Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

In Suid-Afrika is daar nou verskeie camino-opsies en pelgrimstogte. Hoekom díe gewildheid? Karlien Becker het ondersoek ingestel.
Die gewilde Pelgrimstog van Hoop kry 'n nuwe been met ‘buitekerkies’ langs van Uniondale tot Mosselbaai. Foto: Le Roux Schoeman

Nuwe roete vir gewilde pelgrimstog: Geloof, hoop en roosterkoek


’n Groep plattelandse NG lidmate werk nou saam met die breër landbougemeenskap langs die Tuinroete om ’n meerdaagse staproete te vestig. Sal dit ’n pelgrimsroete word? Le Roux Schoeman doen verslag.


Met ’n sterk wind van voor en die oggend se roosterkoek net ’n vae herinnering was die rooihoedpelgrims verlig om met hulle onlangse staptog die plaas Joncksrus op die Kliprivierpad in die Langkloof te sien.

Maar kwalik meer verlig as wat Pierre Joubert op ’n bewolkte dag in 1955 was toe hy die einste plaas vanuit sy straalvliegtuigvenster gewaar het.

Joubert het hier ’n noodlanding in ’n koringland uitgevoer toe sy Vampire 225 se petrol bo die Kammanasieberge opgeraak het.

Leon Jonck teken die pelgrims se “paspoorte” die oggend van hulle vertrek om te bewys hulle het onder sy dak oorgeslaap op die plaas waar ’n lugmagvlieënier eens ’n minder elegante landing moes maak. Foto: Le Roux Schoeman
Só het die Vampire in die koerantuitknipsels gelyk. Leon Jonck meen die verslaggewer het verkeerdelik berig dat dit ’n mielie- eerder as koringland was waarin die noodlanding plaasgevind het.

Joubert was ’n luitenant in die Suid-Afrikaanse Lugmag en sy onverwagse besoek aan Joncksrus het ’n jaar voor Leon Jonck gebore is plaasgevind. Tog gesels dié boer tot vandag geesdriftig en in haarfyn besonderhede oor die voorval wat duidelik deel is van trotse oorlewering en sommer van die hele kleurvolle mitologie van hierdie volop-storie-wêreld tussen Uniondale en Knysna.

Terwyl Joubert se kordaatstuk in die koringland destyds die voorblad van Die Landstem gehaal het, het die rooihoedpelgrims se roete en stappery darem die George Herald se webblad gehaal … Die nuus was ietwat minder dramaties. Bloot dat ’n aantal stappers kom kyk of hulle saamstem met ’n plaaslike dominee dat die Tuinroete-omgewing ’n nuwe been van die gevestigde Pelgrimstog van Hoop sou kon word.

Laasgenoemde stuur al jare pelgrims van Stellenbosch na die suidpunt van die vasteland via meer of minder bekende paaie asook klein dorpies en kerkies met ’n aanmoedigende sêding wat al iets van ’n mantra geword het: Solank jy hoop, sal jy loop …

Hoekom nie nuwe roete vir pelgrimstog in Tuinroete nie?

So, hoekom kan ’n mens nie ’n pelgrimsroete ook in hierdie mooi deel van die land skep nie? wou ds Gert Nothnagel en van sy lidmate by NG gemeente Herold buite George so ’n paar jaar gelede weet. Covid het planne in hibernasie gedwing, maar ’n sterk netwerk medewerkers het die idee laat voortleef en ’n stap- en oorslaapplan is nou op die been. “Dis vir ons te lekker om te weet dit is ’n roete waar plaaslike inwoners (betrek word). Die huise waar (stappers) eet, die huise waar hulle bly … dit is deel van die ervaring. Buiten die pragtige passe waardeur jy stap,” het Nothnagel aan Kerkbode verduidelik.

Ds Gert Nothnagel is een van die dryfkragte agter die nuwe pelgrimsroete en het vir groot dele saamgestap met die afvaardiging wat einde Junie en begin Julie gestap het tot by Mosselbaai se punt. Foto: Le Roux Schoeman

Nes vele plattelandse gemeentes in soortgelyke situasies, het die gemeente waar Nothnagel werk ook ’n aantal sogenaamde “buitekerkies” wat dateer uit die dae toe vervoer vanaf afgeleë plase selfs nog meer van ’n uitdaging was. Een gemeente se dienste word dus op verskeie plekke gehou om lidmate die rit na een sentrale punt te spaar. Vele van hierdie kerkgeboue is pragtig in stand gehou en word selfs hier en daar omskep om veeldoelig te wees.

