Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

#2023: Ontmoet nuwe leraars en diensleraars

Die kuratoria van Universiteit Stellenbosch (US) en Pretoria (UP) het onlangs bedieningsbevoegdheid toegeken aan die volgende leraars en diensleraars in diens van die NG Kerk.

VOLTYDSE LERAARS

 

Colloquium Doctum (US): Jacques Steenkamp, vol leraar, was vir 18 jaar gemeentepredikant in drie gemeentes: Alberton, Warmbad en Stellenbosch-Wes. Die afgelope drie jaar is hy predikant in Nederland in ’n gemeente van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) op ’n plattelandse dorp met byna 2 000 lidmate. Hy het tydens sy bedieningstyd in Suid-Afrika op verskeie rings- en sinodale kommissies gedien en het graag aan kerklike en buite-kerklike aktiwiteite deelgeneem. Hy het ook ’n MDiv-graad in Narratiewe terapie wat vir hom die grondslag bied van hoe hy gemeentewerk aanpak. Hy en sy vrou het drie volwasse kinders. Sy roeping is om hoop te bring en ’n verskil te maak en daarom vind hy sy taak as predikant ’n wonderlike voorreg om te kan doen.

Jeannette de Wet, proponent (UP), is op 10 Mei 1984 gebore, slaag matriek in 2002 aan die Hoërskool Heilbron en is getroud met Meiring de Wet. Hulle dogtertjie Ariël is gebore op 7 November 2022. Voor sy haar teologiese studies by UP begin het, het sy as grafiese ontwerper gewerk vir ’n sendingorganisasie, haar eie besigheid bedryf en ook as professionele fotograaf gewerk. Tydens haar studies het sy die

 fakulteitstoekenning vir die topstudent in haar tweede jaar verwerf, en was op die dekaanslys vir beide haar BDiv- en MDiv-grade. Sy het haar gemeentejaar by NG Oosterlig voltooi en het saam met ’n ervare en dinamiese predikantespan gewerk. Sy stel belang in hoe die evangelie ’n tasbare verskil kan maak aan die spesifieke uitdagings van ons land en daarom het sy ’n besondere belangstelling in die rol wat geloofsgemeenskappe kan speel in volhoubare ontwikkeling. Haar belangstelling lê veral in entrepreneurskap, ondernemings- en vaardigheidsontwikkeling. Haar skripsie, met die tema A historical analysis of Anglo-Israelism and the Hebrew Roots movement in South Africa, het gehandel oor die moontlike historiese verband tussen hierdie twee bewegings. Jeannette se kontakbesonderhede is 083 435 4849 / jeannettevdm@gmail.com

 

Lees ook: Meer bedienaars en diensleraars as predikante in 2030?

DIENSLERAARS (almal by US)

Albert Jooste, diensleraar (Pastoraat en Berading), is op 26 Desember 1955 gebore te Odendaalsrus in die Vrystaat en het op Orkney in die ou Wes-Transvaal grootgeword. Na hy matriek slaag in 1973 volg ’n lang loopbaan in die ingenieurswese. In 1995 behaal hy ’n BA-graad in Teologie en gedurende 2022/23 voltooi hy sy Bedienaarsertifikaat te Hugenote Kollege sowel as sy PG Dip te Universiteit Stellenbosch. Hy is tans by die NG Gemeente Rynfield in Benoni lidmaat waar hy in alle aspekte van die bediening betrokke is. Sy passie is vir straatbediening. In sy vrye tyd herstel hy graag antieke motors en Vespa-motorfietse. Hy is met Elsie Jooste getroud en het vier kinders (drie seuns en een dogter) en is ook die trotse oupa van nege kleinkinders.

Annette Steenkamp, diensleraar (Pastoraat en Berading), is gebore op 14 November 1950 in Springs. Sy het in Stilfontein grootgeword en aan die Stilfontein Hoërskool gematrikuleer. In 1971 het sy aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys haar BA-graad in Geskiedenis en Sielkunde voltooi. Daarna het sy ook ’n Diploma in Algemene Verpleeg- en Verloskunde voltooi (1975). In 1975 is sy getroud met ’n boer van Bothaville en hulle het twee seuns. Op 50-jarige ouderdom het sy tot bekering gekom en begin betrokke raak by die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) op Bothaville. Sy is beskikbaar om bidure, Bybelstudie, huisbesoeke, patorale versorging en prediking te onderneem wanneer ’n predikant om een of ander rede nie beskikbaar is nie. Sy kan gekontak word by 071/ 915/ 3858, e-pos: amsteenkamp47@gmail.com

