Die NG Gemeente Herold naby George in die Suid-Kaap het vanjaar iets nuuts tydens Pinkstertyd gedoen. Hulle het ’n Pelgrims-Pinksterstap van ses dae in die Langkloof gehou en Hugenote Kollege se ‘pelgrimsprof” Nico de Klerk saamgenooi. Hy deel sy belewenis.
Ek het die mense van Herhold-gemeente ontmoet toe ek daar was tydens ’n onlangse TV-opname in die berge bokant George saam met die joernalis en skrywer Erns Grundling van KykNet se program Elders. Twee weke later kom die uitnodiging van ds Gert Nothnagel om Pinkster in hulle gemeente te hou in die vorm van ’n pelgrimstap op ’n gedeelte van die Pelgrimstog van Hoop-staproete wat in Uniondale begin. (Die roete is verlede jaar bekendgestel. Lees meer daaroor in: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek. Red.)
Dit het die Sondag begin met die erediens. Daarna het ons elke dag so gemiddeld 20 km gestap tot by die volgende kerkie, alles binne die grense van die gemeente.
Elke dag stap mense van die gemeente saam, dié wat kan, wanneer hulle kan en hoe ver hulle kan. Geen reëls, mag’s of moenie’s nie. Net menswees in die natuur: die profeet.
Ek het al baie keer gelees die natuur word beskryf as God se profeet, die eerste en belangrikste profeet. Die name St Franciskus (van Assisi, Middeleeuse priester), Carl Jung (Switserse sielkundige) en Rumi (Persiese digter) kom by my op … hulle het die natuur so beklemtoon vir die mens. As God se profeet.
Maar dit is asof ek dit nie ingeneem het nie. En skielik kom die insig soos ’n bom wat ontplof! Ek kyk nou anders na die natuur. Die natuur het vir my lewendig geword soos ’n lewende profeet in my tyd! Soos te wagte, is dit nou ’n ander storie as ek “my profeet” besoek.

Nou die ding van ’n profeet is, “jy word nooit in jou eie land erken nie”. Maak vrede daarmee. So die profeet – dit is nou die natuur – praat, preek en sing vir ons maar ons is net gewone mense wat lag, gesels en kuier. Kort-kort is daar ’n tafel langs die pad of eetgoed word gebring. Die oornagplekke is op gewone plase waar voorheen meestal gifsmouse miskien besoekers was maar nou kook dit. Die opstalmense het nou herbergiers geword in die ware sin van die woord, of sal ek sê, in die ou tradisie. Elke aand hou ons ’n diens net soos op die Camino de Santiago in Spanje.
Ek staan met ’n oop mond voor die Kammanassieberge terwyl gemeentemense my wys waar is dit en dat, onder andere die Mannetjiesberg wat die hoogste piek is. ’n Klomp stories word gedeel oor ervarings in die of daai kloof terwyl die reeks oop lê voor ons. Die energieke gees, amper ’n opgewonde-om-deel-te-wees-ingesteldheid wat ek beleef het tussen Herhold se mense, het my laat voel, dit is mos hoe Pinkster moet wees! Jy weet, met “brandende harte” soos die mense van Emmaus.
Gewoonlik wanneer my brein so besig raak met ’n rieldans, gaan ek iewers sit en probeer alles vereenvoudig tot een woord sodat ek self iets kan verstaan. So sit ek tydens die Pinksterstap op ’n klip en verstom my hoe die omgewing elke dag verander. ’n Mens kan maar probeer, maar jy kan nooit die natuur beskryf in woorde nie.
Die vraag kom toe by my op: Wat is dit wat die natuur en ’n pelgimstog so ’n gedugte kombinasie maak? Ek eindig toe met die woord, “ontsluit”. Die effek van natuur en pelgrimstog maak dinge los, heel, nuut, duidelik, sigbaar, tasbaar, vry, met ander woorde, dit ontsluit in jou wat ookal nodig is om ontsluit te word.
In die natuur word daar gespreek, maar nooit word dit op jou afgedwing nie. Nee, jy hoor en later besef jy wat jy gehoor het. Die “later” is tog meestal die werk van die Gees. Wanneer dit vir jou goed is.
In my kop woel dit tot nou toe. Mens en natuur, mens en natuur, en ek wonder hoekom het dit my so lank gevat om te besef ek hoef nie net te lees van profete nie … Nee, ek kan nou my eie lewende profeet gaan besoek net wanneer ek wil. As jy my nie glo nie kan jy enige pelgrim gaan vra en dié sal bevestig, die natuur praat. So byvoorbeeld fluister die natuur in my oor terwyl ek weg ry ná die tweede Sondagdiens, “Nico, jy het nie Pinkster kom hou nie, jy het Pinkster kom kry in Herhold.”
- Dr Nico de Klerk bied ’n aanlyn kortkursus in pelgrimsteologie by Hugenote Kollege aan. E-pos hom by nico@streetbiz.co.za.
