulteite ingerig word. Dit is natuurlik nie maklik om hierdie skuif te verklaar nie. Wepener verduidelik verder dat “sedert die negentigs daar ’n openheid in die NG Kerk is rondom simboliek en ritualiteit, wat gaandeweg deursyfer na die praktyk en vorming van lidmate. Tesame met die algemene tydsgees waarin bewustheid (mindfulness) en ’n meer bewuste lewe ook groter klem kry.”

Hierdie skuiwe word ook sigbaar in die viering van eredienste in die NG Kerk. Dr Wessel Wessels, ’n post-doktorale student en deeltydse lektor aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat, beskryf sy belewenis soos volg: “Daar is hoofsaaklik twee bewegings te bespeur in die viering van eredienste in die NG Kerk. Eerstens ’n beweging wat die erediens stroop tot net ’n preek. Die res van die liturgiese ruimte word gevul met of ’n band of die persoonlikheid van die predikant. Dan is daar ook ’n counter beweging wat klem lê op liturgiese sensitiwiteit en liturgiese herlewing veral binne die ekumeniese liturgiese tradisie.”

Naas hierdie twee bewegings, voeg Wepener ’n derde moontlikheid by, by name bricolage eredienste, dalk beter bekend as blended worship. Wepener verduidelik dat “bricolage eredienste uit ’n ryke verskeidenheid elemente bestaan wat put uit uiteenlopende tradisies. Die droom is om eredienste te ontwikkel waarin ’n ryke verskeidenheid mense met uiteenlopende spiritualiteite, almal (dele van) die erediens sinvol kan toe-eien deurdat elemente ge-blend is tot een nuwe geheel.”

Lees ook | Kennisbehoud: Stuur die NG Kerk af op ‘geheueverlies’?

Gegewe die bogenoemde sigbare skuiwe, sou ’n mens kon vra: Stop spiritualiteit en die beoefening van geloofsgewoontes dan by predikante en die viering van eredienste?

Twee vrae vanuit die National Church Life Survey (NCLS) van 2014 is hier van belang. Die NCLS-opname fokus juis daarop om die stem van lidmate wat eredienste bywoon te laat hoor. Die eerste vraag van belang toon aan dat 84% van NG lidmate altyd of meestal geïnspireer voel nadat hulle ’n erediens bygewoon het.

Hierdie data is geensins ’n verrassing nie, luidens La Grange se onomwonde verklaring in haar verhandeling: “die erediens neem ’n onmisbare plek in die Gereformeerde tradisie in.” Vervolgens toon dieselfde erediensgangervraelys aan dat slegs 63% van NG lidmate altyd of meestal geïnspireer voel om tot aksie oor te gaan. Weereens korreleer hierdie data ook met La Grange se empiriese navorsing wat daarop dui dat die minderheid lidmate hulleself met Corinne Ware se “hand”-spiritualiteit assosieer.

Die NG Kerk se vitaliteitsraamwerk van 2014 volgens NCLS vertoon as volg:

 

Hierdie infografika wys duidelik dat die erediens die NG Kerk se sterkste kernkwaliteit is, en dat diens die NG Kerk se swakste kernkwaliteit blyk te wees.

Ds Nioma Venter, PSD Diaconia, verduidelik passievol; “diens/diakonaat is om met God se oë te kyk na die ganse skepping en daarop te reageer.” Dr Willie van der Merwe, tans besig met ’n navorsingsprojek oor diakonaat, beaam dat diakonaat, veral in die ekumeniese tradisie, verwys na die “kerk se praktiese betrokkenheid by die totale maatskaplike nood van die wêreld.” Venter voer aan dat die veelkantigheid van diakonaat juis te vinde is in die wese van God Drie-enig, Vader, Seun en Gees.

Na aanleiding van die data noop dit ’n mens om ook verder te vra: Stop mistieke spiritualiteit dan by stilte?

Dr Tom Smith, predikant van Fontainebleau Gemeenskapskerk, beskryf agt geloofsgewoontes in sy Reëls vir die Lewe-model. Hierdie agt geloofsgewoontes wil gemeentes uitnooi om saam van stilte na diens te beweeg. 

Die Reël van die Lewe-model se agt gewoontes

Die agt geloofsgewoontes, in kort, is:

  1. ’n Spieël/triquetra; waarin jy jouself afvra wie God is en wie ek is en die antwoorde op hierdie twee vrae dien dan as fondament vir al die ander geloofsgewoontes.
  2. ’n Muurprop; wat sinspeel daarop om ingeprop te wees en verwys na die klassieke spirituele geloofsgewoontes soos stiltetyd wat tipies Bybel lees en gebed insluit.
  3. ’n Driepootpot/brood; herinner aan die belang van gemeenskap en die reisgenote wat deelvorm van ’n mens se geloofspad.
  4. ’n Legkaartstuk; verwys na geloofsgewoontes waar ek my eie unieke gawes en talente kan ontdek, om sodoende te verstaan hoe ek op my unieke manier ’n verskil kan maak.
  5. ’n Boom; verwys na die onderliggende vraag waar jy geplant is en hoe jy teenwoordig kan wees en deelneem daar, ook met betrekking tot die ekologie.
  6. ’n Horlosie; dui daarop dat geloof alles te make het met roeping, wat beteken dat mense se eie reis saam met God nie geskei kan word van hulle agt-tot-vyf werk nie.
  7. ’n Sirkeltjie/brug; vra pertinent wie sluit ek in en waar sluit ek ander uit?
  8. ’n Klein mediese tassie; het te make met wonde en verwondheid wat deel is van elkeen, maar so ook die uitnodiging om te floreer en heel mense te wees.

 

Smith beklemtoon verder dat “die beoefening van geloofsgewoontes mense behoort te help om ruimtes te skep waar God toegelaat word om in ons te werk, en verandering teweeg te bring. So dit is nie die geloofsgewoontes wat mense verander nie. Die beoefening van geloofsgewoontes skep die ruimte vir die mens se hart en lyf en wese om met die Drie-eenheid gehersinkroniseer te word.” Dit is so dat die erediens in die NG Kerk tradisioneel as die plek van aanbidding beskou word. “Daar sing ons, bid ons, ontvang en oordink ons die Woord van God. Daar word ons herinner aan en versterk in ons identiteit en ons roeping wanneer ons die sakramente gebruik. Dit alles is aanbidding”, aldus Venter. Daarom beklemtoon Venter sonder skroom, “diakonaat ís aanbidding en daarom die ‘erediens van die lewe’”.

Ons eie, Suid-Afrikaanse, kerkvader, Andrew Murray, het juis met drie beginsels die lewe benader naamlik: gebed, roeping en diens. In elkeen van hierdie drie beginsels alleen lê ’n legio geloofsgewoontes opgesluit, wat gelowiges kan help om liefde teenoor God, ons medemens en natuurlik onsself te bewys.


  • Dr Suzanne van der Merwe is leraar van NG Kroonstad-Noord, en navorsingsgenoot aan die Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.
  • Van der Merwe het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Stop mistieke spiritualiteit dan by stilte?”

  1. Muller Oosthuizen

    Hierby sou mens graag evangelisering en herevangelisering (“again and again” – Karl Barth) deur die plaaslike gemeente as basis van groeiende geloofsgewoontes wou sien – om alles te onderhou wat Jesus Sy dissipels geleer het.

Comments are closed.

Scroll to Top