Pelgrims bring wedersydse verryking by gemeentes
’n Dominee vertel onlangs van ’n seuntjie wat sy pa vir twee goed vra: ’n mikroskoop én ’n teleskoop. Slegs ’n blik op die oneindig kleine asook die eindeloos grote naghemel sal hierdie soekertjie bevredig, hoor ’n mens in daardie treffende wenslys.
’n Soortgelyke kreatiewe spanning lê in Erns Grundling se manier van reis: Heeltyd gerig na nuwe einders (Elders!) … Maar ook indagtig – teenwoordig. In ’n onlangse episode van Elders: Tuinroete plant Grundling ’n boom. Staan teen ’n heining met ’n boer en gesels. Dan vat hy weer pad. Daar’s ’n rustelose totruskoms wat homself vanaand hier op verrassend boeiende wyse uitspeel op kykNET, dink hierdie kyker.

Kykers van die vorige seisoene van die SAFTA-bekroonde Elders-reeks sal die “drill” ken. Grundling sit sy pelgrimshoed op en stap ’n pelgrimspad. In hierdie geval is dit Die Pelgrimstog van Hoop se nuwe roete deur die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete. Grundling stap van Uniondale tot Mosselbaai. Stappers lê die sowat 274 km gewoonlik in 14 dae af, volgens die bemarkingsmateriaal vir die nuwe reeks.
Dit is nog vroeg in die reeks van 13 episodes (Maandae om 20:00), en lesers mag onthou dat Kerkbode getuie by ’n recce van die roete was toe dit verlede jaar geskep en begin bemark is deur onder andere ’n dominee van Herold. Dit is gemik op mense vir wie stap ’n spirituele komponent het; of dalk moet ’n mens sê mense vir wie spiritualiteit ’n stapkomponent het.

Waar het die idee van ’n Tuinroete-been van die gevestigde Pelgrimstog van Hoop (deur die Overberg tot by Kaap Agulhas) vandaan gekom? Reeds vier, vyf jaar gelede het Herold-gemeente tydens Pinkster dienste begin hou by “wykskerke” in die omgewing, vertel ds Nothnagel. “Op die ou end het ons na sewe kerke gekyk, wat mense vroeër gebruik het toe hulle nie voertuie gehad het nie, en omdat hulle sowat 20 km uitmekaar is, wou ons dit die Sewe-kerk-Camino noem en dan van kerkie tot kerkie stap.”
Die idee het uitgebrei. Nou is daar glads ’n TV-reeks en Nothnagel is nie die enigste dominee met ’n kameerol daarin nie. “Ek is mos baie gemakliker in my bekende ruimte op die preekstoel met ’n goed voorbereide preek voor my,” vertel ds Petrus Carstens van die gemeente op Uniondale oor sy saamstap en verskyning in die reeks. “Tot dusver kry ek baie positiewe terugvoer van die dorpenaars. Hulle is baie tevrede oor die dekking wat die dorp gekry het en dat dit die dorp in ’n baie positiewe lig gestel het … (Die Elders-span) doen sulke goeie werk om die verborge skatte van die platteland te laat glinster en te deel met so baie ander,” meen Carstens.
Ek kyk weliswaar deur die lens van ’n jarelange vriendskap met Grundling, maar ek dink ’n mens sal ondanks ’n magdom bekwame onderhoudvoerders wat in Afrikaans in hierdie medium werk, sukkel om iemand te kry wat op meer natuurlike wyse twee vaardighede op die skerm verenig: Grundling se natuurlike aanleg vir convenor speel – om mense in te nooi en die gesprekke saam te snoer tot narratief. Hy het dit onlangs op die verhoog gedoen met Drie Kaalkoppe Kuier Tesame (’n show met hom, Koos Kombuis en Dana Snyman), en in hierdie, sy jongste TV-reeks, kry hy dit weer reg om die landskap waarin Elders: Tuinroete afspeel, te bevolk en animeer met gaste en locals.

Die tweede vaardigheid is die vars en goed geraamde kort-onderhoud. Met mense soos Babs en haar man Chrisjan van Rooyen, wat aan die buitewyke van Knysnabos gesels oor kettingsae en selfone. En Katot Meyer se gedistilleerde omgewingsvisie. (Dis hy wat wat vir Grundling ’n boom in die hand stop).
Lees ook: Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk
Ek vra vir ds Carstens, wat ’n paar jaar gelede self ’n bielie van ’n staptog aangepak het, uit oor die verskil vir hom tussen ’n pelgrimstog en wandelroete. “Gewone staproetes is hoofsaaklik om die natuur te geniet en weg te kom van die stad. Die fokus vir die moeiliker bergroetes is ook meer van ’n fisieke uitdaging. Die verskil is dat die Tuinroete Pelgrimstog van Hoop ’n sterker geestelike of geloofskarakter het.


Die ander groot verskil is die fokus op die mense op die pad, wat jy raakloop en wat jou gasvry ontvang en vir jou kosmaak. Die Tuinroete Pelgrimstog begin met pelgrimspsalm en seëngebed vanuit NG Gem Uniondale, ’n Christelike labarint op die dorp en die roete volg dan NG Herold se buitekerkies, asook die huidige gemeente van Herold se kerkgebou self. Verder aan doen jy aan by NG Moedergemeente George, NG Outeniqualand-gemeente en sluit af met ’n nagmaal in NG Moedergemeente Mosselbaai. Daar is ook twee prominente kruise op pad waarby jy kan stilstaan. Hoewel jy in ’n groep stap word elkeen ruimte gegun om in stilte in sy of haar eie geestelike spasie in te beweeg. Elkeen het mos sy/haar innerlike geestelike reis waaraan aandag gegee kan word op hierdie roete. Natuurlik word daar wasgoedjies gewas, rooiwyn en koffie gedrink en ook oor die algemeen baie gelag en gesels en gedeel met mekaar op die pad. Baie raad word gegee oor blase op die voete en omgegee oor ’n seer knie of een of ander spier wat styf is of trek,” vertel Carstens.
Hierdie leraar se eie staptog van vroeër was, tesame met sy vrou Malvena, om iets spesiaals te doen vir lidmate “wat swaar trek met die droogte”. Die gevolg was ’n staptog van plaas tot plaas – in Desember. “Ons het die twee wyke waar dit die ergste was uitgesoek en ’n vyf-dag staptog beplan – 125km!
Nothnagel meen die pelgrimsroete verryk hulle dorp (Herold) en gemeente se “gemeentestorie” in die sin dat pelgrims nou op gereelde basis deur die dorp stap. “Ons kry soveel positiewe input, maar ook hulle lewenservaring wat (stappers) deel. So ons kyk terug en sê elke ete, elke gesels met hierdie pelgrims is eintlik lewensverrykend.”
Elders: Tuinroete draai Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Vir meer oor die roete kliek HIER.
