Teologiese opleiding: Gesprek tussen dominee en voorsitter van algemene kuratorium

Ná ’n wydlopende gesprek tussen dr Frederick Marais en ds Dubois du Toit oor teologiese opleiding verlede week gepubliseer is, het Kerkbode ’n paar vrae aan Du Toit gestel. Kyk gerus die volledige video hieronder. Hou Kerkbode dop vir ’n opvolggesprek met Marais.


Kerkbode (KB): In jou video getiteld Die oorsaak van probleme in die NG Kerk, gelaai op Kairos Netwerk se YouTube-kanaal, stel jy die vraag: “Waar is die punt waar ons besluit (die NG Kerk se) koppeling aan die drie teologiese fakulteite is vir ons ’n groter skande as wat dit vir ons ’n trots of ’n bate is?”

In ’n opvolgvideo (sien hierbo) getiteld Ons is ’n belydeniskerk: In gesprek met Frederick Marais, gelaai op jou eie kanaal, gesels jy met dr Frederick Marais oor die werk van die kuratorium.

Watter kwelpunte rondom teologiese opleiding bly steeds by jou as dominee oor na afloop van jou gesprek met Marais?

Ds Dubois du Toit (DD): Net ’n regstelling: die Kairos Netwerk se kommunikasiespan het gevra of hulle uittreksels uit my video’s kan gebruik vir hulle YouTube-kanaal, waarvoor ek toestemming gegee het, die plasings daarop is dus nie ‘my video’s’ nie.

Dan ’n vinnige raamwerkskets waarbinne ek hierdie vrae antwoord: Ek hou nie daarvan as mense nie van my hou nie. Ek hou ook nie daarvan om mense in ’n situasie te plaas wat hulle as ongemaklik of ’n verleentheid kan ervaar nie. Kerkbode se vrae aan my handel oor my gesprek met Frederick, ek sê hierdie met hom in gedagte – en die feit dat hy twee keer in die onderhoud erken het: ons kan nie in twee ure al die probleme oplos nie. Dit gesê, my roepingsteks is Galasiërs 1:10: “As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer ’n dienskneg van Christus wees nie. (2020-Vertaling).” Ook, as ek ’n bietjie stout kan wees, is ’n ‘hermeneutiek van suspisie’ in ons ingedril op Kweek. Daarmee in gedagte antwoord ek die bogenoemde vraag:

’n Hele paar, maar hoofsaaklik twee goed:

1)  Die onaantasbaarheid van gelegitimeerde NG dosente, ten opsigte van hulle ‘leer en leef’, wanneer hulle akademiese aanstellings nie deur kerklike tug (deur die kerkrade wat oor hulle aangestel is) of leer-tug in die gedrang gebring kan word nie – as gevolg daarvan dat die oorgrote meerderheid van dié aanstellings deur die universiteite voltrek is en nie die kerk nie. Daar is ook die verdere onaantasbaarheid van ander ekumeniese aanstellings in terme van ‘leer en leef’ en die impak wat hulle op NG studente se teologiese vorming het.

2)  Die ooglopende leemtes – soos wat Frederick toegegee het, en as ek luister na die getuienisse van studente en afgestudeerdes – in die remediërende optrede van die kuratoria, via die seminarium se inisiatiewe, om studente se geloof te ‘beskerm’ teen die oorweldigende aanslag van die kritiese akademie op gereformeerde oortuigings. Natuurlik dan ook die opvolgvraag: hoekom sulke remediërende optrede in die eerste plek nodig moet wees by die opleiding van hoogs plooibare jong studente?

KB: Is daar punte waaroor jy meer gerus voel of nuwe perspektief gekry het?

DD: Tong-in-die-kies: Ek ken hom nog maar baie skraps, maar die feit dat Frederick nie soos ’n ‘bose ongelowige’ of ‘septer-swaaier’ voorgekom het, soos wat baie se persepsie van ons kuratorium-bewoners mag wees nie, was vir my ’n vars briesie.

Die volledige uiteensetting van die Stellenbosch-kuratorium se seminariuminisiatiewe was grotendeels vir my nuus – dit het ná my tyd op kweek in werking getree – en op papier maak dit my opgewonde.

KB: Op jou vraag of Marais jou kommer deel oor “wat by fakulteite oorgedra word”, sê hy: “Ek eet, slaap, drink teologiese opleiding … As jy vra of ek bekommerd is … ek is die hele tyd hiermee besig. En so al my ander kollegas … Moenie dink ons sit maar net en hou net vergaderings en dan legitimeer ons studente en daar gaan hulle nie. Ons is diep-diep-diep geïnvesteer hierin. Ek wil ook sê my kollegas wat doseer, ons het maandeliks, weekliks gesprekke oor spesifieke studente, oor leerinhoud, oor die verbetering daarvan, oor God se roeping vir ons in die wêreld. Dit is wie ons is.”

Was daar by jou twyfel oor hoe die kuratorium hulle werk verstaan of hoe dit prakties uitgevoer word?

En wat het gebeur met jou as jy na Marais se antwoord hierbo luister?