Buitekerkies op nuwe staproete

Herold self mag nie veel van ’n sakekern hê nie, maar hy vergoed daarvoor met nie minder nie as sewe sulke kerkgeboutjies, vertel Nothnagel. Die pelgrimstogidee het uitgebrei van bloot ’n staptog na al die kerkies tot by die punt waar pelgrims nou genooi word om te voet van Uniondale na die St Blaize-vuurtoring by Mosselbaai te reis en wel met iets van ’n pelgrimsingesteldheid eerder as ’n gewone toeriste- of verbruikersmentaliteit.

Jy kyk na ’n totaal van sowat 240 km oor ten minste 10 dae. Of meer akkuraat: Dit was die konsepstap wat die rooihoedpelgrimsgroep genooi is om ’n soort “stress test” te kom gee die slag toe hulle onder andere by die Joncks en hulle koringland kom aandoen het. Want reg langs die koringland waar daar eens ’n Vampire neergestryk het, staan een van Herold-gemeente se mooi buitekerkies.

Die kerkie op die spogplaas Louvain. Foto: Le Roux Schoeman
Die eindpunt? Hoewel die roete tans by St Blaize-vuurtoring by Mosselbaai eindig, is daar sprake van verder stap … rigting Suidpunt van Afrika. Foto: Le Roux Schoeman

Hierdie deel van die Langkloof buk onder groendroogte (vir die ongeoefende oog lyk die veld beter as wat boer en dier weet die geval is). En hierdie kerkie is steeds ’n plek van toevlug vir lidmate soos Leon en sy familie.

Maar wie is hierdie rooihoede en wat maak hulle bekwaam om ’n pelgrimsroete te “beoordeel”?

Wat is die Pelgrimstog van Hoop?

In September 2020 het Kerkbode so berig oor die Pelgrimstog van Hoop … “Dis ’n pelgrimsroete soortgelyk aan die Camino in Spanje (maar nie ’n na-apery nie) wat op verskeie punte begin in die Wes-Kaap en eindig by die mees suidelike punt en vuurtoring by Kaap Agulhas. Die roete is uitgelê deur die teoloog Frederick Marais van Communitas (gesetel by die Kweekskool op Stellenbosch) nadat hy en ’n paar kollegas die eerste keer in Oktober 2014 gestap het van Robertson tot by Kaap Agulhas.

Die roete begin deesdae óf op Robertson óf op Stellenbosch (binnekort ook van Wellington en Kaappunt) en strek deur die Kaapse Wynlande en Overberg, langs die oudste kerke in Suid-Afrika en deur gemeenskappe soos Pniël, Genadendal, Baardskeerdersbos en Elim. Van die bekende dorpe langs die roete sluit in Franschhoek, Villiersdorp, Hermanus en Gansbaai. As jy van Stellenbosch af stap is die afstand sowat 320 km en die meeste pelgrims lê dit binne 16 dae af (soms ’n dag of drie langer as jy korter afstande stap).”

Die man wat die storie so knap hierbo uitlê is Erns Grundling, ’n joernalis en skrywer wat die roete en vele verhale langs die pad aan ’n breë Afrikaanse publiek bekendgestel het deur die staptog vir kykNET te dokumenteer as die reeks getiteld Elders: Pelgrimstog van Hoop wat steeds op Showmax te siene is.

Lees ook meer oor die Pelgrimstog van Hoop se nuutste staproete: Nuwe staproete is ‘slegs vir almal’ | Pelgrimstog van Hoop se nuwe ‘been’ van Mosselbaai tot Kaap Agulhas

Grundling en Marais het saam dagboek skoongemaak, stewels gepak en die laaste naweek in Junie by ds Petrus Carstens van Uniondale ingeklok vir ’n stewige stapsessie. By hulle was nog stapgenote en diepsiele wat die pas moes help hou en probeer raadgee aan plaaslike gesinne wat belangstel om gasheer te speel vir hierdie nuutjie wat stappers na ongewone plekke soos Noll en Zebra neem – ver van die N2 en bekende toeriste-gate.

