Vyf debatte woed, slegs indringende gesprek sal help

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Diepgaande reformasie is die enigste oplossing vir die NG Kerk, skryf Hoffie Hofmeyr in die voorlaaste aflewering van sy rubriekreeks.

Die liberale teologie, dit wil sê waar veral die Bybel en sy boodskap nie meer sentraal staan nie, word in verskillende uitingsvorme ook in die NG Kerk deur ’n klein minderheid liberales uit ons predikante, leierskap en teoloë-kring gedryf.

Sommige van diegene het hulleself ook diep binne die leierskap van die kerk gevestig. Dikwels onder die dekmantel van missionaliteit word liberale agendas gedryf, moontlik ook deur binnekringe in die Algemene Sinodale Moderamen. Ondersteuners van bogenoemdes speel dikwels ook invloedryke rolle in kommissies, taakspanne en selfs ook met die huidige videoreeks binne die ASM-strukture. Dit is byvoorbeeld oordrewe beklemtonings met betrekking tot selfdegeslagverhoudinge, gidsboeke hieroor vir gemeentes en aanvalle op ander gebalanseerde kerkleiers wat vanuit die binnekringe gedryf word, ook deur lede van kuratoria en predikante binne fakulteitstrukture. Dit is bepaald sorgwekkend.

Lees ook: Liberale teologie in die NG Kerk?

Vyf ernstige debatte word tans in die NG Kerk gevoer, waarvan die laaste twee in my derde artikel bepreek sal word.

  1. Die eerste en oorheersende debat wat nie genoegsame aandag kry nie, is die een oor goeie teologie vir ’n goeie kerk. Myns insiens is goeie teologie geleë in ’n klassieke teologie waar die balans tussen teologie en wetenskap gehandhaaf bly. Verskillende moontlikhede bestaan seker in dié verband, maar die een wat ek meen die beste by die NG Kerk behoort te pas en die breedste wêreldwyd aanvaar word is die visie van Augustinus en Anselmus op goeie teologie naamlik fides quaerens intellectum. Dit beteken letterlik vertaal geloof wat verstaan soek oftewel ’n geloof wat langs die weg van die wetenskap tot ’n betere verstaan van geloof wil kom. Dit beteken dus beslis in die omgekeerde sin nie menslike verstaan wat geloof probeer soek soos by die liberale teologie nie. Laasgenoemde word dan eintlik niks anders nie as ’n suiwer menslike soeke na God en sy genadige liefde vir die mensdom.
  2. ’n Tweede debat wat tans gevoer word is of daar na alternatiewe teologiese opleidings gesoek sal moet word as die gereformeerde teologie-aanbod algaande skraler word. Die huidige teologiese opleiding by die drie NG teologiese fakulteite, ten spyte van mooi verhale van gebalanseerde opleiding, is naas die werklikheid van owerheidsdruk besig om al dunner te word met betrekking tot gereformeerde teologie.

Dit wil voorkom asof ons jong studente nie genoegsaam aan gesonde en 21ste eeuse gereformeerde teologie blootgestel word nie. Vreemde standpunte word ten spyte van pogings tot gesonde spiritualiteitsvorming en kerkeie vorming van studente, deur bepaalde dosente gedryf. Ek het ’n paar mondelinge getuienisse van gebalanseerdes hieroor ingewin.

Lees ook: ‘Ons wankel nie in belydenis’ – Nelis

Weereens gaan ek nie die name van dosente noem nie, maar as die skoen sou pas moet die betrokkenes dit wel maar aantrek. Ek haal enkele getuienisse aan: Liberale teologie word as gesonde kritiese denke voorgehou terwyl nie-liberale en gebalanseerde teologie as onkrities afgemaak word: dit is beslis onverskillige akademiese praktyk; in sommige kringe word ook post-teïstiese gedagtes bevorder (die afstand doen van die Bybelse verstaan van God) soos onlangs ook deur dr Ben du Toit uitgespreek; studente wat nie saampraat in die koor van liberale teologie nie word soms deur dosente geviktimiseer; die SGV-kwessies word soms by studente afgeforseer; die mentorprogram deur die kuratorium by UP word nie orals as genoegsame en gebalanseerde begeleiding beskou nie en daar is tans sprake van ’n alternatiewe begeleidingsprogram; ook by UP is die liberale “Jesus Seminar”-teologie addisioneel deur die kuratorium as voorgeskrewe stof vereis; by UV word in sommige lesings ’n universalistiese teologie waarin alle godsdienste gelykgestel word, gedoseer; by US word gesê dat die Ou Testament dikwels met sterk feministiese en ook met LGBTQ-lense gelees word; sommige dosente hier ontken ook die plaasvervangende versoening deur en die liggaamlike opstanding van Christus.

