As jy die woorde “Camino in Suid-Afrika” intik op Google, kom vele opsies na vore waar jy kan gaan stap. Die idee het oorgespoel na Suid-Afrika nadat Suid-Afrikaners die bekende pelgrimstog in Spanje, die Camino de Santiago aangedurf het. Is die woord “camino” ’n bietjie van ’n gonswoord wat aan verskeie staproetes gekoppel word? Karlien Becker stel ondersoek in.
Camino-opsies in Suid-Afrika
In Suid-Afrika is daar nou verskeie camino-opsies wat elk op eie wyse en in eie woorde woeker vir ’n plek in die mark. Daar is die Namaqua Camino (“10 days – 260 km”), die Tankwa Camino (“… a modern day ‘Great Trek’”) met ook die Boesmanland- en Heiveld-roetes, die Baviaans Camino (“by foot or on horseback”), die Hermanus Camino (“Walk the way”), die Compassberg Camino (“Walk 100 km in 5 days”) in Nieu-Bethesda en die Sungazer Pelgrimsroete (“A True South African Camino Experience”) in die Oos-Vrystaat.
Daar is ook die bekende Pelgrimstog van Hoop (Overberg en Tuinroete) wat aan die kykNET-gehoor bekend sal wees via Erns Grundling se gewilde Elders-reekse.
Lees ook: Caminostap vir droogtehulp: Pelgrimpsalms, donderweer en sprinkane
Bewusmaking en fondsinsameling is ook verbind met Camino’s soos die Boesmanland Camino aan die Red-’n-plaas-veldtog saam met Amore Bekker en die Stargazing Camino tussen Merweville en Sutherland wat fokus op die invloed van die droogte in hierdie boerderygemeenskappe.
In 2014 het die Pelgrimstog van Hoop ontwikkel wat vanaf Robertson (en binnekort ook vanaf Wellington) of Stellenbosch gestap kan word. Jy kan wel eintlik enige plek begin en die eindpunt is Kaap Agulhas.
In 2021 is die Pelgrimstog van Hoop uitgebrei na die Tuinroete en kan daar gestap word vanaf Uniondale na Mosselbaai. Daar is wegbeweeg van die woord “Camino” na “Pelgrimstog” om dit ’n plaaslike betekenis te gee en die Pelgrimstog van Hoop is verbind met ekumeniese vennote en kerke wat op die roete besoek word.
Lees ook: ‘Ware Camino-ervaring’ op ’n Pinksterstap
Hoekom stap mense ’n pelgrimstog?
Die reisreeks Elders, met Grundling as aanbieder, het hierdie roetes aan ’n groter gehoor bekendgestel en na die blootstelling het navrae, die aantal pelgrims asook die aantal volgelinge op hulle Facebookblad gegroei. Maar hoekom stap mense ’n pelgrimstog?
In ’n gesprek met ’n pelgrim wat die Camino de Santiago in 2022 gaan stap het, blyk dit dat daar baie redes is. Sommige doen dit vir die avontuur omdat dit fisiek uitdagend is en stappers die natuur kan geniet. Sommige doen dit met die oorgang van ’n “seisoen”, om van ’n lewenseisoen afskeid te neem of om dit te vier, soos na ’n studietyd of na aftrede en om introspeksie te doen oor die pad verder.
Sommige soek nuwe sin in die lewe en ander doen dit na ’n egskeiding of uitbranding op soek na groter heelheid. Ander beskou dit as ’n geestelike dissipline en ’n geestelike verdieping met ’n openheid om God op die weg te ontmoet, ook deur hulle medepelgrims.
Tuisbly: Afname met Covid
Hoe lyk die prentjie in die buiteland? In Spanje het die aantal stappers toegeneem van 183 366 pelgrims in 2011 tot 347 578 in 2019, volgens stapstatistiek wat ek kon opspoor. In 2020, as gevolg van Covid, val die getal drasties. Maar dit is weer aan ’t toeneem.
In die eerste sewe maande van 2019 het 192 016 pelgrims die Camino de Santiago voltooi en in die eerste sewe maande van 2022 het reeds 218 963 pelgrims dit voltooi ten spyte van Covid-regulasies. Dit mag dalk wees omdat daar na die Covid-pandemie ’n behoefte is aan buitelugervarings.
Godsdienstige redes blyk steeds ’n rede te wees om die Camino de Santiago te stap. In 2021 het 36% pelgrims aangedui dat dit oor godsdienstige redes gestap is, 43% oor godsdienstige en ander redes en 20% het dit glad nie gekoppel aan ’n godsdienstige rede nie.
Lees ook: Nuwe pelgrimservaring: Natuurskoon, stap en sobremesa
In Suid-Afrika, met die Tuinroete-toevoeging tot die Pelgrimstog van Hoop, het 89 pelgrims in 2021 gestap en reeds 92 stappers in 2022 met nog tientalle besprekings glo in die pyplyn. Die belangstelling neem dus toe en dit blyk mense het ’n behoefte daaraan om op sowel ’n fisieke asook ’n innerlike reis te gaan.
Die Pelgrimstog van Hoop en ander weergawes skep klaarblyklik ’n ruimte om ’n eeue-oue geestelike dissipline in ons eie land na te volg wat vir ’n groeiende hoeveelheid mense betekenis bring.
NUTTIGE SKAKELS
Besoek gerus https://pelgrimstogvanhoop.com/ vir meer inligting oor die Pelgrimstog van Hoop en https://www.facebook.com/StargazingCamino/ vir die volgende Stargazing Camino.
Ander webtuistes:
http://www.baviaanscamino.com/
https://compassbergcamino.co.za/
https://www.sungazerpilgrimage.co.za/
- Ds Karlien Becker is leraar by NG Kerk Nuwerus.
- Bron: Statistiek verkry van Pilgrim Office Statistics, https://oficinadelperegrino.com/en/statistics/
- Becker het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.

