Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die Pelgrimstog van Hoop is ’n netwerk van roetes wat ’n onlangse groep pelgrims gevind het jou tot ’n antwoord of twee kan lei.
Die Pelgrimstog van Hoop is vanjaar tien jaar oud, want in Oktober 2014 het dr Frederick Marais en ’n paar kollegas die eerste roete gebaan van Robertson tot Kaap Agulhas, vertel die joernalis Erns Grundling (regs bo) aan Kerkbode tydens 'n onlangse saamstap. Grundling voeg by: “Ek dink nie die roete moet gesien word as net ’n predikantewandeling of selfs net ’n Christenwandeling nie. Want dit is oop vir almal wat ’n behoefte het aan stap wat wil konnnekteer met hulleself, die natuur en die omliggende gemeenskap. So, in Hennie Aucamp se woorde is die Pelgrimstog van Hoop “slegs vir almal.” Foto's: Le Roux Schoeman

Nuwe staproete is ‘slegs vir almal’ | Pelgrimstog van Hoop se nuwe ‘been’ van Mosselbaai tot Kaap Agulhas


Oor sand en rots. Deur gasvrye huis en haard … ’n Dekade ná die eerste stappers in die pad geval het, is die Pelgrimstog van Hoop ’n netwerk van roetes wat ’n onlangse groep pelgrims gevind het jou tot ’n antwoord of twee kan lei. Of ten minste tot by nuwe vrae. Le Roux Schoeman berig.

 

Die rooi en wit patroon geverf teen die vuurtoring by Ystervarkpunt lyk vir hom “soos ’n barber shop cone”, sê Ethan le Fleur terwyl hy drie dominees en twee joernaliste begelei teen die 95 trappies op na waar die lig snags kloksgewys ’n barshou swiep om skepe tot so ver as 24 seemyl weg te laat verstaan: hier lê kus!

Le Fleur is ’n gids by Gourikwa, ’n natuurreservaat tussen Gouritsmond en Stilbaai. Van fynbos, kleinwild en vuurtoringgloeilamp-meganika kan jy dié 24-jarige min vertel. Maar die kollig val nie dié slag op die jong bewaarder of selfs sy vyf rugsakbelaaide gaste by dié vuurtoring-uitkykpunt nie. Die kollig val op ’n nuwe roete van ’n dekade-oue staproetenetwerk: Die Pelgrimstog van Hoop se Ligtoring-roete, van Mosselbaai se St Blaize-vuurtoring tot dié by Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van die vasteland.

Ethan le Fleur verduidelik aan Erns Grundling hoe Ystervarkpunt se ligtoring werk.
Gerrie van Deventer, een van die baanbrekers van die Pelgrimstog van Hoop se nuwe roete.
Die vuurtoring staan so 21 meter in sy sokkies.

So lyk nuwe roete van bekende pelgrimstog

Dit is ’n bielie van ’n roete. Maar, op een of ander manier, ’n gentle bielie, soos van die vroeë verkenner-stappers oor die eerste paar dae van die roete getuig en soos die touleier van die roete, dr Gerrie van Deventer, vertel. Ystervarkpunt rys uit op Dag 5 van die roete wat altesaam sowat 337 km tot by Agulhas strek, volgens Van Deventer. “Fiksheid help ’n bietjie … Dit is ’n effe uitdagende roete want jy stap langs die see, maar hier is ouens wat saamstap wat glad nie geoefen is nie, maar hulle doen die ding,” sê Van Deventer met yl-bedekte verwysing na die imposante figure van Carel van der Merwe en Johan Nieuwenhuizen wat soos ’n slotpaar die meeste van die roete sy aan sy stap. En wel in die woorde van Nieuwenhuizen: “100% onvoorbereid”. Waar Van Deventer, ’n afgetrede NG predikant van Mosselbaai, ’n ratse stapveteraan is, is Van der Merwe en Nieuwenhuizen meer soos neofiete van die pelgrimsgier wat Suid-Afrika behoorlik beetgepak het.

