Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Erns Grundling en dr Frederick Marais (regs) op die pelgrimsroete buite Stellenbosch. Die roete is Marais se geesteskind en hy is een van ’n aantal leraars en ander bekendes wat as “stapgaste” ’n verskyning in die nuwe televisiereeks oor die Pelgrimstog van Hoop maak. Foto: Verskaf

Plaaslike pelgrimstog is gulde geleentheid vir binnewerk, meen stap-fundi


Kerkbode gesels met die skrywer en reisjoernalis Erns Grundling oor Die Pelgrimstog van Hoop.


  1. Aanhangers van jou skryfwerk en televisiereekse sal bly wees om te hoor dat jy en jou kameraspan bedrywig was tydens grendeltyd en dat jou nuwe projek veral vir Wes-Kapenaars hoogs haalbaar is. Gee asseblief vir ons die Wie? Wat? Waar? – en heel belangrik die Hoekom? – van Die Pelgrimstog van Hoop.

Die Pelgrimstog van Hoop is ’n pelgrimsroete soortgelyk aan die Camino in Spanje (maar nie ’n na-apery nie) wat op verskeie punte begin in die Wes-Kaap en eindig by die mees suidelike punt en vuurtoring by Kaap Agulhas. Die roete is uitgelê deur die teoloog Frederick Marais van Communitas (gesetel by die Kweekskool op Stellenbosch) nadat hy en ’n paar kollegas die eerste keer in Oktober 2014 gestap het van Robertson tot by Kaap Agulhas.

Die roete begin deesdae óf op Robertson óf op Stellenbosch (binnekort ook van Wellington en Kaappunt) en strek deur die Kaapse Wynlande en Overberg, langs die oudste kerke in Suid-Afrika en deur gemeenskappe soos Pniel, Genadendal, Baardskeerdersbos en Elim. Van die bekende dorpe langs die roete sluit in Franschhoek, Villiersdorp, Hermanus en Gansbaai. As jy van Stellenbosch af stap is die afstand sowat 320 km en die meeste pelgrims lê dit binne 16 dae af (soms ’n dag of drie langer as jy korter afstande stap).

Lees ook wat Ernst sê oor nuwe roetes op dié Pelgrimstog: Nuwe staproete is ‘slegs vir almal’ | Pelgrimstog van Hoop se nuwe ‘been’ van Mosselbaai tot Kaap Agulhas

Sedertdien het sowat 200 pelgrims met rooi hoede al die pelgrimsroete gestap en ons vermoed daar gaan nou groter belangstelling wees as die TV-reeks begin uitsaai. Die belangrike Hoekom? Die Pelgrimstog van Hoop is ’n geleentheid vir Suid-Afrikaners (en hopelik ook buitelanders) om in die woorde van Huston Smith “attentive travel” te ervaar en al stappende weer hoop te vind vir hulleself, ons land en ons vasteland en om Suid-Afrika se natuurskoon en erfenis opnuut te waardeer. Hierdie pelgrimsroete is ook ’n geleentheid vir diverse mense en gemeenskappe om nader aan mekaar te beweeg en ná te dink oor vryheid, ons gedeelde geskiedenis en hoe ons vorentoe die pad saam gaan stap.

  1. Ek weet jy is opgewonde oor hierdie spesifieke roete – jy is elders aangehaal waar jy dit as “lewenshoogtepunt” beskryf … Wat presies dink jy het die skeppers raakgevat met dié konsep en hoe slaag die dinge op praktiese en logistieke sy?

Ek dink die pelgrimsroete is uitstekend uitgelê. As stapper het ek ’n baie goeie balans ervaar wat die terrein, uitdagings en belonings langs die pad betref. (Soms moet jy ’n bietjie swoeg en sweet om ’n mooi uitsig te verdien …) Die natuurskoon is ook besonder divers. Die wingerde, berge, graanlande, fynbos en strande staan glad nie terug vir die Camino in Spanje nie. Trouens, ek vind dit selfs mooier hier.

Maar wat veral vir my uitstaan is die mense: die gasheer of gasvrou wat jou inwag in ’n dorpie of op ’n plaas en die stories, geskiedenis en menswees wat ’n mens teëkom onderweg na Kaap Agulhas. Om by Piet en Marie van As se lang kombuistafel by Springfield Estate te sit en te luister na Piet se kontreistories uit die Strandveld is ’n groot plesier en voorreg.

Die roete word steeds ontwikkel en daar is uitdagings soos roetemerkers wat nog moet opgerig word en meer akkommodasie-opsies om van die lang stapdae korter te maak, maar dit is wonderlik dat die Pelgrimstog van Hoop reeds ’n werkende en al hoe meer geoliede infrastruktuur het.

  1. Kerkbode het in 2016 oor dié plaaslike roete geskryf dit gaan ook oor ’n innerlike reis. Jy het nou met vele dominees en mystics en interessante mense te doen gekry langs die pad en des te meer ter wille van die verfilming van die hele staptog vir jou kykNET-reeks, hoe sou jy die geestelike sy van die ervaring beskryf?