Erns Grundling en Frederick Marais was deel van die tweede groep stappers wat ’n nuwe roete in die Suid-Kaap gaan stap het om te “toets” of dit in hulle pelgrimsopinie sou kon deel word van die Pelgrimstog van Hoop-netwerk wat reeds stappers van Stellenbosch na die suidpunt van Afrika stuur. Hier staan hulle voor die Kammanassieberge in ligte luim tydens die staptog wat tien dae geduur het. Foto: Le Roux Schoeman

’n Tipiese toneel lyk so: Hier kom die stappers kort na sonop in stilte aangestap met die stowwerige helling van Prins Alfredpas (Prince Alfred’s Pass) tussen Avontuur en ’n klein nedersetting met die ewe lekker naam van De Vlugt wat teen die Keurboomsrivier lê. Hier het Thomas Bain ’n tyd lank gewoon en behoorlik gewoeker. “The pass is Thomas Bain’s opus magnum – a work of monumental proportions carried out with rudimentary equipment and convict labour, but with science, ingenuity and Bain’s ‘can do’ attitude making it all possible,” lees ’n nuuskierige later op https://www.mountainpassessouthafrica.co.za.

Thomas Bain en moedige handlangers se klipwerk in die ellelange Prins Afredpas verstom tot vandag. Foto: Le Roux Schoeman

Die vorige dag het ds Carstens die stappers nog met ’n rits smal leertjies by “sy” kerktoring opgevat om Uniondale vanuit ’n hoogte te aanskou. Maar vandag is dit woud benede en langs die stofpad die pas se reuse-klippe so presies gepak soos antieke toebroodjies in ’n kosmiese kosblik wat die aandag boei. “Bain constructed 29 passes mainly in the Cape colony in his lifetime. This pass epitomises all of his unique touches, but especially his exceptional dry walling method of construction,” meen die pasentoesiaswebwerf.

Die vorige aand se volmaan wat oor die Langkloof se berge verskyn het, was reeds weg en na ’n kort oggendmeditasiegeleentheid het ’n uurlange stilstap gevolg; wat ook die gebruik sou word vir al tien van die groep se stapdae.

Marais, wat al die Camino in Spanje gestap het, verduidelik meer: “’n Pelgrimstog is ’n ander soort stap. Dit is ’n innerlike reis. Jy maak jouself oop vir wat met jou aan die gebeur is. Baie keer stap mense om ’n seisoen af te sluit … om uit te vind wat is volgende. Of miskien om iets af te lê.”

Ondanks die hoë konsentrasie dominees in hierdie spesifieke groepie is dit kennelik vir enige een wat stapfiks is en/of met ’n soort letterlike en innerlike wandellus, hoor ’n mens by Marais. “Een van ons kollegas (die teoloog) John de Gruchy praat van die ‘monastic moment’. Hy dink wêreldwyd is daar die behoefte vir mense om stadiger te leef. Meer volhoubaar te leef. Meer nadenkend te beleef. Dis al hierdie soort goed wat in ’n pelgrimstog ingesluit word … ons koppel dit beslis aan geestelike verdieping.”

By NG Kerk Outeniqualand naby George het leraar en span sommer ’n ete vlak voor die kansel vir die pelgrims berei. Foto: Le Roux Schoeman

En die eenvormige breërandhoede wat so uitstaan teen die vaal omgewing? Kan dit herlei word na Alchemiste se idee van die moeisame gang van swart na wit na rooi – van gebrek aan insig na kennis na wysheid wat transformeer eerder as bloot inlig?

Nee wat, Marais het sommer destyds ’n rooi lewensredderhoed by sy dogter geleen toe hy begin stap het en die idee het ge-stick! Dis ’n grounded spul stappers hierdie wat ook in die NG Kerk ’n minder breedsprakige spiritualiteit verteenwoordig. En hoewel hulle dalk eksplisiet nie hier in die Langkloof en Kammanasie die Alchemiste se Rubedo (rooi!) kom najaag nie, is daar ook die ding wat enige leunstoel-Jungiaan sal opval: naamlik dis die uniform van elkeen wat ’n rooi hoed moet dra, wat uiteindelik toelaat dat elkeen ook maar sy eie alleenpad kan kom stap.

En self moet kies of hy/sy nou hom/haar steeds gaan oorgee aan welke kompulsiewe gedrag en komplekse hom/haar tot hier gebring het. Die ou indagtigheidswaarheid van ‘Wherever you go, there you are’ volg ’n mens soos die spookmeisie van Uniondale. En nie net oor Paasnaweek nie.

Puik verblyf en lekker kos

Die verblyf is deurgaans uiters gerieflik en gasvryheid is waarskynlik die roete se grootste natuurlike bate naas die feit dat roetebeplanners dit so bewimpel het dat daar selde indien ooit langs ’n teerpad gestap word.