‘Pelgrim-preneur’ Erns oor pelgrimstogte 

Die joernalis en skrywer Erns Grundling het sedert sy boek oor die Camino in Spanje as iets van ’n plaaslike Pelgrim-preneur ontpop en via Elders, ’n reeks op kykNET, daarin geslaag om staptogte ’n gewilde iets vir beide stappers en sofapokkels te maak. Hy’t saam met die dominees gestap om voorbrand te maak, te verspied en stories uit te snuffel, want later vanjaar bring hy ’n kameraspan saam met hom en hy hoop sy nuwe Elders-reeks oor presies hierdie roete sal in Januarie volgende jaar op televisieskerms te siene wees.

Erns Grundling (links) en Gerrie van Deventer tydens die onlangse verkenningsstaptog van Mosselbaai tot Jongensfontein.
Erns Grundling aan’t beplan vir ’n volgende seisoen van die reisprogram Elders.

“Ek dink daar is ’n opbloei in pelgrimstogte en staptogte soos daar in die negentigs met kunstefeeste was,” sê Grundling so tussendeur die stap aan Kerkbode, wat self so 100 km saamgestap het. “En dit is nie ongewoon dat elke tweede roete wat elke derde week gebore word ook ’n camino genoem word nie … en daaroor kan ’n mens ook interessante gesprekke en selfs debatte hê, maar ek dink dit sluit definitief aan by die tydsgees waarin baie mense hulleself bevind. Ek dink die terapeutiese waarde van stap, die impak op liggaam en gees, tesame met ’n groter bewustheid van mindfulness en natuurlik ook die digitale aanslag van ons toestelle, fone en alles het die omgewing geskep vir iets soos die pelgrimstog om te gedy,” meen Grundling, wat weliswaar op sy gelukkigste lyk wanneer sy buff om die nek sit, sy rooi staphoed sy ore elk so ’n hoflike buiginkie vooroor laat maak en sy swart Salomons teen ’n tempo wegtrek wat hom gou klein teen die einder maak.

Hy dink ook die tradisie van pelgrimstogte sluit aan by ’n veel ouer (geloofs)tradisie, waar ’n mens iets meer oor jouself leer, dalk ’n bietjie heling vind en dalk sommer net ’n klomp nuwe vrae vind. “Jy kan soms wegstap van ’n pelgrimstog met ’n hele stel nuwe vrae, wat jou lank kan besig hou.”

Diensleraar op pelgrimstog: ‘Wees net daar vir my’

Van hierdie soort binnewerk, hoor ’n mens baie by die medestappers, mits jy uitvra. Carel van der Merwe vertel: “Deur my lewe het ek keuses gemaak. Soms reg, soms verkeerd. Hierdie Lydenstyd het ek ook keuses gemaak. Ek stap vir my Here. Ek stap met plakkies en ek stap kaalvoet. Ek sukkel en ek kry swaar, ek is oorgewig, onfiks, ek het moontlik ’n ligament in my skouer geskeur en dit veroorsaak saam met my seer voete en spiere dat ek konstant bewus is van die pyn. Ek stap vir myself … vir die natuur, die pyn, die stiltye op die roete, die opdraendes. Die ongemak van ’n te klein bed in ’n te klein HOP-huisie (een van die oorbly-opsies op die Stilbaai-aand) het my so bewus gemaak van al die seën in my lewe, van my bevoorregte lewe, van my roeping, van my liefde vir die gemeente, gemeenskap, my gesin, myself en hoe lief Hy my het.”

Carel van der Merwe (links) vat ’n blaaskans in die skadu.

Van der Merwe (53) is sedert 2019 voltyds in die bediening op Worcester. Dit was met ’n ompad. Hy was eers sowat 30 jaar in die landbou. Die fris diensleraar het eers senior poste by vooraanstaande melkerye beklee. “Dit is ’n bedrywige lewe. Hard op die gesin. Lang ure. Skofte. Ons het so 60 000 liter per dag gemelk. So 44,4 liter gemiddeld oor ’n stal van … as ek nou reg onthou, so 1 200, 1 300 (koeie).” Nou is hy hier op die pelgrimspad met plakkies en ’n paar van daai blou PT-broekies wat ’n ou deesdae minder sien. En ’n kommerwekkende rooi nek wat kwaai son vang soos ons stap van die vuurtoring in die rigting van ’n klomp melkhoutbome op ’n boer se plaas – met meer as 25 km se pad tussen ons en die bestemming op die langste stapdag.