Ek dink die geestelike of spirituele sy is onlosmaaklik deel van ’n pelgrimstog, en so ook op die Pelgrimstog van Hoop. Dit is natuurlik ’n persoonlike en selfs sintuiglike ervaring wat vir elke pelgrim anders is, maar ek dink die bestaande geestelike agtergrond van die roete en die feit dat dit oor ’n lang afstand en wisselende terrein strek skep ’n konteks vir wat die Jungiaanse analis Robert A Johnson “inner work” noem. Dit bly vir my die wonder van stap: hoe jy deur iets so eenvoudig soos stap ’n meditatiewe ruimte kan binnegaan en werklik in die oomblik leef.

  1. So Elders: Die Pelgrimstog van Hoop begin op 30 September om 20:00 op kykNET te draai: Wat was die moeilikste deel daarvan om ’n reisdokkie te midde van ’n pandemie te maak?

Ons het groot uitdagings gehad tydens preproduksie. Eerstens het ons bitter min tyd gehad daarvoor: minder as twee weke. Dit was ook tydens die Vlak-4-inperking in Meimaand en baie gastehuise en gasteplase langs die pad was maar net té bly vir ’n bietjie besigheid maar ook bekommerd oor al die reëls en regulasies.

Die grootste kopseer: Indien enige van ons spanlede (ons was vyf) Covid-19 sou opdoen of simptome toon binne die skiettydperk van 26 dae sou ons die produksie in sy geheel moes staak en self-isoleer. Dit sou waarskynlik ons hele projek gekelder het, so ons het streng protokol gevolg en die ondersteuningsvoertuig was vol maskers en handsaniteerders ensovoorts.

Die Pelgrimstog van Hoop is ’n roete soortgelyk aan die Camino in Spanje wat op verskeie punte begin in die Wes-Kaap. Erns Grundling vertel.
Elders: Pelgrimstog van Hoop begin op Woensdag 30 September om 20:00 op kykNET. Hier staan die aanbieder en hoofstapper Erns Grundling in ligter luim langs een van die programgaste Lynelle Kenned. Foto: Verskaf
  1. Gee vir ons agtergrond oor die reeks: Altesaam hoeveel onderhoude is gedoen en was daar tegniese uitdagings of Plan B’s wat in spel moes kom, wat kykers nie sal sien op die afgeronde produk op TV nie?

Oor dertien episodes kyk ’n mens na vyf en sestig onderhoude of gesprekke – en ten minste ’n vyfde daarvan met dominees of geestelike leiers. Aangesien niemand anders tydens die inperking die Pelgrimstog van Hoop gestap het nie, het ek ’n paar mense genooi om gaste op die reeks te wees, wat natuurlik Kerkbode se redakteur insluit … Lesers kan uitsien na Episode 10 vir ons stapdag van Franskraal tot Baardskeerdersbos!

  1. In 2015 het jy die Camino Francés gaan stap en gaan hurk vir ’n foto by Finisterre, by die laaste roetemerker op daardie eeue-oue pad. Die Pelgrimstog van Hoop het natuurlik self ’n skouspelagtige eindpunt: Kan jy ons meer vertel oor hoe die roete eindig maar ook hoe dit vir jou geëindig het ná soveel dae se verfilming en inspanning langs die roete?

Dit was ’n blink idee van Frederick om die roete by Kaap Agulhas se mees suidelike punt en veral by die vuurtoring te eindig. Ek hou daarvan dat net soos jy by Finisterre in Galicië, Spanje, ’n vuurtoring bereik jy dieselfde hier doen. ’n Vuurtoring is tog ook ’n simbool van hoop, en iets wat “lig werp” om veiligheid te verseker op stormagtige waters. Dit laat my dink aan Carl Jung wat in sy outobiografie Memories, dreams, reflections skryf: “As far as we can discern, the sole purpose of human existence is to kindle a light in the darkness of mere being.”

Die laaste stapdag op die Pelgrimstog van Hoop is besonders. Jy stap hoofsaaklik kuslangs, van Brandfontein tot by Suiderstrand, later verby die wrak van die Japannese skip Meisho Maru No. 38 en uiteindelik sien jy die boonste punt van die vuurtoring in die verte. Dit was vir my ’n kosbare oomblik toe ek op 26 Junie vanjaar die vuurtoring vir die eerste keer op die pelgrimsroete gesien het. Ons was toe al vir langer as drie weke aan die skiet.

Ek was diep dankbaar dat alles ten goede meegewerk het. Daar was ook ’n spesiale oomblik – of eerder, verwelkoming – by die vuurtoring wat kykers in die laaste episode sal sien. En om alles te kroon het ’n dubbelreënboog – nóg ’n simbool van hoop – ook met my aankoms naby die vuurtoring in die see gelê. Die “synchronicity” van dit als, om weer by Jung te gaan draai, was in daardie oomblik vir my beeldskoon en bonatuurlik.

  • Elders: Pelgrimstog van Hoop begin op Woensdag 30 September om 20:00 op kykNET

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top