DD: My hart klop vir mense met ’n liefde vir ons gereformeerde erfenis, omdat ek glo dit is die naaste aan die klassieke/historiese erfenis van die apostels en die vroeë kerk (Judas v 17). In hierdie verband, met betrekking tot die kuratorium se voornemens, sou ek dus met respek die volgende (wel kras) beginsel wou aanhaal: ‘die pad hel toe is plavei met goeie voornemens.’ Frederick het sy kommer met my gedeel. Ek eer hom daarvoor. Ek eggo dit, maar uit die komplekse aard van die kuratorium-kweekskool-verhouding wonder ek of ’n tipe ‘krisis-bestuur’-inslag nie meer kwaad as goed doen, veral wanneer ’n mens kyk na die effek daarvan op die oortuigings van voornemende predikante en vandaar op die kerk nie.

KB: Jy verwys in jou video na die ervaring van studente wat teologiese studies as traumaties beleef het. Marais gee die punt toe en sê hieroor dat studente by ’n ekumeniese fakulteit wel sal blootstelling kry aan ’n verskeidenheid van leerstellings oor, byvoorbeeld, die verstaan van die Bybel. Hy sê: “Die kuratorium gaan bekommerd raak as die betrokke dosent wat dit doen, neerkyk op die gereformeerde hermeneutiek en gereformeerde Skrifbeskouing. Die kuratorium gaan nie sê moenie die ander teorieë verduidelik nie.”

Was dit jou ervaring as student dat wyer akademiese blootstelling jou geloof belemmer het?

DD: Dit hang natuurlik af van wat onder ‘blootstelling’ verstaan word. Ek beskou myself as ’n leraar in die sterkste sin van die woord – ek raak opgewonde wanneer ek vir mense inhoud kan gee vanuit ’n wye verskeidenheid kontekste, sodat hulle moontlik beter ingelig sal wees oor hulle persoonlike oortuigings. My en vele ander se ervaring was egter dat ons minder blootstelling aan ‘verskillende perspektiewe’ gegee is, as wat ons in een ‘spesifieke perspektief’ ingeoefen is. Ou en Nuwe Testament is die stapel van teologiese opleiding, omdat alles anders (sistematiek, sending, praktyk, kerkgeskiedenis ens.) daaruit voortvloei. Ons is ingeoefen in die hoër-kritiek paradigma van Bybelse interpretasie, wat basies die desakralisering van die Bybel inhou en lynreg staan teenoor die gereformeerde beskouing van die Bybel as die ‘Woord van God’, nie bloot ‘mense se woorde oor God’ nie. Om jou vraag dan te antwoord: dit was nie ‘wyer akademiese blootstelling’ nie, en ja, dit was geestelik traumaties.

KB: Kan jy aan enige voordele vir die NG Kerk dink van breër blootstelling binne die konteks van ’n universiteit wat oop is vir alle rasse en oortuigings?

DD: As ek jou vraag reg verstaan: ek sou nie noodwendig ‘blootstelling aan ander rasse’ klakkeloos gelykstel aan ‘ander oortuigings’ nie (behalwe as jy hier na kulturele verskille verwys) – daar is immers baie verskillende etnisiteite wat deel is van dieselfde gereformeerde erfenis as ons, teenoor mense van dieselfde etnisiteit as ons wat ander oortuigings het.

Ons beplan tans aan ’n program vir ons tienerbediening waarin ons hulle wil voorberei om met ateïste en mense van ander gelowe in gesprek te tree oor hulle Christenskap, ten einde hulle oortuigings met oortuiging te kan artikuleer en verdedig – die blootstelling sal dus ’n baie goeie middel tot hierdie doel wees. Uiteraard sien ek nie hoe dit die beoogde uitkomste sal hê as ons tieners 80% van hulle inhoud ontvang en tyd spandeer by die ateïste en ander gelowiges en 20% by ons nie.

As ek hiervan ’n beginsel kan maak vir ons teologiese opleiding: ek dink ‘blootstelling aan verskillende oortuigings’ is krities belangrik, maar moet ’n gekontroleerde middel tot ’n doel wees, ons is immers ’n belydeniskerk. Iemand het iewers vir my gesê: “jou menswees is grotendeels ’n samestelling van die vyf persone met wie jy die meeste tyd spandeer” (mooi in lyn met 1 Kor 15:33), dus: waar en met wie en met watter oortuigings jy die meeste tyd spandeer, gaan jou uiteindelik die meeste vorm.

KB: Marais noem ’n ding wat gaan oor die idee om eerder met as oor mense te praat binne die kerk. Hoekom dink jy is dit soms moeilik vir verskillende strominge in die NG Kerk om mekaar te hoor?

DD: Ons praat en luister in sommige gevalle vanuit totaal verskillende verstaansraamwerke en dus wêreldbeelde. Dit is soos iemand gesê het: ‘om dieselfde woorde te gebruik maar totaal verskillende woordeboeke.’

KB: Raak dit – in jou ervaring – makliker of moeiliker met goed soos YouTube-kanale en sosiale media?

DD: Ja – dis ’n seën en ’n vloek.

KB: Enige laaste opmerking wat jy by kykers van die video wil laat?

DD: Soos ek aan die begin van die video sê: my en ander se betoog is nie dat ALLES in die kerk en teologiese opleiding onskriftuurlik of Godsonterend is nie – maar dat sekere kritiese elemente daarvan wel is en dit het ’n groot reikwydte. Kyk gerus hierdie video en ander soortgelyke met dit in gedagte.

Word 'n vriend van Kerkbode

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.