Die meeste gasteplase is dik gekonfyt met alles van mense onthaal tot roosterkoeke, volstruisfillets of wildsbiltong en koffie voorsit op die perfekte oomblik. Plase soos Louvain is in eie reg beroemde trou- en verblyfvenues, waar oorslaaphaltes soos die pragtige Buffelsdrift jou die geleentheid bied om in ’n gerestoureerde kerkgebou te slaap en sommer langsaan te braai en die uitgebreide plase rondom jou te sien donker word onder ’n sterrehemel.

Roosterkoek was van die gewildste en mees praktiese padkos langs die nuwe roete. Hier smul stappers aan “Miesie” Josephs se baksel op die plaas Louvain in die Langkloof. Foto: Le Roux Schoeman
Caroline “Miesie” Josephs het die pelgrims gul ontvang. Foto: Le Roux Schoeman

Hoewel daar heelwat stapwerk is, het stappers natuurlik min werk. Net die Out of Office Replies werk hard terwyl die rooihoede sommige dae meer as 25 km moes aflê om die eindpunt te bereik.

Indien die onderskeid getref word tussen aktiewe en passiewe ontspanning, sou ’n mens wou sê stilstap is iets tussen daardie twee wêrelde. Niksdoen is dit nie. Maar jy’s ook nie binne bereik nie. Selfoonsein en tyding oor die algemeen is taamlik beperk. So wat gebeur met ’n mens langs so ’n pad wanneer niks gebeur nie?

Grundling het ’n hele boek daaroor geskryf. Elders – My 1 025 km te voet langs die Camino is sy storie oor kerkpaaie stap in Europa sonder ’n selfoon. Hierdie keer was sy selfoon saam, maar hy klink vol hoop vir die krag van enige soort variasie op die Camino-ervaring.

“Ek is baie opgewonde oor die potensiaal van hierdie spesifieke roete (in die Tuinroete). Die skofte is aan die lang kant, maar die terrein is baie stapvriendelik. Jy stap 95%, 98% van die tyd op grondpaaie, plaaspaaie, agterpaaie. Jy is ver weg van karre wat verbyry. Dis stil en die landskap is meesleurend – veral die Bo-Langkloof voel soos ’n onontdekte deel van die land,” meen Grundling.

Hy vertel van Caroline “Miesie” Josephs se roosterkoeke wat sy een oggend aan stappers in haar voortuin op die plaas Louvain bedien het. “Daardie kontak met die plaaslike gemeenskappe is waaroor hierdie pelgrimstog ook gaan.”

Grundling sê die nuwe pelgrimstog deel in daardie opsig die “etos” van die Pelgrimstog van Hoop. Hy sonder ook die Khoisan-rotskuns uit. Van die sogenaamde Karoomeerminne, wat een van die besienswaardighede by ’n oorhang langs ’n rietkuil was waar die oorblufde stappers na fyn sketse teen ’n rotswand kon staar van half vis, half mens hier in ’n streek wat steeds weens droogte steier.

Die landbougemeenskap se gasvryheid was op volle vertoon met die pelgrims se besoek aan Weeber en Tina Truter van die plaas Trutersdal. Foto: Le Roux Schoeman
Die fyn en raaiselagtige rotskuns het die stappers lank besig gehou.

Natuurlik is die roete nie die Camino of selfs ’n “camino” nie. Dis veel minder én veel meer. Jy stap immers deur platteland Suid-Afrika … hierdie reënboogkruitvat van ons waar selfs Uniondale se strate op ’n helder oggend vol vullis van diensleweringsprotes kan lê. Waar krepeer en floreer dikwels straataf van mekaar woon en waar die oplossing vir ooglopende strukturele ongelykheid die wysheid van Salomo verg en ook die kerk kan raadop laat.

As daar daardie dag minder wolke was en luitenant Joubert meer petrol in sy Vampire gehad het, sou hy jou waarskynlik kon vertel hoe aangrypend mooi hierdie deel van die land ook uit die hoogte is. Maar padlangs onthou ’n mens mikro-interaksies.

’n Gul gebaar van verwelkoming, ’n koddige gehuiwer voor ’n elmbooggroet of ’n lawwe grap langs ’n oop vuur. Of dalk oogkontak wat ’n oomblik te lank en vraend talm en probeer uitvis wat die pelgrim dan hierdie lang stappe kom laat stap. Of dalk meer nog: of stap werklik help vir iets in die siel? En of genoeg treë wel genesing bring?


  • Hierdie staproete is nog onder ontwikkeling.
  • Vir meer inligting oor dié staproete, kontak ds Gert Nothnagel by gardenroutewalk@gmail.com. Of besoek https://pelgrimstogvanhoop.com/
No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.