Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met hul stolas trots om hul skouers is hierdie groep diensleraars verlede jaar Maart by die NG kerk se Kuratorium op Stellenbosch gelegitimeer. Die vermoede is dat leraars in die jare vorentoe toenemend die kansel met bedienaars en diensleraars sal deel, die ‘nuwe bane’ wat meer geroepenes tot die bediening in die kerk toelaat. Foto: Verskaf

Meer bedienaars en diensleraars as predikante in 2030?

Slegs ’n paar jaar van nou af mag daar tot dubbel soveel bedienaars en selfs tot vyf keer soveel diensleraars as leraars in diens van die NG Kerk wees. Dit is ’n scenario wat heelwat implikasies inhou vir teologiese opleiding.

Só reken ’n werkgroep van die Algemene Kuratorium wat onlangs ’n voorlopige verslag hieroor aan die kerkleierskap voorgelê het. Die streeksinodes is gevra om hierop kommentaar te lewer.

Bedienaars en diensleraars: Wat is die verskil?

Die eerste groepe bedienaars en diensleraars het laasjaar hulle teologiese kursusse voltooi. Vir lidmate kan al die nuwe benamings egter nog vreemd op die oor val. Kerkbode het ds Jan Lubbe, voorsitter van die kuratorium van die NG Kerk in die Vrystaat, gevra hoe die ‘nuwe bane’ vir geroepenes tot die bediening van mekaar verskil.

Van waar die nuwe ‘bane’?

Die besluit van die Algemene Sinode in 2019 om gemeentes regdeur ons land te help om in ’n groeiende diversiteit van bedieningsbehoeftes te voorsien, het noodwendig ook beteken dat teologiese opleiding sal moet verbreed. Kuratoria in verskillende streeksinodes het hierdie opdrag en nuwe moontlikhede met entoesiasme en innovasie aangepak, oortuig dat kwaliteit teologiese opleiding vir die NG Kerk onmisbaar bly. Daarom is vennootskappe met akademiese instellings soos die teologiese fakulteite in Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein uitgebrei, asook met Hugenote Kollege op Wellington en die Namibian Evangelical Theological Seminary (NETS) in Windhoek.

Alle kandidate, saam met die akademiese opleiding, deurloop vir legitimasie en die bediening, programme van kerklike vorming wat deur seminaria by hierdie sentra behartig word.

Bedienaars

Die nuwe bane – benewens die sesjaarlange opleiding vir leraars met volle bevoegdheid – behels eerstens dié van “bedienaars”, dit is ouderlinge wat deur gemeentes gestuur word om byvoorbeeld opleiding in erediensbevoegdheid te ontvang. Die gemeente se kerkraad moet die persoon aanbeveel en die ring moet bevestig dat hulle die kandidaat se opleiding steun. Matriek is die minimum akademiese vereiste, maar enige naskoolse kwalifikasie verryk natuurlik die kennisraamwerk en ervaring van só ’n kandidaat.

Hulle word deur kuratoria gekeur, verwerf ’n akademiese sertifikaat (oor een of twee jaar) by Hugenote Kollege en woon onder andere twee retreats by deur die betrokke seminarium aangebied. Hierdie “bedienaars” se opleiding geskied onder begeleiding van ’n mentor en hulle sal ook ná legitimasie saam met daardie mentor werk wanneer hulle in ’n klein gemeente ’n erediens sou lei.

Diensleraars

’n Tweede nuwe baan is dié van “diensleraars”: Dit is kandidate wat alreeds oor een of ander spesialisopleiding beskik (byvoorbeeld in jeugwerk, maatskaplike sorg of gemeenskapsontwikkeling) en wat dit graag wil aanvul met ’n oorsigtelike teologiese kwalifikasie om dan by ’n spesifieke adres of met ’n spesifieke opdrag in ’n gemeente of ring te kan werk. Ook húlle ontvang erediensbevoegdheid, veral gekoppel aan daardie spesialisopdrag.

Nie “bedienaars” of “diensleraars” is breër beroepbaar as vir dié spesifieke gemeente, ring of opdrag waarvoor hulle gelegitimeer is nie; net volle leraarsbevoegdheid laat jou vir beroepbaarheid in die breër kerkverband kwalifiseer – maar, dit is moontlik om eers as bedienaar, dan diensleraar en uiteindelik volle leraarsbevoegdheid te ontvang; hierdie bane bou op mekaar.

Tweede loopbaan

’n Derde moontlikheid is sogenaamde “tweedeloopbaanstudente” wat later in hulle lewe en ná werkservaring in enige ander sektor, sou besluit om die roeping tot die bediening uit te leef en dan vir teologiese opleiding – hetsy heeltyds of deeltyds – aan te meld. Vir elke student word sy of haar voorafleer in ag geneem en ’n unieke roete van opleiding ontwikkel. Dit geskied ook in oorleg met die kerkraad van die gemeente waaruit ’n kandidaat kom, en met die plaaslike ring.

  • Daar is beursmoontlikhede vir kandidate wat in die verskillende teologiese opleidingskursusse belangstel. Meer inligting is te kry by die onderskeie kuratoria.

Wat van teologiese studies by ander opleidingsentra?

Die inhoud van die NG Kerk se teologiese opleiding kom gereeld onder skoot – soveel so dat sommige uit die geledere van die Kairos Netwerk-groep nou voorstel dat studente  eerder by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom of die onafhanklike Afrikaanse Protestante Akademie van die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) in Pretoria vir teologiese opleiding inskryf.

Dit het die vraag gelaat of mense wat geroepe voel tot die bediening in die NG Kerk ’n wyer keuse het van instansies vir teologiese opleiding as die vyf opleidingsinstellings wie se teologiese kursusse by die kerkgroep geakkrediteer is.

Die kort antwoord hierop is dat mense teologie kan studeer waar hulle wil, maar as hulle dit doen met die oog op legitimasie binne die NG Kerk, dan verkieslik by hierdie vyf instellings. Só sê dr Frederick Marais wat as voorsitter van die NG Kerk se Algemene Kuratorium oorhoofs verantwoordelik is vir wat by dié kerkgroep se teologiese opleiding geleer word. Die vyf instellings sluit in die drie teologiese fakulteite by die universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Vrystaat asook Hugenote Kollege en Nets by Windhoek in Namibië. “As hulle dit doen by ander instellings … sal die kuratorium waarskynlik vir hulle vra om addisionele werk ook te moet doen omdat ons nie toesig het oor en insae tot daardie kurrikulums nie,” voeg Marais by.

  • Kairos Netwerk verwys na die groep NG gemeentes wat ongelukkig is met die 2019-sinodebesluit om gemeentes ruimte te gee om self te besluit of hulle gelowiges in selfdegeslagverhoudings wil akkommodeer of nie. Lees Kerkbode se beriggewing oor die 2019-sinode en hoe daar tot die besluit gekom is, HIER en HIER..

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Meer bedienaars en diensleraars as predikante in 2030?”

    1. Helene Meissenheimer

      Hallo Christine, dankie vir jou navraag. Die bedienaarkursus word aangebied deur Hugenote Kollege in samewerking met die kuratoria. Jy sal meer inligting oor die kursus op die webblad van die Hugenote Kollege kry deur te klik op hierdie skakel.

Comments are closed.

Scroll to Top