VIDEO: Pelgrimstog tel spoed op en Kerkbode kry kameerol op kassie

Dit het drupsgewys begin, maar die belangstelling in ’n plaaslike pelgrimstog het binne enkele jare ’n “stroom” van stappers gestuur na die eindpunt: die vuurtoring by Kaap Agulhas aan die suidpunt van Afrika.

Só vertel dr Frederick Marais onlangs by die amptelike bekendstelling van die Pelgrimstog van Hoop, wat uit kerkgeledere gegroei het en deur die Boland en Overberg strek.

Sowat 45 belangstellendes en voornemende vennote van die staproete het die geleentheid op Pniël, naby Stellenbosch, gebruik om verhoudings te versterk en meer uit te vind oor die “etos” van die pelgrimstog. “Dis nie ’n extreme sport nie, dis ’n rustige stap,” het Marais ter inleiding gesê.

Hy het verduidelik dat die meeste van diegene wat die projek dryf op hulle beurt begeesterd was deur die aflê van die Camino de Santiago in Spanje en iets van daardie eeue-oue geestelike trekpad wou tuisbring na Afrika. “Hoekom moet jy nou Spanje toe om so ’n ervaring te hê? Dit is mooier hier, die wyn is goedkoper, die mense is vriendelik,” aldus Marais.

LEES OOK: Plaaslike pelgrimstog is gulde geleentheid vir binnewerk, meen stap-fundi

Intussen het Marais en kie ’n tamaai bewusmakingshupstoot danksy die kykNET-reeks Elders – Pelgrimstog van hoop ontvang. Die reeks dokumenteer hoe die joernalis en skrywer Erns Grundling die roete van sowat 350 km stap en homself verdiep in stories langs die pad. Grundling, ’n oud-Weg-joernalis met ’n neus vir ’n storie en snelgroeiende gemak in die visuele medium, het uiteenlopende gaste genooi om verskillende skofte saam met hom af te lê – ’n nuutjie wat telkens ’n verdere storielaag tot die episodes gevoeg het.

Erns Grundling (regs) groet sy gas en vriend, Le Roux Schoeman, tydens een van die episodes van Elders – Pelgrimstog van hoop.

Ook Kerkbode se vergeelde nuusblaaie het in ’n verrassende wending ’n kameerol losgeslaan in die episode wat op 2 Desember om 20:00 op kykNET draai. Grundling het dié slag die Kerkbode-redakteur, Le Roux Schoeman, saamgenooi vir ’n stapdag met die versoek om te kom vertel hoe daardie 171 jaar oue koerant meer as ’n eeu gelede oor die Groot Griep berig het. Die doel? Om kykers ’n ander perspektief op die huidige pandemie te bied.

Dr Frederick Marais aan die woord by die bekendstelling van die Pelgrimstog van Hoop te Pniël op 23 November 2020. Foto: Le Roux Schoeman

Einste Grundling was met die bekendstelling van die Pelgrimstog van hoop ook op sy pos langs Marais om toekomstige samewerking tussen hom en die pelgrimspan te verduidelik. Grundling, wat ’n boek oor die Camino asook ’n tweede pelgrimstogboek (Sushi en Shosholoza) geskryf het, kon nie net verbeeldings prikkel oor die kommersiële potensiaal vir so ’n plaaslike roete nie, maar dit ook anker aan die basiese storiehonger wat in vele leef. “Om te oorleef, moet jy stories vertel,” het hy Umberto Eco aangehaal.

Grundling het die Kerkbode-redakteur saamgenooi vir ’n stapdag om te kom vertel hoe daardie koerant ’n eeu gelede oor die Groot Griep berig het. Hier blaai hulle deur die Kerkbode van 1918.

Marais, skriba van die kuratorium en bekende in NG Kerkkringe, dra vele hoede, maar raak toenemend bekend vir die bloedrooi breërandhoed wat hy dra wanneer hy sy stapstewels aantrek. Dis nou die amptelike hoed met die vuurtoringembleem wat plaaslike stappers laat uitstaan as pelgrims. “Hierdie ding groei organies,” het Marais aan die gehoor in die saal langs die Pniël Congregational Church vertel. “Soos julle ook vennote gaan word, sal julle sien (stappers) het ’n bepaalde soort ingesteldheid. Dit is mense wat op een of ander manier lus is om op ’n reis te gaan. En ons gee mekaar ruimte. Dis nie ’n cookie cutter-benadering nie.”


LESERSDEELNAME

Het jy ’n pelgrimstorie om met Kerkbode se lesers te deel? Vul dié kort vraelys in om die bal aan die rol te sit. – Red.

Word 'n vriend van Kerkbode