Bianca Marais, diensleraar (Jeug- en Familiebediening), is op 14 November 1995 in Port Elizabeth (nou Gqeberha) gebore en het daar grootgeword. Sy matrikuleer in 2013 aan die Hoërskool Framesby en begin met studies by Universiteit Stellenbosch in Menslike Lewenswetenskappe. In haar laaste studiejaar ervaar sy opnuut ’n roeping tot die bediening. Sy doen in 2017 ’n praktiese jaar by die Gereformeerde Evangeliese Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika (REACH-SA), waarna sy besluit om teologie te studeer. Sy behaal die graad BTh in Desember 2021 en word in 2022 as diensleraar in die NG Kerk opgelei. Haar mentorskap was by NG Kerk Lorraine waar sy blootstelling gehad het aan verskeie aspekte van die bediening, veral jeug en kinders. Sy is ook baie lief vir gesels met ouer mense. Verder geniet Bianca dit om saam met familie en vriende te wees, te kamp, stap en nuwe dinge te leer. Sy is beroepbaar. Kontak haar by 071 002 7853 of e-pos: marais.bianca95@gmail.com

Elisa van der Westhuizen, diensleraar (Lering en Onderrig), is op 10 Desember 1970 op Springbok gebore waar sy ook in 1988 gematrikuleer het. Sy het op 1 Januarie 1989 by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit waar sy as lugruimbeheeroperateur gekwalifiseer het. In 2007 word sy na Bredasdorp verplaas waar sy as majoor by die Toetsvlieg- en Ontwikkelingsentrum as operasionele beampte aangestel is. In 2007 word sy ’n lidmaat van die NG Gemeente Bredasdorp en met die hulp van die gemeenteleraars het sy in Januarie 2020 by Hugenote Kollege met haar BTh-graad begin en dit in 2022 voltooi. Elisa het ’n passie vir mense en die bediening en wil hierdie passie van haar deel met die VG en NG gemeentes op Bredasdorp of waar sy ookal die geleentheid kry. Elisa speel ook graag gholf, ry perd en stap graag. Sy is getroud met Stephan van der Westhuizen wat in die landbou spesialiseer as ’n stoetveeadviseur. Sy het twee dogters, Hanya (28) en Joalisha (24).

Carel van der Merwe, diensleraar (Pastoraat en Berading), is gebore op 9 Desember 1971 en het op Worcester in die Wes-Kaap grootgeword. Hy matrikuleer in 1989 aan die Pionierskool vir siggestremdes en studeer in 1990 Boerderybestuur aan Boland Kollege te Worcester. Vir die volgende 30 jaar werk hy as plaasbestuurder. Vroeg in die nuwe millennium ontvang hy sy roeping en raak betrokke by verskeie bedieninge van die NG gemeentes waar hy en sy gesin hulle bevind. Met die toevoeging van die diensleraarbaan in die NG bedieningstruktuur begin hy in 2020 met voltydse teologiese studies aan Hugenote Kollege terwyl hy as pastorale hulp by Worcester Moedergemeente werksaam is. In 2022 behaal hy die graad BTh. Carel is opgewonde oor die diakonale versorging van die kerk en is sedert 2010 as mentor en prediker betrokke by die Toevlug Rehabilitasiesentrum. Hy is in 2017 verkies as voorsitter van die CAD (Christelike Afhanklikheidsdiens) se Worcester-tak en later ook as ondervoorsitter van CAD Wes-Kaap. Hy is ook betrokke by die Pionierskool vir siggestremdes, Innovation for the Blind, Langerugskool vir leerders met leerhindernisse, “MoreThan Homelessness” asook Worcester House of Hope vir mishandelde vroue en kinders. Onder die “MoreThan” vaandel maak het hy die gemeente deel gemaak van ’n middedorpbediening onder haweloses. Hy het ook ’n bediening begin wat maandeliks kospakkies aan behoeftige lidmate uitdeel. Eenheid, versoening en geregtigheid is vir Carel baie belangrik. Verder stel hy belang in lees, hengel en antieke ware. Hy is met Susan getroud en hulle het twee seuns, Carel (19) en Pieter (12). Carel hoop om na legitimasie by Worcester Moedergemeente beroep te word. Hy kan by 076 060 2653 of carelhoumoed@compnet.co.za gekontak word.