Met die toevoeging van die diensleraarbaan in die NG bedieningstruktuur begin Van der Merwe in 2020 met voltydse teologiese studies aan Hugenote Kollege terwyl hy as pastorale hulp by Worcester Moedergemeente werksaam is,” het Kerkbode in 2023 via die “Proponente-bylaag” oor Van der Merwe berig. Die berig lui: “In 2022 behaal hy die graad BTh. Carel is opgewonde oor die diakonale versorging van die kerk en is sedert 2010 as mentor en prediker betrokke by die Toevlug Rehabilitasiesentrum. Hy is in 2017 verkies as voorsitter van die CAD (Christelike Afhanklikheidsdiens) se Worcester-tak en later ook as ondervoorsitter van CAD Wes-Kaap. Hy is ook betrokke by die Pionierskool vir siggestremdes, Innovation for the Blind, Langerugskool vir leerders met leerhindernisse, “MoreThan Homelessness” asook Worcester House of Hope vir mishandelde vroue en kinders. Onder die “MoreThan”-vaandel het hy die gemeente deel gemaak van ’n middedorpbediening onder haweloses.”

Die Pelgrimstog van Hoop is ’n netwerk van roetes wat ’n onlangse groep pelgrims gevind het jou tot ’n antwoord of twee kan lei.

Oor sy ervaring tydens die pelgrimspad sê Van der Merwe aan Kerkbode in ’n kort WhatsApp-boodskap: “Ek is met my hele wese oortuig dat die Here my op hierdie tydstip van my lewe en bediening hier geplaas het. Ek stap vir my oudste seun, hy het Asperger-sindroom. Hy is vandag 21. Hy is in sy lewe al soveel keer deur die wêreld verwerp, maar hy gee nooit moed op nie. Op die vraag wat hy vir sy verjaarsdag wil hê, antwoord hy my (onlangs per WhatsApp): “Ek het eintlik niks meer nodig nie, Pappa moet net terugkom huis toe.”

Van der Merwe praat graag oor sy gesin en op paradoksale wyse bring hulle afwesigheid hulle nader soos die dae verbygaan. “Ek stap (ook) vir my jongste seun, hy word in Mei 14. Met Covid het ons, ons vietse, lewenslustige seuntjie sien transformeer as gevolg van angs en depressie. Ek vra gedurig, “hoe kan Pappa help?”, en die antwoord van die steeds skrander, maar nou oorgewig seun bly dieselfde: “Wees net daar vir my.”

Predikant stap pelgrimstog uit dankbaarheid

Johan Nieuwenhuizen is predikant by Worcester-Noord-gemeente. Hy is ’n lekker storieverteller wat hou van lag. Maar daar “was maar ’n klomp goed in die kop aan die gang en die alleenstap in stilte het dikwels baie beteken om ’n paar goedjies in plek te sit weer,” vertel hy.

My pa was 47 toe hy oorlede is na sy 3de hartaanval. Ek het op 47 my eerste hartaanval gehad en het drie stents nou om al die are en dinge oop te hou en drink daagliks ’n hand vol pille om alles klopdisselboom te hou.

Johan Nieuwenhuizen

Die stap het ek dan gedoen uit dankbaarheid vir nog ’n kans – vir lewe – en vir die voorreg om steeds hier te kan wees, pa vir my kinders en man vir my vrou.

Ek word September 50. So vir daai ekstra tyd en genade is ek bitter dankbaar en bevoorreg.

