Vreugde, verligting en ‘bruisende opwinding’ na sinode

Met die Algemene Sinode in Benoni wat nou tot die verlede behoort, het CONETTE LE ROUX gewonder hoe sinodegan­gers die ses dae ervaar het.


Ten spyte van sowat 45 uur om sinodetafels, beligting in die koe­pelstruktuur of wit “ruspe” wat met ’n “nagklub” vergelyk en diverse opinies, heers ’n positiewe gees. Nie eens die Be­noni-hitte of ’n stofstorm en he­wige reënbui kon enigiemand van stryk bring nie. Soms was daar ook net verligting.

“Ek is ongelooflik verlig oor die gebeure tydens die selfdegeslagdebat. Die gemoedelikheid en die wyse waarop dit hanteer is het my beïndruk. Dit kon so maklik soos 2016 uitgedraai het,” het Ida Brink, kerkraadslid van die NG gemeente Differentia in Boksburg gesê.

Tertius Erasmus, leraar van die NG gemeente Bronkhorstspruit, Oostelike Si­node het saamgestem: “Die toegeneentheid het vir my uitgestaan. Ons is regtig so verskillend maar ons maak ruimte vir mekaar.”

’n Ander sinodeganger, wat anoniem wil bly, het opgemerk hy vermoed die feit dat ds Nioma Venter die voorsittersrol vir dié debat behartig het, het baie daarmee te doen. “Die positiewe gees wat sy uitgestraal het, het almal beïnvloed. Die homofobie-vlakke het beslis afgeneem,” het hy laat hoor.

Ander het die hoofregter se besoek as ’n hoogtepunt uitgelig. “My hoogtepunt was die hoofregter se inset. Sy entoesias­me, eerlikheid en getuienis was ama­zing. En as ek die sinode moet opsom sal dit wees: ‘#ImstayingintheDRCRSAChrist,” was ds Marlize Malherbe van die NG gemeente Ri­chards­baai, Kwa­Zulu-Natal se gevoel.

Irma Nel, leraar van die NG gemeente Tetelestai in Randfontein het gesê: “Ons het lekker gesing. En dit was baie lekker dat hoofregter Mogoeng by ons ge­kuier het.”

Vir twee kerkraadslede was dit ’n groot voorreg om ’n Algemene Sinode vir die eerste keer by te woon.“Dis my eerste sinode. Die breë blootstelling is geweldig verrykend,” was wat vir Theo Klein, kerkraadslid by die Windhoek Moeder­gemeente uitgestaan het. Willem van der Westhuizen, kerkraadslid van die NG gemeente Driehoek, Vanderbijlpark het laat hoor: “Dis my eerste si­no­de en ’n groot voorreg om hier te wees. Al het die mense verskil, het hulle mooi met mekaar gepraat. Die kennis van die sinodegangers het my ook beïndruk. Ek dink beslis nie ek is dom nie, maar hier was baie skerp mense wat baie slimmer as ek is.”

Vir Willem van Heerden, kerkraadslid van die NG gemeente St Helenabaai en ds Marius Louw van die Bloemfontein Studentekerk was hulle verbaas deur almal se gemoedelikheid ten spyte van groot verskille. “My hoop is net dat al die besluite uitgevoer sal word,” het Louw bygevoeg.

Ds Sanré Benade, leraar van Puk Kandelaar in Potchefstroom, is opgewonde oor “die positiwiteit oor die werk van die kerk”. “Ons het nog plek of ruimte om ’n verskil te maak,” het Benade gesê.

“Dit was nou ’n suksesvolle poging tot konsensus en samewerking,” was die ervaring van Christa Brits, kerkraadslid van die Riviera-Jakaranda-gemeente in Pretoria. Dié kerkraadslid het ten spyte van ’n onlangse heupvervanging die ses dae om die ronde sinodetafel bly sit.

“Hier heers meer bruisende opwinding en uitgedrukte liefde as wat ek nog ooit by ’n Algemene Sinode ervaar het,” het ds Nelis Janse van Rensburg op 11 Oktober na afloop van die vergadering gesê.