Lees ook: ‘Die Bybel is die Woord van God, dis ons gesagsboek’

Indien nodig sal daar na ’n nuwe addisionele opleiding gesoek moet word wat ’n duideliker gereformeerde opleiding naas ’n gesonde ekumeniese blootstelling sou kon bied.

Die kleiner syfers van aanmelding vir teologiese opleiding by die bestaande drie NG fakulteite, wek ook ernstige kommer. Natuurlik kan hierdie dalings deels aan sekularisasie, Covid en ook verkleiningstendense toegeskryf word, maar ek het duidelike aanduidings uit betroubare bronne ontvang dat voornemende studente soms gewaarsku word om nie by sommige van hierdie kerklike fakulteite met eensydige tendense te gaan studeer nie; dat reeds bestaande studente hulle studies as gevolg van eensydighede staak; en dat verskeie studente ander plekke vir teologiese opleiding soek. Daar word dikwels agter die feit geskuil dat die owerheid se druk die kerklike fakulteite tot ekumeniese fakulteite omvorm het, maar dit is nie ’n genoegsame verskoning vir ’n skraal gereformeerd-teologiese aanbod nie.

Enkele moontlikhede bestaan in hierdie verband naamlik die Fakulteit Teologie by NWU of die meer evangeliese George Whitefield Kollege in die Kaap of dan moontlik sekere buitelandse opleidings wat hoofsaaklik aanlyn sal geskied. Verder sal daar ook dringend oor gebalanseerde voortgesette teologiese en beroepsopleiding besin moet word.

  1. Daar is derdens die vraag of die Algemene Sinode van die NG Kerk se dae moontlik getel en uitgedien kan wees, omdat bepaalde elemente in die ASM nie meer genoegsaam lidmate, gemeentes, ringe en streeksinodes se standpunte en hulle kommer verteenwoordig nie. Een van die goeie voorbeelde hiervan is die indruk wat gelaat is hoe onverskillig ten opsigte van die inhoud daarvan, ’n groot aantal beswaarskrifte van individue, gemeentes, ringe en streeksinodes by die Algemene Sinode van 2019 hanteer is. Dit blyk uit verskillende getuienisse, beide deur afgevaardigdes wat hierdie Algemene Sinode bygewoon het maar ook diegene wat kerkregtelik dit beoordeel het, dat daar dikwels slegs kennis geneem is van baie van die beswaarskrifte sonder om dit deurtastend te hanteer.

Daar word meer en meer gedink dat die Algemene Sinode plek moet maak en ontbondel moet word na ’n tipe federatiewe of losser sisteem van samewerking, onder andere selfs ook met ander kerke in ons eie en in die res van die gereformeerde familie in Suidelike-Afrika. Een van die winste hiervan sou wees dat ons byvoorbeeld nader aan ons susterkerke binnelands en in die buurlande met hulle meer gebalanseerde teologie kan beweeg, soos byvoorbeeld die VGKSA, die NGKA, die RCA, die RCZ (Zambië) en die CCAP (Malawi), terwyl ons ook nader aan die ander binnelandse Afrikaanssprekende gereformeerde kerke soos byvoorbeeld die GKSA en die NHKA sou kon kom. Daar is selfs die moontlikheid dat nie-gereformeerde Skrifgetroue kerke in Suid-Afrika hulle steun aan hierdie ingrypende “terugkeer na die Woord”-beweging kan begin gee.

Lees ook: Teologiese opleiding: Gesprek tussen dominee en voorsitter van algemene kuratorium

Dat die NG Kerk in die lig van die bogenoemde drie debatte en in die lig van internasionale ontwikkelinge steeds bitter naby aan ’n “Ground Zero” moontlikheid beweeg, is ongelukkig ’n werklikheid. ’n Baie duidelike pad na ’n ingrypende en ’n radikale reformasie is myns insiens die enigste oplossing.

  • Prof JW (Hoffie) Hofmeyr (emeritus) was verbonde aan UP en besoekende professor aan die Evangelische Theologische Faculteit, Leuven, België en Liverpool Hope University, Liverpool, Engeland.
Word 'n vriend van Kerkbode