“My ma is op ouderdom 80 jaar verlede jaar oorlede. Sy het my alleen grootgemaak van ouderdom 5 en dinge het nie altyd maklik en eenvoudig gegaan nie. Sy was ook maar geteister deur gesondheidsuitdagings en is in my matriekjaar (1992) gediagnoseer met kanker. Strawwe behandeling het voorgelê. Bestraling en chemo en dit het haar liggaam maar erg afgetakel. Dit was maar ’n rukkie weg en dan was daar weer iets anders terug. Sy is dan ook oorlede as gevolg van die nagevolge van slukdermkanker en het maar 32 kg geweeg by afsterwe. Sy was die voorbidder en geloofsmodel in die huis en was altyd moedig en het geleef – die Here sal sorg … Hy sal voorsien. Maak nie saak hoe sleg of hoe moeilik dit gegaan het nie.”

Vir Nieuwenhuizen was die week se stap ’n groot mylpaal. “Die stap was vir lewe, vir nuwe geleenthede, nuwe vriende en oorwinning … Alles dinge wat ons in Christus ook kon beleef. Daarom was die instap in Jongensfontein op Palmsondag nogal vir my baie simbolies en spesiaal. Ek is só dankbaar vir die kerk wat sulke geleenthede aan ons as leraars beskikbaar stel en sal definitief vir ’n volgende een volgende jaar inskryf.”

Die Pelgrimstog van Hoop is ’n netwerk van roetes wat ’n onlangse groep pelgrims gevind het jou tot ’n antwoord of twee kan lei.

Pelgrimstog se roetes is ‘oop vir almal’

Grundling lig sy rooi hoed vir Gerrie van Deventer en die komitee / span wat hom help om hierdie roetes uit te lê en die vele belanghebbers en medewerkers en veral gashere langs die roete te probeer oortuig, paai en met raad bedien oor hoe om pelgrims te ontvang.

Everil Daries is een van die gashere wat meer van ’n “homestay” gevoel aan die roete gee in haar huis op Melkhoutfontein, ’n nedersetting naby Stilbaai en ver van weelde. “Die eerste (gaste) was twee vrouens. Ek het dit nogal baie geniet met hulle. En jô, hulle het vreeslik geëet aan my kerriehoender,” het Daries vertel oor haar betrokkenheid by die Pelgrimstog van Hoop. “Vandag ek het nou al ses groepies gehad wat oorgeslaap het hier by my. Dit is lekker om kennis te maak met ander mense. Miskien eendag gaan hulle my ook nooi na hulle daar vir ’n naweek, mens weet nooit,”

 

Everil Daries, een van die gashere langs die roete.
Daries se huis op Melkhoutfontein buite Stilbaai.

Grundling hou van nature ’n oog op die groter prentjie. “Wie sou kon dink dat ’n paar NG predikante soveel baanbrekerswerk sou doen die afgelope paar jaar rondom pelgrimstogte en nuwe staproetes ontwikkel en dit ook fasiliteer. Die Pelgrimstog van Hoop is vanjaar tien jaar oud, want in Oktober 2014 het Frederick Marais en ’n paar kollegas die eerste roete gebaan van Robertson tot Kaap Agulhas. En op hierdie staptog het ons self ’n paar predikante wat dit as een van die opsies onder voortgesette opleiding vir predikante (’n gedeelte van) ook die pelgrimstog stap,” verduidelik Grundling oor Van der Merwe en sy slotmaat. Hy voeg by: “Ek dink nie die roete moet gesien word as net ’n predikantewandeling of selfs net ’n Christenwandeling nie. Want dit is oop vir almal wat ’n behoefte het aan stap wat wil konnnekteer met hulleself, die natuur en die omliggende gemeenskap. So, in Hennie Aucamp se woorde is die Pelgrimstog van Hoop “slegs vir almal.”

 

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Nuwe staproete is ‘slegs vir almal’ | Pelgrimstog van Hoop se nuwe ‘been’ van Mosselbaai tot Kaap Agulhas”

  1. Titia van der Linde

    Môresê – wil graag die camino Oktober 2025 doen, asb
    Dankie
    Titia

  2. ek is 80 en will ook saam met soekers na God stap. want die natuur, die skepping is God se eerste openbaring, en in die stilte sal mens Hom vind.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top