Henk Britz, diensleraar (Lering en Onderrig), is op 10 Julie 1976 gebore. Hy gaan skool in Alberton en voltooi matriek aan Hoërskool Alberton aan die einde van 1994, waar hy ook onderhoofseun was. Na skool betree hy die konstruksiebedryf waar hy sy eie besighede bedryf. In 1998 tree hy in die huwelik met Suzette en hulle word geseën met vier pragtige kinders. Die gesin verhuis in 2007 na Thabazimbi waar hulle ’n wildsplaas en lodge ontwikkel. Henk is vandat hy belydenis van geloof afgelê het, nou by verskillende kerkrade betrokke en het sedert ’n jong ouderdom die behoefte gehad om teologie te studeer. Toe die kerkraad hom versoek om ’n preekkursus te voltooi, het hy ingeskryf by die NWU vir die graad BTh in Christelike Bediening. Hy behaal hierdie graad sowel as die BTh Honneursgraad in Christelike Bediening met lof. Hy en sy gesin het later na die pastorie verhuis waar hy as pastorale hulp by alle fasette van die NG Gemeente van Thabazimbi betrokke is en ook rings- en sinodale byeenkomste bywoon. Henk was ook deel van besoeke aan sendelinge in Suid-Afrika, Afrika, Europa en Mauritius. Hy vind aanklank by mense van alle ouderdomme en is net so tuis met voorsang as met die aanbied van juniorkategese sowel as huis- of siekebesoek. Hy en sy gesin woon op die oomblik in Mosselbaai. Hy kan gekontak word by 082 855 7136 of per e-pos by mirabile@mweb.co.za

Gerhard van Staden, diensleraar (Jeug- en Familiebediening), is op 17 Junie 1989 gebore en het grootgeword in Kemptonpark. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Jeugland in 2007 en begin sy teologiese studies in 2008 aan die Universiteit van Pretoria. Sy BTh-graad behaal hy in 2011. Daarna begin hy sy MDiv-studies. Sy gemeentejaar doen hy in 2013 by NG Hulp en Hoop gemeente in Mokopane. Daarna volg ’n klompie jare waar hy werksaam was in die korporatiewe omgewing. Gerhard het die afgelope drie jaar weer opnuut bewus geword van sy roeping binne die bediening en begin werk as jeugwerker by NG Kempton-Hoogland gemeente. Sy passie vir mense en om saam met ander se geloofsreise op pad te wees bring vir hom groot vreugde. Gerhard is tans aangestel as pastorale hulp met die fokus van gesinsbediening by NG Alberton-Wes gemeente. Kontak hom by 076 645 4884, e-pos: gerhardvanstaden17@gmail.com

Lees ook: San-leraarspaar beloof ewige trou (sonder ‘n soen!)

STANDPLAASLERAAR (US)

Lisle Lourens, standplaasleraar binne gehoorgestremde gemeentes, is gebore in Kaapstad op 15 November 1974. Sy is doof en dra twee kogliêre inplantings. Sy het grootgeword op Worcester en in 1994 gematrikuleer. Hierna werk sy as administratiewe beampte en verwerf haar Onderwysdiploma Senior Primêr in 1998. Sy voltooi hierna ook die Diploma in Onderwys Gehoorgestremdheid by die Universiteit Stellenbosch. Sy werk van 2000 tot 2015 as Gr 4-9 Wiskunde-onderwyseres by De la Batskool en verwerf die ACE GET Mathematics Certificate van die Universiteit Kaapstad. Vanaf 2015 tot 2018 verwerf sy verskeie teologiese diplomas by Veritas Kollege Internasionaal. Lisle is lid van die Dowe Familiekerk se kerkraad en betrokke by aktiwiteite soos jeugwerk, kleuterkerk, jeugdienste en Bybelstudies aanbied. Tans is sy weer ’n Wiskunde-onderwyseres by De la Batskool. Gedurende 2021 en 2022 het sy deeltyds die Gevorderde Diploma in Bybelse Bediening (Veritas Kollege Internasionaal) verwerf. Sy het by De la Batskool ’n projek geïmplementeer wat Bybellesse doofvriendelik maak. Sy is getroud met ’n horende man, Rudolf Lourens, en is geseënd met twee seuns, Ulrich (17) en Armand (15).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top